Logo

Huldeblyk aan Johannes Kerkorrel word op kykNET uitgesaai

Nuus
09 November 2022
In Kerkorrel: 20 jaar later word daar gekyk na die impak wat Johannes Kerkorrel op die kultuurwêreld in Suid-Afrika gemaak het.
Johannes Kerkorrel huldeblyk

’n Huldeblyk oor die lewe en loopbaan van Johannes Kerkorrel word op 13 November om 20:30 op kykNET uitgesaai. Die uitsending merk die herdenking van sy dood 20 jaar gelede, op 12 November 2002, ’n gebeurtenis wat skokgolwe deur die land gestuur het. ’n Suid-Afrikaanse ikoon wat ons te vroeg verlaat het.

In Kerkorrel: 20 jaar later word daar gekyk na die impak wat hy op die kultuurwêreld in Suid-Afrika en spesifiek op Afrikaanse musiek gemaak het en waarom mense twee dekades ná sy dood hom steeds huldig. 

“Terwyl ek verlede jaar ’n dokumentêr oor Koos du Plessis gemaak het, het ek baie na Kerkorrel se opnames van Koos Doep se liedjies geluister,” sê Niel van Deventer, vervaardiger en regisseur van Kerkorrel: 20 jaar later.

“Ek het skielik besef dit is vanjaar 20 jaar sedert Kerkorrel se selfdood. Soos met Koos, voel ek dat daar kort ná hulle dood dokumentêre huldeblyke gedoen is, maar niks wat die impak en hulle rolle in hulle eras in oënskou neem nie. Ek het dus vroeg hierdie jaar na sy seun Reuben uitgereik en toe ek en Waldimar Pelser, hoof van kykNET, in Junie ontmoet het ek dit aan hom genoem. Hy het dadelik die meriete van die projek ingesien en ek is dankbaar dat Palama Productions dit saam met kykNET kon aanpak.”

Benewens Reuben wat oor sy pa praat, is ander bekendes in die dokumentêr te sien, insluitende Amanda Strydom, Karen Meiring, Stef Bos en Valiant Swart. Willem Möller en Jannie Hanepoot van Tonder, wat saam met Kerkorrel - wat as Ralph John Rabie op 27 Maart 1960 in Johannesburg gebore is - in die Gereformeerde Blues Band was, deel ook hulle herinneringe. 

“Ons het ’n lang lys gehad van mense met wie ons wou gesels, maar ons moes dit noodgedwonge korter maak om alles in ’n uur te pas,” verduidelik Niel. “Op die ou end het ons gepoog om met soveel moontlik mense wat na aan hom in die verskillende tye van sy lewe was, te gesels en ek dink ons het dit reggekry.”

Niel dink Kerkorrel, wat as joernalis gewerk het voor hy bekendheid as sanger en liedjieskrywer behaal het, se grootste nalantenskap is die saadjie wat hy by Afrikaners geplant het om vrae te vra. “As jy kyk na baie van die grootste helde in die geveg op die oomblik teen staatskaping, sal jy sien dis Afrikaanse joernaliste. Ouens wat hul tande in daardie era of net daarna geslyp het. Dis sy politiese nalatenskap. As kunstenaar sal dit sy liedjies wees soos “Hillbrow”, “Hoe ek voel” en “Halala Afrika”. Absoluut tydloos.”

Hoekom is dit belangrik dat mense soos Kerkorrel se lewens gedokumenteer word? 

“Want die mensdom is geneig om bitter vinnig te vergeet en dan foute te herhaal,” sê Niel. “Mense vergeet heeltemal (of het selfs nooit geweet nie) hoe baie hierdie ouens persoonlik moes opoffer om te doen wat hulle het. Mense vergeet ook maklik hoe beklemmend die ‘goeie ou dae’ was en dan hunker hulle weer daarna en dan is haat en verdeeldheid ’n uitvloeisel daarvan. Dis nou natuurlik derhalwe die feit dat hy ’n bitter talentvolle sanger en liedjieskrywer was.”

Kerkorrel: 20 jaar later word op 13 November om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.