Logo

Familie-piekniek 2016 saam met Pieter Koen

Nuus
10 Mei 2016
Staan gereed, skryf solank die datum neer en bespreek sommer nou jou plek vir ’n onvergeetlike kuier saam met Pieter en vriende – die 2016 familie-piekniek saam met Pieter Koen.
Pieter Koen

Dit is ’n goeie 19 jaar sedert Pieter sy eerste album Run with me vrygestel en sy toetrede formeel tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gemaak het.

In April 2001 sluit hy as aanbieder van die destydse Kunskafee by kykNET aan en sederdien het hy ’n lang lys benoemings, ’n sak vol toekennings en ’n totaal van agt albums die lig laat sien.

In 2002 sluit hy aan as aanbieder by die program Kwêla, bied die gewilde Kwêla Funnies aan en is ook vir die afgelope vyf jaar die aanbieder van die gewilde musiekprogram Jukebox.

Om nog ’n jaar in die bedryf te vier wil Pieter graag weer iets spesiaal vir sy ondersteuners en vriende doen. “Ek is versot op mense, en watter beter en lekkerder manier is dit dan nie om dit saam met jou vriende te doen wat jou nog altyd ondersteun en bystaan.”

Volgens Pieter het die idee van ’n piekniek lank by hom gebroei en uiteindelik gestalte gekry in 2014. “Nou, in sy derde jaar en vanweë die gewildheid van dié piekniek, maak ons weer so!

“Ek is so bly dat mense tot dusver ingekoop het in my ‘kuier-gedagte’ – want dit is presies waaroor hierdie dag gaan, en hierdie jaar gaan ons selfs nog groter!” het Pieter gesê.

Dié jaar word daar hande gevat saam met die span van Monte de Dios in die ooste van Pretoria.

“My ondersteuningsnetwerk bly gesond en groei steeds hetsy wat die ondersteuning van kykers op kykNET aanbetref, of wat die ondersteuning aan my as kunstenaar betref – met dit alles in gedagte wil ek voortgaan om weer iets spesiaals vir hulle te doen.”

Staan gereed, skryf solank die datum neer en bespreek sommer nou jou plek vir ’n onvergeetlike kuier saam met Pieter en vriende!

Alles vind plaas op 31 Julie 2016 en vir meer inligting kan jy gerus op Pieter se webblad gaan inloer, sy sosiale media platforms dophou en ook gaan draai by iTickets.co.za.

Kaartjies beloop R100 per persoon en kinders onder 12 jaar oud kan gratis kom saamkuier.

Die dag gaan oor ’n piekniek, en hierdie jaar bring ons ook vir jou menigte kos- en wynstalletjies om van te kies om dit nie net nog lekkerder te maak nie, maar sommer ook makliker indien jy en die familie en vriende saam gaan kom kuier.

Vleispakkies sal te koop wees, braaivleisvure sal brand met al die nodige vir jou om self jou vleisie op die kole te gooi en natuurlik sal jy ook kan uitsien na ’n heerlike kuier saam met en optrede van Pieter en ook van sy vriende wat van die land se voorste kunstenaars insluit.

Daar gaan baie te doen wees vir oud en jonk en eie aan Pieter se aard gaan daar dalk net ’n verrassing of drie uit die hoed uit spring.

Vir navrae en besprekings, klik hier.