Logo
Wat dit vat – Slim
web uni tv guide

Wat Dit Vat: Met Loki Rothman

144Realiteit13 L

Het Loki Rothman Wat Dit Vat om ’n popster te maak?

Nuus
17 September 2021
Wat Dit Vat begin 4 Oktober 2021 om 20:30 net op kykNET, DStv-kanaal 144.
Wat dit vat logo

Ons ken vir Loki Rothman as ’n kitaarvirtuoos en musiekvervaardiger, maar het hy die vaardighede om ’n doodgewone ou of meisie in Suid-Afrika se nuutste popsensasie te verander?

Eers het dit begin met ’n Instagram-inskrywing. En nou probeer Loki hierdie sosiale eksperiment op nasionale televisie.

kykNET se nuwe realiteitsreeks Wat Dit Vat begin 4 Oktober 2021 om 20:30 en beloof hope pret en vermaak.

Loki het vroeër die jaar ’n video gedeel op sosiale media waar hy sy volgelinge gevra het of hulle dink hy moet sy jarelange vriend Pieter-Niel Muller in ’n popster verander.

Die terugvoer was toe so oorweldigend dat Loki sy volgelinge saam op ’n reis vat waar hy Pieter-Niel van logistieke bestuurder na popster verander. En nie lank daarna nie, is ’n televisieprogram daaruit gebore!

Nou is Loki tesame met die vervaardigers van die program, besig om drie Jan Allemans met net genoeg talent om ’n noot te hou, te omskep in ’n ster. Loki het deelnemers op sy Instagram gevra om in te skryf vir die program.

Hy het drie liedjieskrywers, Early B, Appel en Hunter Kennedy gevra om vir elk van die drie deelnemers ’n liedjie te skryf wat Loki dan help vervaardig.

“Ek daag myself uit as musiekvervaardiger met hierdie eksperiment waar ons kyk of ons enige persoon ongeag van talent of looks in ’n popster te kan verander. Ek is in die diepkant gegooi om die aanbieder ook te wees van die program. Dis ’n eerste vir my, maar dis ’n lekker uitdaging. Ek glo sterk ’n mens groei nooit as jy in jou gemaksone bly nie. So hier’s ek nou van kitaarspeler na op jou kassie,” skerts Loki.

Vervaardiger Jaco Nothnagel verduidelik dat die drie deelnemers deur die hele proses gevat word – van die eerste keer in ’n studio tot die beplanning van hul nuwe look.

“Ons raadpleeg kenners in verskeie gebiede. Willem Botha kom neem vir ons die perfekte publisiteitsfoto’s, Katinka die Kat gesels met hulle oor die belangrikheid van sosiale media en natuurlik die lirieke en liedjie self,” vertel Jaco.

Elk van die deelnemers kry hul eie musiekvideo wat in die laaste episode van die reeks uitgesaai word.

Loki gesels ook op Zoom met verskeie bekendes in die bedryf en vra eenvoudig: “Wat vat dit om ’n popster te maak?”. Hierdie kenners gee ook advies uit persoonlike ervaring oor verskeie onderwerpe wat dan deurgans gevleg word met die inhoud van die program. 

Van die bekende gesigte na wie kykers kan uitsien is Arno Carstens, Leah, Francois van Coke, Elandré, David Kramer, Kurt Darren en Riana Nel.

"Wat hierdie program uniek maak is dat dit ook die sluier lig in terme van wat dit vat om ’n goeie liedjie te vervaardig. Spoiler alert: Dit vat baie werk! Ek het self só baie geleer oor die musiekbedryf in die vervaardiging van die program en ek dink kykers kan vars, heerlike, insiggewende vermaak verwag op ’n Maandagaand! Ons kon nie vir beter deelnemers gevra het nie, ek dink hulle elkeen gaan die land se hart steel op hulle eie manier," sê Jaco.

Wat Dit Vat begin 4 Oktober 2021 om 20:30 net op kykNET, DStv-kanaal 144.