Logo

Feestelike vermaak hierdie Desember

Nuus
26 November 2019
Ons vang die Desember-gees met 'n paar spesiale uitsendings.
Feestelike Vermaak in Desember

Die jaar staan einde se kant toe en dis uiteindelik tyd om ’n bietjie af te skakel. Die kykNET-kanale vang die gees van Kerstyd vas met ‘n paar spesiale uitsendings gedurende die feestyd, soos Christmas in July en André Rieu: Christmas Down Under: Live from Sydney.

Ons vier ook die begin van ’n nuwe jaar én dekade met Die Krone 6 konsert, sowel as Soweto String Quartet, Anton Goosen & vriende op Oujaarsaand. En, diegene wat graag hul geheue wil verfris, kan vir Sara se Geheim 2 op kykNET&kie inskakel, voor die splinternuwe Sara se Geheim 3 in Januarie op kykNET begin.

Bonjour Monsieur Brel
1 Desember 10:30 op kykNET en kykNET NOU!

Jannie du Toit sing Jacques Brel se liedjies in Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Brel se geniale beeldende skryfwerk kom na vore en is soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se operas, tydloos. Jannie word begelei deur Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon).


Camerata Tinta Barocca in konsert
8 Desember 11:30 op kykNET en kykNET NOU!

Die Kaapse barokorkes, Camerata Tinta Barocca, speel ’n program van gewilde barokwerke op outentieke 18de-eeuse instrumente.   

 

Ouverture: Messias
15 Desember 10:30 op kykNET en kykNET NOU!

Hierdie opwindende acapella-vertolking van Händel se Messias is by Aardklop 2010 in die Sanlam Ouditorium opgeneem. Die soliste is Hanli Stapela (sopraan), Minette Du Toit-Pearce (mezzo-alt), Siyabonga Maqungo (tenoor) en Rouel Beukes (bas). Die gebruiklike orkes word vervang met ’n vokale-ensemble van Anneke Visagie (sopraan), Mariette Labuschagne (mezzo), Heidi Edeling (alt), Fanie Fouche (tenoor) en Roelof Colyn (bas), en die enigste musiekinstrumente in die uitvoering is die clavinola (Charl du Plessis) en tjello (Susan Mouton). Die PUK-Koor met ad-hoc lede en die Nasionale Koorakademie is onder leiding van Prof. Awie van Wyk, en die musiek-regisseur is Janine Neethling.

1574762671 34 sara se geheim

Sara se Geheim 2
Begin 15 Desember 20:00

Maggie probeer steeds om haar gesin bymekaar te hou terwyl sy haar politieke loopbaan voortsit, maar die spanning in haar familie, sowel as haar donker geheim, maak hierdie ’n bykans onmoontlike uitdaging.

Sara doen haar bes om Johan by te staan, terwyl haar verhouding met Lizzie aan die kortste ent trek. Gadija probeer vir Lizzie wys dat Danny nie die man vir haar is nie, en die twee pak ’n avontuur van selfontdekking aan.

Dít alles terwyl die seuns van Astonia-huis moet man staan in die hof en die verhouding tussen Inge en Aiden sterk groei. Gaan die families van hierdie verhouding uitvind? Gaan Sanel en Ebert die stryd teen Alzheimers wen? Het Ricky die voorval oorleef? Hoe lank kan ’n mens jou geheime wegsteek?

LEES MEER HIER:  https://kyknet.dstv.com/nuus/sara-se-geheim-2-alles-wat-jy-moet-weet

 

Die Boekklub 2
Begin 21 Desember 20:00

Tom en die boekklub-lede beleef saam avonture en die karakters kruip diep in kykers se harte. Gaan Tom in Merweville bly? Kom Lily terug? Kyk saam om uit te vind.

1574763014 34 andre riu

André Rieu: Love in Maastricht
21 Desember 20:00 op kykNET
24 Desember 20:00 op kykNET NOU!

Maak gereed vir ’n konsert wat jou sal meevoer, met gewilde arias, soos ‘Nessun Dorma’, sowel as treffers, soos ‘Can’t Help Falling In Love’ en ‘You Raise Me Up’.

1574763269 34 christmas in july

Christmas in July
22 Desember 10:30 op kykNET en kykNET NOU!

Vier Kersfees met ballet en musiek. Met internasionale balletsterre soos Adiarys Almeida en Taras Domitro en ikoniese tonele word jy weggevoer na ’n pragtige Kersfees.

 

André Rieu: Christmas down under: Live from Sydney
24 Desember 21:00 op kykNET
25 Desember 20:00 op kykNET NOU!

Sluit by André Rieu aan vir ’n onvergeetlike aand van musiek en dans, met die wêreldklas sopranos, The Platin Tenors, wat saam hom optree. Dié opvoering is opgeneem by die Sydney Town Hall.

 

Groote Kerk: Kersuitsending
25 Desember 08:30 op kykNET&kie

’n Diens met Kersliedere vir die hele gesin om Kersfees saam te vier. Met die Filharmoniese Koor van Kaapstad, Stadskoor Tygerberg en Groote Kerk Kamerkoor.

 

Kiekies: Lucas se liedjies
29 Desember 10:30 op kykNET en kykNET NOU!

Jannie du Toit bied saam met die briljante musikant en sanger Thean ’n huldeblyk aan Lucas Maree. Hulle herontdek sy verbeeldingryke kyk na die lewe en laat die gehoor met persoonlike staaltjies iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

1574763567 34 krone

Die Krone 6 konsert
31 Desember 21:00 op kykNET
                               

Krone is die grootste saamsing konsert in Suid-Afrika, waar die gehoor die kans kry om die treffers van ons tyd te “bekroon” terwyl dit lewendig opgevoer word deur van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars. Hierdie byeenkoms is gevul met ononderbroke musiek van begin tot einde, waar oud en jonk vermaak word met al die treffers van ons tyd! Met kunstenaars, soos Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Elizma Theron, Brendan Peyper, Robbie Wessels, Elandré en Refentse.

 

Soweto String Quartet, Anton Goosen & vriende
31 Desember 21:30 op kykNET&kie

Madiba se gunsteling groep, die wêreldbekende Soweto String Quartet asook die Liedjieboer, Anton Goosen het onderskeidelik groot spore in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld getrap. Legendariese sangeres, Sonja Herholdt wie ’n lang musiekpad met die Liedjieboer stap; die veelbekroonde sangeres en televisie-aanbieder, Lynelle Kenned asook die talentvolle rymkletser, Early B kan ook gesien word in hierdie geskiedkundige optrede.

Vir die varste Afrikaanse vermaak en nuus, volg ons op Facebook, Twitter en Instagram.