Logo
Die brug S1 Slim BB

En die wenner is … – Die brug

Nuus
04 Januarie 2024
Moenie verder lees as jy nog nie episode 11 gekyk het nie!
Die brug

Sabotasie. Roadkill. Verwoesting. Dit was van die woorde wat die oorblywende sewe spelers gebruik het toe hulle die tweedelaaste oggend wakker geword het en moes vasstel dat tien van die vlotte in die nag vernietig is.

Aan die einde van episode 10 het kykers gesien hoe Larry met ’n panga tien vlotte se toue afkap terwyl Melanie toekyk. In ruil vir dié verwoesting, het hulle elkeen R50 000 gekry. Die uiteindelike prysgeld het dus verder gekrimp tot R800 000, aangesien Geo en Robert reeds elkeen R50 000 in die sak gesteek het.

Die uitdaging vir die oorlewende spelers was dus om in twee dae nie net die tien vlotte weer te herbou nie, maar ook die res van die vlotte wat nodig is vir ’n wenner om uiteindelik oor die brug te kan stap en die wengeld op te eis.

Die span het geweldig hard gewerk, maar die agteraf gekonkel het nie opgehou nie. Geo het in almal se goeie boekies probeer kom, maar in ’n gesprek tussen Sam en Tina was dit duidelik dat hulle nie wou hê hy moet wen nie. “Die Geo’s van die wêreld is altyd die wenners,” het Sam gesê.

Die laaste dag was ’n wedloop teen tyd met fakkels wat teen die einde aangedui het hoeveel uur daar oor is, maar die span het met ’n geweldige eindpoging tog daarin geslaag om die brug betyds klaar te bou. By die houthuis het ’n verrassing vir hulle gewag wat steak, kaaskoek, bier en ander lekkernye ingesluit het. Die olifant in die vertrek was egter die groot keuse waarvoor almal gestaan het.

Geo het die laaste brief voorgelees: “Vandag gaan net een van julle oor die brug stap om die skat te vat. Wie is die mees waardige persoon? Wie verdien jou stem? Onthou, wie ook al die skat op die eiland vat, kan alleen besluit hoe om die geld te deel of nie. Jy mag nie vir jouself stem nie. Sterkte.”

William se idee van ’n paar dae vroeër is toe uitgevoer, en elkeen van die sewe spelers moes motiveer hoekom hulle verdien om die wenner te wees.

Van die spelers het gesê as hulle nie gekies word nie, sal hulle in elk geval saam met die wenner bly wees. Dit het ook duidelik geblyk dat deelname aan Die brug vir elkeen ’n lewensveranderende ervaring was. “Iemand met ’n verlede soos ek kon al dood gewees het,” het Sam gesê. “Dat ek hier is, is die reward.”

In die eerste ronde het Jacques vir Geo gestem, Robert vir William, Tina vir Iana, Iana vir Robert, William vir Sam, Sam vir William, en Geo vir Robert. Robert en William het dus twee

stemme elk ontvang, en almal behalwe hulle twee moes weer stem, maar hierdie keer net vir Robert of William.

Robert het uiteindelik drie stemme gekry – Iana, Geo en Jacques s’n. Tina en Sam het vir William gestem. Robert het oor die brug na die wengeld gestap, maar was tot die laaste oomblik onseker wat sy besluit gaan wees. Sy gesin het egter uiteindelik vir hom eerste gekom, en hy het besluit om die wengeld te hou, behalwe vir die R50 000 wat hy en Geo gekry het. Daardie R50 000 het hy aan William geskenk.

“Die Tina wat ek gesoek het, was nog altyd hier binne my,” het Tina oor haar ondervinding gesê. “Ek het geleer dat ek goed genoeg is,” het Sam gesê. “Ek is hartseer om te groet, en as ek die kans kry, sal ek dit weer doen,” was Iana se mening. William het gesê hy is trots op homself en die voorbeeld wat hy vir sy seun gestel het. “As jy net aanhou, sal jy aan die ander kant uitkom as wenner,” was die slotsom waartoe hy gekom het.

Episode 11 het tot ’n einde gekom met Robert wat weer, soos in die heel eerste episode, die woorde van C.J. Langenhoven aangehaal het:

Gee my ’n man
Wat sê wat waar is
As die duiwel daar is
Wat doen wat reg is
As die regter weg is
Wat trou by sy gewete bly
As hy straf in plaas van beloning kry.