Logo
web uni tv guide

Ommighellie

145KultuurPG13

OmmiGhellie met Frazer Barry terug vir ’n tweede seisoen

Nuus
25 September 2023
Frazer Barry sê die tweede seisoen van "OmmiGhellie" gaan mense laat glimlag en nog meer lief vir die land maak.
Frazer Barry

Ons stories. Ons volkskatte. Ons erfenis. Dít is waaroor dit vir Frazer Barry in OmmiGhellie gaan, wat na kykNET&kie terugkeer vir ’n tweede seisoen.

“Ek is ’n boorling van Kleinmond in die Wes-Kaap, maar ons hele land lê vol van die stories en erfenis wat nodig is om gedeel te word,” sê Frazer. “Met die eerste seisoen van OmmiGhellie het ons dalk te diep gedelf en was daar ’n hele paar stories wat mense hard geslaan het, maar hierdie keer het ons nie net daardie stories nie. Ons het ook stories wat mense gaan laat glimlag en net nog meer lief vir die land gaan maak.”

Frazer is lank reeds ’n voorstander van Suid-Afrika se erfenis en sal alles in sy vermoë doen om dit te bewaar. “Met die maak van die tweede seisoen het ek net weer gesien hoe dinge soos, byvoorbeeld, die rieldans beskerm moet word. Die mense wat die musiek geskryf het, die danspassies uitgewerk het en die blikviole gemaak het, word al ouer. As ’n jonger geslag nie nóú gaan inspring nie, gaan dit moontlik vir altyd verlore raak.”

Vir hierdie seisoen is daar weer van die Noord-Kaap tot die Weskus agter mense en hulle stories aangery.

“Soos met die vorige seisoen, was hierdie weer ’n baie natuurlike verloop van sake,” sê Frazer. “Soms het ons ’n besoek voor die tyd gereël; ander kere het ons die mense verras met ons aankoms. Só het ons by ’n man, ’n voormalige soldaat, gekuier wat deesdae snoek droog vir ’n lewe. Dit is hoe mens by die werklike hart van mense se stories uitkom.”

Frazer, wat ook een van die aanbieders van Fiësta is, sê vir hom is Suid-Afrika se prag en praal nie noodwendig ons wonderskone natuur nie, maar die mense wat hier woon.

“Suid-Afrikaners, álle Suid-Afrikaners, is wat ons land maak wat dit is. Die natuurskoon is net ’n bonus,” sê hy. “En watter bonus is dit nie!”

Van stilsit weet hy nie veel nie. So tussen die TV-werk, is hy ook musikant, skrywer en regisseur, en hy staan nooit terug om in sy Kleinmond-gemeenskap hand uit te steek om te help nie. In Oktober is hy en sy vrou, Deniel Barry, deel van Lipkap se Tongklap: ’n Rymkletskabaret, wat by die Toyota US Woordfees te sien is, en einde November is dit tyd vir die Festival voor het Afrikaans, wat vanjaar in Den Haag plaasvind.

“Ek sal Suid-Afrika nooit vir niks verruil nie,” sê Frazer. “Hier lê my wortels en hier is die stories wat vertel moet word en die musiek wat gemaak moet word. Dis ’n voorreg om terug te wees met nog ’n seisoen van OmmiGhellie – om weer met die mense te gaan praat wat nie altyd ’n stem het nie.”

Die nuwe seisoen van OmmiGhellie begin op Vrydag 6 Oktober om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.