Logo

Fluiters: Nuwe Opperman-speurdrama eersdaags op kykNET

Nuus
12 Maart 2016
’n Splinternuwe speurdrama uit die pen van die veelbekroonde Deon Opperman, Fluiters, sal kykNETters vanaf April 2016 vasgenael voor die kassie hou.
Fluiters Nuus Feature

’n Splinternuwe speurdrama uit die pen van die veelbekroonde, immergewilde Deon Opperman sal kykNETters vanaf April 2016 vasgenael voor die kassie hou. Jozua Malherbe is die talentvolle regisseur.

Fluiters, ’n eerste van sy soort, voer kykers weg na ’n wêreld wat hulle nog nooit gesien het nie; ’n onderwêreld wat hulle saam met die protagoniste ervaar en moet leer ken; ’n verraderlike net van intrige wat die helde dwing om diep in hulle eie lewens te gaan soek na die krag, vindingrykheid en moed om te oorleef.

Die rolverdeling sluit verskeie bekende name en gesoute akteurs in, soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Jacques Bessenger, Marisa Drummond, Neels van Jaarsveld, Kim Syster, Fezile Mpela en Wayne van Rooyen.

Ontmoet die karakters hier.

M-Net se direkteur van Afrikaanse Kanale, Karen Meiring, sê kykNET sien uit na die reeks. “Ons probeer deurentyd ‘n verskeidenheid van genres aan ons kykers te bied om ons eie unieke stories te bly vertel.”

Dié reeks handel oor ’n suksesvolle IT-onderneming, wat deur ’n korrupte regeringsamptenaar gekelder word, maar besluit om dit nie daar te laat nie. Hulle slaan terug in die naam van geregtigheid deur ’n sogenaamde SecureDrop-webwerf te skep, waar fluiters bewyse van korrupsie kan lek sonder dat hulle identiteit verklap word.

Alles verloop glad volgens plan totdat hulle ’n dokument ontvang van iemand wat die skuilnaam “LEKMAN “gebruik. In hierdie dokument kry hulle die eerste snuf in die neus van ’n sameswering op die hoogste vlakke tussen twee korrupte agente van die Suid Afrikaanse State Security Agency (SSA), politici en agente van ISIS – ’n sameswering met die doelwit om uraan in Suid Afrika tot wapengraad te verryk vir uitvoer na die Midde-Ooste.



Om hierdie doelwit te bereik word ’n Afrikaner-wetenskaplike – in vroeër jare lid van die span wetenskaplikes wat in samewerking met Israel se Mossad vir die Apartheid-regering se kernwapentuigprogram gewerk het, en wat weet waar die swaaimasjiene (centrifuges) nog diep in ’n kelder onder die grond verborge lê – ingespan om die projek te lei. Maar wat selfs die korrupte SSA-agente en ander antagoniste nie weet nie, is dat hierdie wetenskaplike planne van sy eie vir die verrykte uraan het.

En só word ons groepie helde ingesleep by ’n internasionale komplot wat hom hier, op eie bodem, afspeel. Vriendskappe, lojaliteite, liefdesverhoudings en uithouvermoë word tot die uiterste beproef soos die strop al hoe nouer om hulle vastrek in die onbekende skaduwêreld van spioenasie, politiese en korporatiewe korrupsie, sluipmoorde, internasionale terrorisme en die donker wêreld van die deep web.

“Alle webwerwe en navorsing waarna verwys word, is waar en kan opgesoek word,” sê Opperman.

Kykers kan dus uitsien na ’n riller van ’n speurverhaal wat gevaarlik naby aan die werklikheid beweeg.

Kyk hier na die voorskou:



Fluiters, slegs op kykNET, vanaf 12 April 2016 – DStv-kanaal 144.