Logo

Graskop: Wanneer die bewaarders nie meer bewaar nie – Onthul

Nuus
26 Julie 2023
"Graskop: Voertsek, polisie!" is die vierde ondersoekende nuusdokumentêr in die Onthul-reeks en word op 6 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Onthul Graskop Article Image

Ons lewe in ’n land waar korrupsie en misdaad aan die orde van die dag is. Maar wat gebeur wanneer dié wat ons veilig moet hou, dit nie meer doen nie? Dit was die geval in Mei vanjaar toe die toeristemekka Graskop deur ’n bende oorval is en die polisie net hulle hande in die lug gegooi het.

Stel jou voor: Jy woon in een van die gewildste toeristedorpe in Suid-Afrika, maar in die vroeë oggendure slaan ’n bende toe en versper nie net al die roetes na die dorp nie, maar gaan op ’n strooptog. Winkels word geplunder, plofstof word gebruik om kluise oop te skiet en ’n veiligheidswag word aangerand. En die polisie? Hulle sluit hulle self in die polisiestasie toe.

Graskop: Voertsek, polisie! is die vierde ondersoekende nuusdokumentêr in die Onthul-reeks en word op 6 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dié dokkie laat die soeklig op hierdie skriknag val en daar word, onder meer, gekyk na die redes hoekom die polisie in hulle afwesigheid geskitter het toe die dorp hulle die nodigste gehad het.

Die uitwerking wat hierdie nagmerrie op die inwoners van die dorp gehad het en die verdeeldheid wat dit onder hulle veroorsaak het, word ook onder die loep geneem. Een groep het uitgepraat en lawaai gemaak oor die stand van polisiëring in die dorp en het so ver gegaan as om die stasiebevelvoerder weg te jaag. ’n Ander groep het gevoel dié optrede is te radikaal en dat dit die dorp se reputasie skade sou berokken.

Polisie- en misdaadkenners, soos die bekende voormalige polisiekaptein Ben Booysen, prof. Rudolph Zinn en Gideon Jones, deel hul insigte oor sistemiese gebreke binne die polisie. Die teenkant word gestel deur brigadier Selvy Mohlala, die provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga. Die polisievakbond Popcru se Richard Mamabolo verduidelik ook hoe hy die saak sien. Botsende perspektiewe word belig, met sommige kenners wat meen misdaad kan nie altyd aan sosio-ekonomiese faktore toegeskryf word nie, en ander wat sê mense betree die polisiediens net vir ’n salaris en nie noodwendig omdat hulle dit as ’n roeping beskou nie.

Gebrekkige polisiedienste kring egter wyer uit as net onvoldoende misdaadbekamping. Vir ’n dorpie wat staatmaak op inkomste van toerisme, het die rowerbende se strooptog ’n verlies van inkomste tot gevolg gehad. Sal die dorp kan herstel, of is sy beeld onherroeplik beskadig? Van die kenners meen die gemeenskap moet hande vat met die polisie, maar hoe doen ’n mens dit as vertroue in hierdie noodsaaklike diens keer op keer geskend is? Dan is daar die groter konteks waarin die polisie hulle werk moet doen. Infrastruktuur wat verkrummel, veral in die platteland, skep uiters uitdagende omstandighede vir die polisie. Sonder krag is strate snags in donkerte gehul en paaie vol slaggate veroorsaak dat polisievoertuie lank neem om by ’n misdaadtoneel uit te kom. Die vlakke van gemeenskappe se frustrasie is hoog en dit skep ’n gevaarlike klimaat en plofbare situasies.

Die onrusbarende waarheid is dat elke dorp in Suid-Afrika se storie tans soortgelyk aan dié van Graskop is.

  • Graskop: Voertsek, polisie! word op 6 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.