Logo

fliekNET: Spesiale fliekkanaal vir die somervakansie

Nuus
06 November 2015
kykNET sê weereens baie dankie aan al sy lojale kykers met fliekNET, ’n spesiale fliekkanaal vir die somervakansie.
FliekNET

kykNET sê weereens baie dankie aan al sy lojale kykers met fliekNET, ’n spesiale fliekkanaal vir die somervakansie.

Hierdie groot Kers- en vakansiebonus vir alle kykNETters sal slegs vanaf 1 Desember 2015 tot 31 Januarie 2016 op die lug wees. Van die gewildste rolprente wat oor die jare in Afrikaans vervaardig is, sal in hierdie tyd op dié kanaal – fliekNET (DStv-kanaal 198) – vertoon word.

Daar is letterlik ’n fliek vir elke smaak, geleentheid en gemoedstoestand om die vakansie meer te vier.

Aksieprente soos Boetie gaan border toe, Boetie op maneuvers en Aanslag op Kariba sal die avontuurlustiges besig hou, terwyl komedies soos Lipstiek Dipstiek, Tolla is tops en lekkerlag-reekse soos Alie Barber en Munisipaliteit van Gwarra Gwarra vir die komiese verligting sal sorg.

Vir die ernstige dramakykers is daar rolprente soos Paljas en Fiela se Kind, terwyl die mense wat van musiekspele hou, kan uitsien na Jy is my liefling, Hoor my lied en Pretville. As jy ’n soettand vir romantiese komedies het, kan jy voor die kassie inskuif vir treffers soos Vrou soek boer, Fanie Fourie se lobola, Jimmy in pienk en Klein-Karoo.

Vir die jonges is daar onder meer Hoofmeisie en Khumba en vir diegene wat in ons filmgeskiedenis belangstel, is daar flieks soos Daar doer in die Bosveld, Katrina en Die bankrower asook die interessante dokumentêre reeks oor ons rolprentgeskiedenis – Daar doer in die fliek. Vir almal wat nostalgies voel oor flieks van die 70’s en 80’s, wys ons Lelik is my offer, Wat maak Oom Kallie daar?, Skelms, Die posman, Blink Stefaans, Liewe hemel, Genis!, Tant Ralie se losieshuis en vele meer.

En dan is daar ook die televisiereekse wat in speelfilms verwerk is soos Vyfster, Nommer asseblief? en Agter elke man.

Van die meer onlangse rolprente wat vertoon sal word, is Verraaiers, Faan se trein, Die wonderwerker, Die ballade van Robbie de Wee en Die spook van Uniondale.

Om kykers ’n aanduiding te gee van wat hulle elke dag op fliekNET kan verwag, word die week in temas verdeel: Maandag is dit tyd vir drama, Dinsdag vir romanse, Woensdag is daar weer drama, Donderdae kry komedie kans, Vrydae is dit aksie en rillers, Saterdag romanse en komedie, en op Sondae vier ons rolprentlegendes.

Nou’s daar dus nog ’n rede om uit te sien na die vakansie – fliekNET op kanaal 198 van DStv.

Met kykNET se fliekNET-geskenkkanaal het niemand ’n rede om verveeld te wees as hulle met Jan Tuisbly se karretjie vakansie hou of hul DStv-SIM-kaarte saamneem bosveld of see toe nie.

Klik hier vir die Desember-skedule.

Januarie se skedule volg binnekort.