Logo

Episode 1: Welkom by Koekedoor!

Nuus
13 Maart 2015
Koekedore_resized-1024x688
Die soektog na die land se veelsydigste bakker begin. Tien deelnemers van regoor Suid-Afrika kom by ’n prag-kombuis in Tulbagh byeen.

Die spanning loop hoog en selfs méér so wanneer die deelnemers hoor hulle kom teen tien van die land se bak-persoonlikhede te staan. Soos te verwag, sit die kinkel vooraan die kabel, en moet die deelnemers nadere kennis maak met onder meer ’n aardse wortelkoek en ’n glutenvrye rumkoek.

Eerste aan die beurt is die bak-ghoeroes. Hierna moet die deelnemers hul spog-gebak naboots. Caroli van Sasolburg, die jongste deelnemer aan die kompetisie, moet Vicky Gurovitz, uitvoerende sjef van patisserie (fyngebak) by die Four Seasons Hotel The Westcliff in Johannesburg, se spesery-botterskorsie-gateau bak.

“Die moeilikste koek is gevat,” sê Mareli van Douglas. Sy trek die lootjie om Callie Maritz, kosstillis en eienaar van Cakebread in Kaapstad, se glutenvrye rumkoek te bak. Sy is verras toe sy haar gerysde koek uit die oond haal. Glutenvrye koeke is gewoonlik “plat goed,” sê sy.

Wie is die Koekedore (deel 1):



Martjie van Stellenbosch is verlig toe sy hoor sy gaan Jacques Erasmus, eienaar van die Hemelhuijs in Kaapstad, se amandel-laagkoek, ’n ou Franse resep, uitprobeer. Dié koek het ’n meringue-basis.

Jacques se skepping is egter nie vir sissies nie, meen Louise van Stellenbosch. Sy trek die bekroonde troukoekbakker Wade van der Merwe se “outydse” suurlemoen-en-papawerkoek. Brandewyn-skywe maak dié koek modern.

Katrien van Zyl, eienaar van Katrien’s Cakes in Kaapstad, se kersie-minikoekies met ’n kersie-ganache is die “laaste een wat ek wil hê,” sê Murray van Kleinmond. Hy verkies dit om groter koeke op te tower.

Tish van Jeffreysbaai is senuweeagtig wanneer sy Johnny Hamman, Kinkelkokwenner in Kokkedoor se tweede seisoen, se knoffel-tarte tatin met spek-en-eier-roomys trek.

Dis Valerie van Northcliff se taak om Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur, se aardse wortelkoek te bak. Wortelkoek was nog altyd dié gewildste koek in Huisgenoot se Wenresepte-reeks, vertel Carmen. “Koeke wat nié presies is nie is definitief ’n neiging, en dit pas my soos ’n handskoen,” sê sy.

Wie is die Koekedore (deel 2):



“As jy ’n goeie sjokoladekoek kan bak, kan jy die wêreld oorwin,” sê Herman Lensing, Sarie se bekroonde kosredakteur. Hy bak sy ouma se sjokoladekoek, met tuisgemaakte karamel, en versier dit met bladgoud. Gerda van Ermelo is bly toe sy dié koek moet bak.

Daleen van der Merwe, kosredakteur by Human & Rousseau-uitgewers, se spiraal-souttert word deur Gerrit van Parklands nageboots.

“Asseblief, brood, as jy breek, kráák tog net,” sê Cecilia van Somerset-Wes oor haar nabootsing van Fritz Schoon, eienaar van De Oude Bank Bakkerij in Stellenbosch, se kraakbrood. Dié brood is van ’n antieke soort koring gemaak. Vandag se koring het nie dié neutsmaak en soetheid nie, meen hy.

Hoewel nie een van die koekedore vandag huis toe gestuur word nie, stap die wenner van die uitdaging nogtans met ’n stoof, geborg deur Olive Pride, weg. Tish, Mareli en Gerda word deur die beoordelaars geprys, en Gerda word uiteindelik as die wenner aangewys.

Koekedoor is op Facebook en Twitter.