Logo
Fiesta Slim BB
web uni tv guide

Fiësta

144VermaakPG

Feestelike Fiësta is terug!

Nuus
01 Desember 2020
Fiësta, een van die langdurigste programme op kykNET, is terug op die lug.
Fiesta 1600x640

Sedert dit in Maart 2000 die eerste keer uitgesaai is, het die Fiësta-span elke moontlike fees in Suid-Afrika, en selfs ‘n paar in die buiteland, besoek.

Op 4 Januarie, en soos oudergewoonte op ‘n Maandagaand, maak Fiësta ‘n terugkeer met die span wat weer die land gaan deurkruis op soek na feestelikheid.

Frazer Barry en Lundi Khoisan is twee van die nuwe aanbieders. Frazer, ook bekend as musikant en voorsanger van die groep Tribal Echo, het reeds verskeie toekennings en benoemings ingeryg vir produksies waarin hy betrokke was – van musiek tot die skryf van tekste.

Lundi is oorspronklik van Wellington in die Boland en is onder meer ‘n radio-aanbieder, ‘n lektor in radio- en TV-aanbieding aan die Universiteit van Pretoria en ‘n stemkunstenaar. “Om deel van die Fiësta-familie te wees, is ‘n droom wat waar geword het,” sê sy. “Dis ‘n groot eer en ek hoop om my liefde vir feeste aan kykNET-kykers oor te dra.”

Viljé Maritz is terug as ‘n Fiësta-aanbieder en sê hy is net so opgewonde om weer feeste by te woon. “Dit is asof daar ‘n leemte in my was toe ons nie hierdie jaar enige feeste kon bywoon nie. Ek wou deur die dak tot op die Fiësta-kassie spring toe ek hoor ons is terug!”

Franci Swanepoel, wat in die beginjare Fiësta se enigste aanbieder was, maak haar terugkeer. “Ek is gryser en wyser, maar nog lank nie uitgefees nie,” sê sy. Nog ‘n lid van die span is Edrien Erasmus wat so elke dan en wan gasaanbieder sal wees.

In die eerste episode besoek Frazer Teksmark wat deur die KKNK vir die vyfde keer by die Baxterteater in Kaapstad aangebied is. Teksmark is ‘n uitsonderlike geleentheid waar jong én gevestigde dramaturge die geleentheid kry om nuwe werk aan feesbestuurders voor te lê.

In die program op 11 Januarie besoek Viljé die Springfontein Sixes, ‘n jaarlikse kriekettoernooi wat op die plaas Prior Grange buite Springfontein in die Vrystaat gehou word. Op 18 Januarie maak Edrien ‘n draai by die Suidoosterfees se unieke inryteater by Atlantic Studios in Kaapstad waar daar feesproduksies op ‘n eiesoortige manier na feesgangers gebring is.

Lundi wys op 25 Januarie wat van deelnemers verwag is by Legend Runner, een van Suid-Afrika se grootste hindernisresiese, wat in die Paarl aangebied is.

Fiësta is Maandagaande op kykNET (kanaal 144 op DStv) om 20:30.