Logo
Lat wiel SP BB
web uni tv guide

La't Wiel

144MotorsportPG13 L

Goeie nuus! kykNET se La’t wiel kom gooi weer ’n wilde draai

Nuus
19 September 2023
Die La't wiel-aanbieders gaan vir jou ’n lekker mengsel van alledaagse rygoed tot spoggerige weeldemotors wys.
La't wiel aanbieders

Wat kan dan nou beter wees as ’n 28ste seisoen van hierdie gewilde motorprogram wat jare lank reeds toegewyde petrolkoppe en motorgeesdriftiges op die hoogte van motorsake hou? ’n 29ste seisoen, natuurlik.

Dié nuwe seisoen belowe hoë-oktaanvermaak, wat jou gereeld sal verbaas en soms gaan verbyster met ’n blits soos die baie gesogte BMW XM wat jou R3,4 miljoen uit die sak kan jaag, mits jy dit in die hande kan kry. Hierdie vuurwa, die kragtigste produksiemotor uit BMW se stal, kan 0-100km/h in 4,3 sekondes haal. En dan ’n heerlike saamkuier met die bekendste “Supervan” van alle tye, die legendariese Sarel van der Merwe.

Later in die reeks speel ’n Italiaanse liefdesverhaal af met Alfa Romeo se Stelvio-sportnutsmotor. Daar is ook ’n ontmoeting met ’n superslim BMW wat haar lyf TV-aanbieder hou.

Jy moet baie seker maak jy’s goed vasgegordel wanneer die nuwe reeks afskop, want hierdie gaan ’n opwindende rit wees met hope wysheid en avontuur daarby.

Kykers kan uitsien na ’n lekker mengsel van alledaagse rygoed tot peperduur en spoggerige weeldemotors. Daar word ook na ’n string bakkies gekyk, waaronder die nuutste Volkswagen Amarok, wat sy gene met die Ford Ranger deel.

Hannes Visser, een van La’t wiel se deurwinterde aanbieders, vertel dat die eerste episode in Maart 2004 sy buiging gemaak het met hom en Francois Rautenbach as die eerste aanbieders.

“Ons trek al naby aan 540 episodes,” vertel hy en voeg by dat La’t wiel op die vooraand van sy 20ste verjaardag staan.

Een van Hannes se mede-aanbieders is weer Waldo van der Waal, ’n gesoute motorjoernalis. Waldo het bykans 30 jaar se ervaring en ’n groot passie vir motors en motorsport. Die afgelope tien jaar is hy baie nou by die Dakar-tydrenne betrokke.

Die akteur André Weideman is ook weer deel van die motorsports as ’n gasaanbieder. Hy sal, soos in die vorige seisoene, insette vanuit die Kaap lewer.

Hannes skryf La’t wiel se sukses daaraan toe dat dit steeds die enigste toegewyde Afrikaanse motorprogram op TV is.

“Ons is dankbaar dat ons kykers na soveel jare steeds lojaal is en dat kykNET en natuurlik ons borg, We Buy Cars, dit vir ons moontlik maak om te doen.

“Die onderwerp is motors, maar ons praat daaroor in alledaagse taal en raak nie te tegnies nie. Vir kykers kan dit vinnig vervelig raak,” sê Hannes, vandaar die vermaaklike trant wat deel van elke episode is.

“En buiten om goeie en eerlike joernalistiek aan die dag te lê, glo ons dit moet ook mooi wees vir die kykers. So, ons doen werklik baie moeite met die verfilming asook die plekke waar ons skiet,” vertel hy.

La’t wiel begin op 3 Oktober 2023 om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.