Logo

Episode 7: Nostalgiese herinneringe

Nuus
23 April 2015
Die Koekedore is so te sê by die halfpad-kerf, en hulle is opgewonde wanneer die beoordelaars dié week se tema aankondig: kinderpartytjies.
Ep.7-Opsomming-300x200

Die Koekedore is so te sê by die halfpad-kerf, en hulle is opgewonde wanneer die beoordelaars dié week se tema aankondig: kinderpartytjies.

Valerie se oë skiet vol trane. “Ek verlang verskriklik na my kinders,” sê sy. Mareli stem: “Jy raak nostalgies oor die huis en almal wat daar is.” Kinderpartytjies het die lus om te bak by haar aangewakker.

Hy is op sy senuwees, sê Murray, want om in die top-5 te kom is ’n hekkie wat hy graag wil oorkom.

Die tuisgebak-uitdaging is gemmerbrood-figuurtjies, en die temas wissel van see tot dieretuin. Die Koekedore gebruik hul eie familieresepte.



“Ek het goeie stamina opgebou vir die kompetisie,” sê Martjie. Terwyl sy bak is sy “eintlik nie hier nie,” sê Gerda. Sy word weggevoer na die see, waar sy met haar kleinkind in die sand speel.

Die windpomp inspireer hom die meeste, sê Gerrit. Hy moet ’n plaastoneel laat lewe kry. Martjie werk aan ’n safari-tema en Mareli aan ’n township-tema.

“Ek het so ’n bietjie van ’n bewe aan my,” sê Mareli terwyl sy besig is met die versierwerk.

In die fyngebak-uitdaging bak die Koekedore ystervarkies (of Lamingtons) in drie verskillende kleure. “As jou stroop te dun is, dan sit jy met ’n probleem,” sê beoordelaar Elizabeth. Die deelnemers moet juis háár klapper-lekkernye naboots.

“Jy kan nie veilig speel nie; jy moet rég speel,” sê Gerda. “Dit wat jy op die bord sit moet perfek wees,” sê Martjie. Sy maak ’n nuwe koekbeslag aan.

’n Kinderpartytjie is nie volmaak sonder ’n verjaardagkoek nie. In die pronkgebak-uitdaging is daar ses geliefde TV-karakters wat die Koekedore as inspirasie moet gebruik. Mareli trek Heidi, Valerie vir Pinnochio, Martjie vir Wielie-Walie, Gerrit vir Haas Das, Gerda vir Tjiff en Tjaff en Murray kry Liewe Heksie.

“Ek bak weer vandag in Cecilia se kombuis en haar tweede naam is Levinia,” sê Murray. “Levinia-heks, ons bak vandag vir jóú ’n koek.”

“Toe ek klein was het ek nogal gedink ek is Heidi,” sê Mareli. Hy het nog nie met fondant-versiersel gewerk nie, sê Gerrit.

“Sy lag soos die Kinderbybel-duiwel,” sê Mareli later oor haar Heidi. “Jy moet regop bly, hoor jy,” sê Martjie vir Wielie-Walie. Sy wens sy kon iets doen om Murray te help, sê Valerie. Kinders gaan dalk huil wanneer hulle sy eindproduk sien, meen Murray.

Een Koekedoor word as episode-wenner gekroon. Vandag dra Gerda dié kroon, maar Martjie het die beoordelaars ook beïndruk. Die deelnemers wat vandeesweek die wind van voor gekry het is Murray en Gerrit, en Murray word die vyfde Koekedoor om die kombuis te groet.

Fondant was toe die hekkie waaroor hy nie vandag kon spring nie, sê Murray. Koekedoor was “een van die beste ondervindings wat ek nog in my lewe gehad het.”

Kyk ons eksklusiewe onderhoud met Murray agter die skerms.