Logo

Edik van Nantes 3: 30 goue jare

Nuus
22 November 2017
Nataniël - ’n naam wat sinoniem is met humor, tydloosheid én smullekker resepte. Ons het by die verkleurmannetjie van sy tyd gaan inloer.
Nataniel_Web

FOTO:  Verskaf


Nataniël - ’n naam wat sinoniem is met humor, tydloosheid én smullekker resepte. Met ’n suksesvolle loopbaan wat oor die 30 jaar strek, ’n immergewilde leefstylprogram agter sy naam en ’n boek wat pas bekendgestel is, kan ’n mens nie wonder hoe balanseer hy al die hooie op sy vurk nie. Ons het by die verkleurmannetjie van sy tyd gaan inloer.

1. Hoe bly ’n mens vir 30 jaar relevant in dié bedryf?
Jy leer uit ondervinding, nie uit wat ander te sê het nie. Jy werk bitter hard en jy sorg dat jou gehoor dit weet, mense moet weet jy lewer jou beste en sal sorg dat hulle nie tweekeer dieselfde goed sien of hoor nie. Jy hou jou vinger op ALLE detail, jy laat niks oor aan genade of toeval of ander mense nie. Jy hou jouself eenkant en werk aan jou eie identiteit en jy sorg dat jy nie geboelie word om deel te neem aan dinge wat nie goed is vir jou siel of jou beeld nie. 

2. Vertel ons meer oor jou boek, Closet, en die uitrustings wat daarin verskyn.
Ek het drie jaar gelede begin werk aan die boek, dit gaan nie oor my nie maar oor die handewerk van die mense om my. Dis belangrik dat mense sien daar is ongelooflike talent en vakmanskap in ’n land en kultuur wat al hoe meer kommersieël en vervelig raak. Mense moet weet dat ’n mens ’n lang en gelukkige loopbaan kan hê en elke dag geniet. Dis ’n boek vir elkeen wat hou van kleur, tekstuur, gehalte, ontwerp, die ongewone en dit wat mooi is. Kleremaak en goeie ontwerp is beslis ’n kunsvorm. 

3. Wie maak die uitrustings en van waar kom die materiaal?
Shani Boerstra, James Edward Moulder en Floris Louw is die drie belangrike ontwerpers van die afgelope 30 jaar. Elkeen het sy eie styl en verteenwoordig ’n spesifieke deel van my loopbaan en styl. Die materiaal word meestal ingevoer, ek het sopas in Londen die lappe vir 2018 gaan koop. Die res maak ons self, ons kook en kleur en borduur, daar word van hout tot metaal tot byewas gebruik gemaak. Daar is geen perke. 

4. Wat maak die uitrustings uniek?
Dit het niks met mode, alledaagsheid of gemak te doen nie, dit gaan oor fantasie, geskiedenis, uitdagings, baldadigheid, stories vertel en grense skuif. 

5. Jy en jou broer werk saam. Hoe balanseer julle gesonde familiebande met ’n werksverhouding?
Ons is beste vriende, ons dink dieselfde oor goed en ons het dieselfde humorsin. Ons lag baie en ons neem onsself of dit wat ons doen nie te ernstig op nie. Ons is nie ’n dramatiese familie met geheime en probleme nie, ons is reguit en op die man af en vermy alle dramas. En alles gebeur om ’n tafel, ons eet heeltyd. 

6. Het jy enige nuwe projekte in die pyplyn?
Daar is baie vertonings, ’n nuwe boek, splinternuwe kostuums en ’n paar geheime projekte vir 2018.

KYK - GEKLITS VIR TV?

KYK OOK - ’N MODERNE BLIK

Maak seker jy skuif voor die kassie in vir Edik van Nantes 3 wat Woensdae om 20:00 op DStv-kanaal 144 uitsaai.