Logo
In die ysterhand se greep slim BB
web uni tv guide

In Die Ysterhand Se Greep

145Telenovela13 VL

Frazer Barry: Stories bring ons nader aan mekaar

Nuus
26 Februarie 2022
Ons het met Frazer Barry gesels oor die inspirasie agter #OmmiGhellie en meer!
Capture

Waar lê jou eie wortels?

Ek is in Kleinmond gebore en is nog deur ’n vroedvrou gevang – Ant Meraai, my ouma se suster. Al my familie is in daardie omgewing, die Overberg en Overstrand. Ek is baie gelukkig om te bly in ’n plek met die see aan die een kant en die berg aan die ander kant en met twee riviere – die Palmietrivier en die Botrivier. Dis my omgewing en my mense. Daar is ’n baie ryk geskiedenis daar.

Musiek is ’n groot deel van jou lewe. Waar kom hierdie talent vandaan?

Jy weet, ek het op ’n baie jong ouderdom hierdie ervaring gehad en besef ek is ’n komponis. Ek was seker so vyf jaar oud, nog voor ek kon lees of skryf, en in my ouma se kombuis waar die radio gespeel het. Dit was net asof ek die musiek kon hóór. Ek kan onthou ek het buite toe gestap en gewonder waar hierdie note in my kop vandaan kom. Toe reeds het ek begin musiek skryf. Ek het ook grootgeraak tussen musikante. My ooms is almal kitaarspelers en het oral oor – van kerke tot vir entertainment – gespeel en ek het neefs wat saksofoon en bekfluitjie speel. Dit loop dik in die familie.

Waar het die idee vir Ommieghellie vandaan gekom?

Dit is ‘n gesprek wat al lank kom. Francois Nolte van Green Planet Productions en Ricardo Arendse het gepraat oor al hierdie stories wat om ’n ghellie gepraat word. Daar is sterk kulturele verwysings romdom daardii vuur en die meeste van ons mense ken ’n ghellie. Ons eerste gewaarwording van teater kom inderwaarheid van kom van om ’n ghellie.

Jy is ’n baie gemaklike aanbieder. Het jy ooit gedink dit is hoe jou pad gaan loop?

Nee, nee. Die groot ding vir my is dat ek daarvan hou om na mense te luister en ek is baie nuuskierig. Ek dink elke mens het ’n storie. Dit het natuurlik vir my gekom, maar daar is ’n voorbereiding wat mense nie aldag sien nie. Ek het baie gas-aanbieding gedoen en geleer om voor mense te praat. Jy moet gemaklik in jou eie lyf te wees. As jy self gemaklik is, sal die ander mense ook gemaklik wees. Mense voel dit aan. Ek probeer net myself wees en die hoop is dat dit oorkom. Mense grawe diep in hulle eie lewens in en daarom moet hulle gemaklik wees voor die kameras. Ek is bevoorreg om daardie stories te hoor. Dit maak mens ryker om te weet jy is nie alleen in die ding nie.

Jy het nog altyd ‘n hart vir die gemeenskap gehad. Wat is die grootste uitdagings wat ons as Suid-Afrikaners het?

Sjoe, daar is so baie, maar daar is plekke waar mens kan begin. Mens het ’n manier om te kyk hoekom dinge nié werk nie en daarop te fokus. Somtyds is die goed wat wel werk nie die goed wat aandag kry nie. Daar is soveel mense, en daar is baie van hulle, wat nog hoop en nie terugsit nie. Ons moet van daardie mense weet. Daar is al soveel wat ons in hierdie land bereik het. Ja, daar is ’n paar steps wat ons teruggegee het en nie vorentoe gegaan het nie, maar baie plekke waar ons gegroei het. Ons leer mekaar stadig maar seker beter ken, maar ons maak nie doelbewustelike pogings om as Suid-Afrikaners saam te wees nie. Ons kan beslis meer doen. Ons moet mekaar se kulture en sub-kulture leer ken. Ons moet leer van mekaar en oor mekaar. Dit is wat ons land vorentoe gaan vat. Gelukkig doen ons kinders dit. Die ou skop moet nou finaal sink en die nuwe generasie moet ons deurtrek. Ek het hoop.

Met wie sal jy graag ‘n onderhoud wil voer?

Met Katrina Esau, die laaste spreker van die San-taal N/uu. Dit sal cool wees.

Wat is jou hoop met die program?

Dat ons beslis aan Suid-Afrikaners kan wys hoe gewone mense, wat nie altyd dekking in die media kry nie, goeie goed in hulle gemeenskappe doen. Ons word armer as ons nie mekaar se stories hoor nie. Ek hoop mense sien hulleself in die program; dat hulle sien daar is ’n veilige plek vir mense om hulle stories te vertel en dat elkeen se storie ewe belangrik is.

Skakel elke Vrydag om 19:30 in vir #OmmiGhellie op kanaal 145.