Logo

Free State by internasionale rolprentfeeste vertoon

Nuus
08 Maart 2016
Die plaaslik vervaardigde historiese drama Free State hou tans Suid-Afrika se naam hoog by rolprentfeeste wêreldwyd.
Free State Deon en Nicola

Die plaaslik vervaardigde historiese drama Free State hou tans Suid-Afrika se naam hoog by rolprentfeeste wêreldwyd.

Ná die rolprent se internasionale première by die Kolhapur International Film Festival in Desember 2015, is dit by die Chennai International Film Festival, die Bangalore International Film Festival, die Sangli International Film Festival en die Pan African Film Festival in Los Angeles vertoon.

Sallas de Jager, die regisseur en skrywer van Free State, het op 23 Maart 2016 die toekenning vir beste regie by die Luxor-rolprentfees in Egipte ontvang.

Free State sal ook by die Garden State Film Festival in die VSA vertoon word, voordat dit na Vancouver, Kanada, gaan en dan die Cameroon International Film Festival.

“Ons het dit vreeslik geniet om hierdie rolprent na feesgehore te neem en is oorweldig deur die terugvoer wat ons ontvang het,” sê De Jager. “Free State is nie ’n groot prent nie, maar het ’n geweldige impak op die gehore by die onderskeie feeste gemaak, en dit is vir enige filmmaker ’n groot kompliment.”

Free State is saam deur De Jager se Bosbok Ses Films en Utkarsh Entertainment aangepak, in samewerking met die Indiese produksiemaatskappy, Parnam Entertainment.

Die voormalige supermodel Nicola Breytenbach en die gewese Mnr. Suid-Afrika Andrew Govender het die hoofrolle vertolk, terwyl van die land se bekendste en mees geliefde akteurs deel van die rolverdeling was, soos Leleti Khumalo (Sarafina, Yesterday), Deon Lotz (Roepman, Skoonheid) en Rolanda Marais (Wolwedans in die Skemer, Ballade vir ’n Enkeling). Boonop maak die Marathi- en Bollywood-ster Mangesh Desai sy eerste internasionale verskyning in Free State.

Free State speel af in Suid-Afrika in die 1970’s en vertel die storie van Jeanette (Breytenbach), ’n pragtige, oopkop regsstudent. Tydens haar somervakansie in die Vrystaat saam met haar pa, ontmoet sy ’n aantreklike Indiërman, Ravi (Govender), wat toevallig oor haar pad kom toe hy ’n goeie daad doen en ’n liefdesverhouding ontstaan tussen hulle. Al word sy gewaarsku om nie aan haar gevoelens toe te gee nie, besluit Jeanette om wel ’n geheime verhouding met Ravi te hê. Wanneer hulle verhouding op die lappe kom, lei dit tot vreeslike tragiese gebeure.

Hierdie rolprent ontgin nuwe terreine omdat dit die eerste rolprent is wat in Suid-Afrika sowel as Indië, met behulp van die produksiemaatskappy Utkarsh Entertainment en die vervaardiger, Rajiv Terwadkar, uitgereik word.

Free State word deur Times Media Films versprei en sal vanaf 27 April 2016 landwyd in teaters wys.