Logo
Arendsvlei S6
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

'Ek lewe gebede wat beantwoord is' – Arendsvlei

Nuus
10 Oktober 2023
Ontmoet vir Chloe van Rooyen, die jong vrou agter die karakter “Alice” in Arendsvlei.
Chloe van rooyen

Die 23-jarige Chloe van Rooyen vertolk die rol van “Alice” wat paaie met Lennie 'Lightweight' Engelbrecht kruis, dit nadat hy uit Arendsvlei getrek het om van Eva te vergeet. Met ‘n baba in haar arms, het sommige kykers gevra: “Gaan Lennie nou ‘n ‘instant daddy’ word?”

Wie weet, is Alice dalk die ene wat vir Lennie (vertolk deur Dann Jaques Mouton) terug na Arendsvlei gaan dryf?

kykNET se digitale span het met Chloe gesels oor waar sy vandaan kom.

Vertel ons 'n bietjie meer van jou karakter op Arendsvlei.

Alice het ʼn baie rowwe lewe gehad. Sy moes haar hele lewe lank veg vir haarself en haar eie way vind. Natuurlik, maak nie saak hoe sterk iemand is nie, los die tipe dinge maar letsels en ek dink Alice het 'n knou weg as gevolg van die trauma. En omdat sy alleen moes groot word het sy 'n baie sagte plekkie vir kinders. Haar hart is op die regte plek, maar sy tree soms impulsief op.  Ek dink diep binne is sy maar net 'n klein dogtertjie wat smag na 'n familie en om onvoorwaardelike liefde te ervaar.

Wat kan jy vir ons vertel van jouself?

Ek is 'n boorling van Clanwilliam maar ek bly nou al amper 15 jaar in Citrusdal. Ek moet dit so antwoord want Clanwilliam se mense raak kwaad as ek sê ek is van Citrusdal, en Citrusdal se mense raak kwaad as ek sê ek is van Clanwilliam. Ek was van kleins af ʼn bietjie van 'n "performer". Alhoewel ek nie eintlik die "vocabulary" gehad het om te verstaan wat ek eintlik wou doen nie, het ek altyd geweet dat ek  daarvan hou om mense te vermaak. Soos ek ouer geword het en ek meer insig gekry het oor wat "acting" is, het dit toe vir my ʼn manier geword om myself uit te leef, stories te vertel en mense iets te laat voel. Ek is baie lief vir wat ek doen en ek is so dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om vir Alice te vertolk. "I'm definitely living answered prayers."

Toe ek dit (my oudisie) ingestuur het, het ek onmiddellik daarvan vergeet. Wat snaaks is want 'n mens sit en wag mos gewoonlik vir wanneer jy antwoord kry, maar ek het dit net oor gegee aan Jesus en uit my gedagtes gesny. So twee weke na die tyd kry ek 'n oproep van my agent om te sê ek het die rol gekry. Ek was omtrent buite myself van opgewondenheid, die mense in die winkel het nie verstaan wat nou met my aangaan nie. Maar ja, dit was 'n onwerklike gevoel.

Vertel ons in watter bekende produksies, of dit op TV was of teater waarvan jy al deel van was.

So Arendsvlei is my eerste keer op 'n tv-stel en dit was soos 'n nuwe wêreld wat vir my oop gegaan het.

Ek het soortvan in die bedryf begin met radio. Susan Beyers het my aanbeveel vir 'n radio drama vir RSG. Ek het iets soos vier lyne gehad, maar dit het die deure vir my oopgemaak. Na dit het ek die geleentheid gehad om nou al 'n paar keer met Anrich Herbst en 'n paar ander bekende gesigte in die radio ateljee te werk.

Ek is ook die aanbieder van Maandagaand Kompas op RSG. Ook, as jy onlangs Elif gekyk het sal jy my stem herken, ek het die rol van Reyhan vertolk.

Tydens my studies was ek betrokke by 'n paar verhoogproduksies waarvan 'At her feet' deur Nadia Davids een van hulle was. Daai produksie sal altyd 'n hoogtepunt van my loopbaan wees. Tiffani Dlamini en Mmatumisang Motsisi,wat die regisseurs was, het my so mooi ge-guide' met hierdie produksie en dit is waar ek geleer het wat dit beteken om jou alles te gee in jou werk.

Waarmee hou jy jouself besig buiten akteurswerk?

My radio-werk hou my redelik besig, maar as ek nie dit doen nie sal jy my altyd by die huis kry besig om tyd te spandeer met my ouers. Ek dink baie mense sal dit "weird" vind dat ek so baie tyd met hulle spandeer, maar hulle is regtig my beste vriende en ek geniet dit om tyd met hulle te spandeer. Of dit nou is om op ʼn Saterdag langs die rugbyveld te staan of om 'n bietjie uit te ry vir die dag of selfs net 'n "movie" te kyk. 

Wat geniet jy van Arendsvlei, en is daar 'n oomblik agter die skerms op die Arendsvlei-stel wat uitgestaan het vir jou?

Ek geniet die feit dat dit 'n "show" is oor onse mense. Waar ons mense en kulture ten toon gestel word, sonder om dit af te water. Wat vir my uitgestaan het agter die skerms was hoe besig dit is. Super besig, baie "moving parts, fast paced energy", maar steeds was almal so vriendelik en gaaf. Ek is maar 'n stres gevalletjie en baie angstig, maar toe ek eers gegroet word met vriendelike gesigte was ek dadelik op my gemak.

Arendsvlei is weeksdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).