Logo
Plaasjapie
web uni tv guide

Plaasjapie

144RealiteitPG13 L

‘Ek het gedink ek kan wen’ – Plaasjapie

Nuus
30 September 2022
Cecil, Esteban en Leo-Nene vertel wie van die deelnemers hulle dink sal nou ‘n plaas kan bestuur, oor hul lewe na Plaasjapie, en nog meer.
Plaasjapie Cecil Esteban Leo-Nene

Die voorlaaste episode van Plaasjapie seisoen een het beslis aan talle kykers se hartsnare getrek toe die top-vyf deelnemers tot hul uiterse beproef was. Dae voor die episode, het kykers meegedeel wie hulle dink gaan in die laaste episode (top-twee) meeding. Die bewonderaars van Cecil Haynie, Esteban van der Berg en Leo-Nene Rabe het gehoop vir ‘n goeie uitkoms vir hulle.

Hierdie drie het egter elkeen in verskillende rondtes verloor en moes met die miljoen rand in sig, die plaas groet. kykNET het met die drie gesels en saam met hulle teruggekyk na hul reis op Plaasjapie.

kykNET: Dink jy jy sal nou op ’n plaas kan bly?

Cecil: Ek dink ek sal op 'n plaas wil aftree. Alhoewel ek Plaasjapie-ervaring verskriklik baie geniet het, dink ek nie dat ek sommer gou op 'n plaas wil bly nie. Ek ‘salute’ elke boer en plaaswerker, want dit is vroeg opstaan, hard werk en laat gaan slaap. Ek sal vir nou maar net vakansie hou op 'n plaas - een week, tops.

Esteban: Ek dink ek sal op 'n plaas kan bly. Ek weet wel dat dit 'n groot taak is wat nooit tenvolle voltooi kan word nie.

Leo-Nene: Ek sal verseker op 'n plaas kan bly, solank daar internet opvangs is en die afstand dorp toe nie meer is as twee ure nie.

Hoe het dit gevoel om in die top-vyf te wees, so naby aan die miljoen-rand wen, en dan te verloor?

Cecil: Ek moet sê ek is trots op myself dat ek die top-vyf behaal het. As ek dink aan alles wat ons moes deurmaak om tot by daai punt uit te kom, dit was dit 'n “well done, but the job is not done yet” oomblik. Ek het geglo ek kan wen - nie omdat ek beter as die ander deelnemers was nie, maar omdat ek dwaas sou wees om 'n realiteitskompetisie soos die te doen en nie in myself te glo nie. Toe ek letterlik uit die kompetisie uitval, was daar geen spyt nie. Ja ek het nie die miljoen-rand gewen nie, maar ek het geweet my familie gaan trots wees dat ek elke dag my beste gegee het, en op die betrokke dag was my beste ongelukkig nie goed genoeg nie. And that’s fine; painful, but fine. 

Esteban: Ek het vanaf dag een af vir myself gesê dat ek die geleentheid het om hierdie geld te wen, maar dat dit ook nie aan my belowe is nie. Alhoewel ek so baie verandering in my lewe kon maak met die geld kan ek ook nie te lank hartseer wees daaroor nie. 

Leo-Nene: Aaklig! Dit het my twee weke gevat om oor die teleurstelling te kom; ek kan tot vandag toe nie verstaan hoekom daardie windpomp plaatjies nie wou pas nie! Ek is gewoonlik goed met legkaarte en boustukke, dus maak dit die verloor vir my erger. Ek het gedink ek kan wen.

Wat is die eerste ding wat jy wou doen en eet (maal) toe jy by die huis kom?

Cecil: Die eeste ding wat ek wou doen en gedoen het toe ek by die huis kom was om my kinders en vrou die langste en styfste drukkies te gee. Daarna het ek vir 'n uur lank in 'n 'disinfectant' bad gaan lê. Ek wou enige kos eet wat my vrou my gee. Niks klop tuisgemaakte kos nie, solank dit nie bully beef en baked beans was nie. 

Esteban: Die eerste ding wat ek wou doen toe ek by die huis kom was om 'n lekker vleisie op die kole te sit en in te neem wat die laaste drie weke gebeur het.

Leo-Nene: (Ek het) Cappuccino gedrink! En toe 'n lang bad gehad met treatment in my hare en ge-cuddle met my man.

Wat was vir jou die grootste uitdaging op Plaasjapie?

Cecil: Dit was om my verlange na my familie onder beheer te kry, dit was die eerste keer dat ek so lank weg van hulle was. Ek noem dit “the inner battles”. Dit was die grootste en swaarste. En dan die skape jaag. 😂

Esteban: My grootste uitdaging op Plaasjapie was toe ek spanne moes verander nadat ek vriendskappe en emosionele konneksies met Noubees gevorm het. Dit het gevoel asof ek hulle in die rug steek.

Leo-Nene: Vir my was die min slaap, die ongemaklike "matras" gepaard met die koue, dit het dit moeilik gemaak om genoeg slaap in te kry en die uitputting was erger.

Watter uitdaging het jy geniet op Plaasjapie?

Cecil: Ek het basies elke uitdaging op Plaasjapie geniet, maar daar is twee wat uitgestaan het: Die heel eerste uitdaging (baksteen maak) omdat dit 'n ware moraal booster was, nie net vir my nie, maar vir die hele span, en tweedens, die boeresportdag wat meer pret was en glad nie soos 'n kompitiesie gevoel het nie. 

Esteban: Ek het iets uit elke uitdaging gevat maar die beste was beslis die jakkals skiet.

Leo-Nene: Ek is iemand wat hou van speletjies en kompetisie en elke uitdaging vir my was lekker gewees! Die water uitdaging in die reën was die minder lekker een; om te staan en koud kry met nat klere aan is nie hoe ek hou van speel nie.

Vandat jy die reeks verlaat het, het jy al ooit weer bully beef geëet?

Cecil: Bully beef? Remind my gou, wat is dit nou weer? Ek sal dit nooit, ooit, vir solank as wat ek kan, NOOIT weer eet nie. Ons het dit geëet totdat dit by ons ore uitgekom het. Ek het wel weer baked beans geëet, maar bully beef kry die groen, opgooi emoji.

Esteban: Ek het bully beef as 'n kind baie geëet maar na Plaasjapie is daardie verhouding nou verby haha.

Leo-Nene: Nee nog nooit weer bully beef of baked beans geëet nie, maar sal wel een of ander tyd.

Watter les(se) het jy uit Plaasjapie geleer wat jy nou saam jou sal vat vorentoe?

Cecil: Daar was soveel lesse, maar die grootste les het ek daardie stil nagte om die vuur geleer: Toe ek met vriende net sit en gesels. Geen gadgets wat ons so maklik distract van daai menslike connections nie. Dit is iets wat ek meer met my familie wil doen.

Esteban: Ek het besef dat mense met teenoorgestelde belangstellings eintlik baie meer in gemeen het as wat ons besef. Ek het ook weer besef dat die lewe so onregverdig vir elke persoon kan wees dat dit eintlik regverdig is.

Leo-Nene: Moenie mors nie, werk spaarsamig sover jy kan en belê in 'n goeie matras, dit is die moeite werd!

Wat is jou gunsteling shows op kykNET en/ of Showmax?

Cecil: Plaasjapie seisoen een en hopelik seisoen twee tot 50...

Esteban: Ek kan myself dood lag vir Hotel en ek dink ook dat Fynskrif een van die beste shows in Afrikaans is. 

Leo-Nene: Plaasjapie natuurlik. Ek geniet ook Kyk wie praatBoer Soek 'n Vrou en sien uit daarna om RHOPTA en Fraksie te begin kyk sodra ek terug in Suid-Afrika is.

Watter van die plaasjapies dink jy sal hulle eie plaas kan bestuur en wie sou nie kan?

Cecil: Bean! Bean! Bean! Noem hom sommer, BOER BEAN! Ek dink nie daar is een iets op 'n plaas wat Bean nie kan doen nie en die feit dat jy die liefde vir plaaswerk op sy gesig kan sien, in sy taal kan hoor en dat hy nie terugstaan vir harde werk nie, is Bean 'n boer deur en deur. Ek dink Leo-Nene sal nie 'n plaas kan bestuur nie, want Bean het gesê sy is lui 😂😂😂 Nee ek spot maar. Ek dink almal wat in Noubees was, sal n plaas kan bestuur, maar ek is ook 'n Soetmelksvlei’r, en twyfel so 'n bietjie dat Stefan 'n plaas kan bestuur. Net omdat hy laat geslaap het.

Esteban: Ek dink Bean, Billy en Marius is drie wat hul eie plaas sal kan bestuur.

Leo-Nene: kykNET het verseker die beste deelnemers gekies en elkeen is sy sout werd. Die wie ek dink sal goeie plaasbestuurders wees is: Dian, Bean, Cecil, Marius en Roché. Ek dink Stefan sal 'n bestuurder namens hom moet aanstel wat dalk vinniger uit die vere kom in die oggende.

As jy op 'n aandete afspraak kon gaan met vyf van die Plaasjapie-deelnemers, wie sou jy kies?

Cecil: Leo-Nene, Dian, Bean, Suzette Louw (H) en Elton.

Esteban: Dian, Stefan, Bean, Marius en Billy.

Leo-Nene: Ons klomp in Gauteng het nou al saam gebraai en dit was prettig. As ek my eie kuier kon reël, sal my vyf gaste die volgende wees: Cecil, Dian, Roche, Gerda en Billy.

Vertel ons bietjie oor die lewe na Plaasjapie.

Cecil: Ek was maar nog altyd 'n eenvoudige familieman met 'n droom om my familie 'n better lewe te gee en ek werk nog elke dag daaraan. Ek het die wonderlikste en mooiste vrou, innerlik en uiterlik, met twee gesonde kinders wat ons elke dag 'n bietjie ouer maak. Ek het nog altyd daarvan gehou om ander te help - of dit nou in ons sopkombuis is of om 'n marathon vir liefdadigheid te hardlaap, dan doen ek dit. En dit is wat ek nogsteeds doen. My volgende uitdaging is volgende maand se Sanlam Cape Town Marathon; ek doen dit om geld te versamel vir die Cape of Good Hope SPCA. Ek besef wel dat dit slegs deur God se genade is dat ek dit kan doen.

Esteban: Die lewe na Plaasjapie hou vir my soveel in om oor dankbaar te wees. Ek het 'n hele paar doelwitte wat ek wil af "tick" waarvan die grootste twee is om Januarie in Abu Dhabi goud te wen die IMMAF World Championship en ook my my gym in Randburg te groei tot op 'n plek waar ek gemaklik myself en my familie kan dra. 

Leo-Nene: Ek is tans in Panama saam my man, geniet die wegbreek. Ek is ook besig met my skoenreeks waarvoor ek eintlik die wengeld wou gebruik, dit is in die begin-stadium, maar ek het groot drome. Die tyd voor die kameras het my toneelspeel droom weer wakker gemaak. Ek het al acting kursusse voltooi by Brumilda van Rensburg se akademie en stel ek weer belang om te werk in die vermaaklikheidsbedryf, ek gaan dit najaag.

Die laaste episode van Plaasjapie sal op Donderdag 6 Oktober uitgesaai word op kykNET, kanaal-144. Jy kan ook die reeks op DStv Catch Up stroom.