Logo

‘Dis ek, Anna’ plaas molestering in die soeklig

Nuus
17 Augustus 2015
Dis ek, Anna, handel oor die seksuele molestering van Anna Bruwer deur haar stiefpa oor ’n tydperk van ses jaar. Dié fliek tref die silwerdoek op 23 Oktober 2015.
Dis ek Anna_Feature

Die Bloemfonteinse sakeman, Danie du Toit, se voordeurklokkie lui in die middel van die nag. Buite sak die reën vlietend neer. Hy trek sy kamerjas aan, strompel na die voordeur en maak oop. ’n Skraal, natgereënde figuur staan met haar rug na hom op die tuinpadjie. Dan draai sy om. Hy skrik. Hy herken die gesig wat van onder die baadjiekappie na hom loer: Dit is sy stiefdogter wat hy jare laas gesien het.



“Dis ek, Anna,” sê sy kil. Die haat spoel oor haar woorde, soos die reën wat op hulle neersak. Dan bring sy die pistool te voorskyn…

Dis ek, Anna, handel oor die seksuele molestering van Anna Bruwer deur haar stiefpa oor ’n tydperk van ses jaar. Stom Anna, het sy haarself genoem omdat sy aan niemand kon vertel van dit wat tussen haar en haar stiefpa plaasgevind het nie. Nie aan haar ma nie, nie aan haar beste vriendin nie, en selfs nie aan haar eie pa nie.



Die fliek is gebaseer op die boeke Dis ek, Anna en Die Staat teen Anna Bruwer deur Anchien Troskie as Elbie Lötter, en tref die silwerdoek op 23 Oktober 2015.



Rolverdeling: Charlene Brouwer, Marius Weyers, Nicola Hanekom, Izel Bezuidenhout, Morne Visser, Drikus Volschenk, Elize Cawood
Vervaardiger: Niel van Deventer
Regisseur: Sara Blecher
Skrywer: Tertius Kapp
Kinematograaf: Jonathan Kovel
Redigeerder: Nicholas Costaras