Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

Die vele talente van Nêrens, Noord-Kaap se hoofspelers – Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
18 Augustus 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai vanaf Dinsdag 31 Augustus 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.
BB

Nêrens, Noord-Kaap, die dramareeks van dertien episodes wat op 31 Augustus op kykNET begin, spog met ’n rolverdeling soos min. Elkeen van die hoofspelers is – met reg - al vereer vir hulle werk op die verhoog, in rolprente en op TV.

Frank Opperman


Frank, ’n veteraan in die Suid-Afrikaanse vermaakwêreld, is die patriarg Lourens Adendorff en pa van Frans, Ronnie en Andries. Frank het sy TV-debuut in die gewilde komediereeks Orkney Snork Nie (1989) gemaak en was daarna in verskeie reekse soos The Big Time, Pandjiewinkelstories, Ouboet en Wors en G.I.L. te sien. Sy filmrolle sluit Ds. Tienie‘n Ander mens en Dis koue kos, skat in. Op die verhoog is hy veral bekend vir die solostukke wat Dana Snyman vir hom geskryf het onder meer Donkie en Pottie Potgieter en het in 2015 die Fiësta-toekenning gewen vir die beste solovertoning vir Die klaagliedere van Ds. Tienie Benade.

Geon Nel


Geon Nel is die oudste Adendorff-broer, Frans. Geon was onder meer te sien in Die Boekklub, Vallei van Sluiers en Boland Moorde asook die rolprente Vir altyd, Meisies wat fluit en Poppie Nongena. Hy is ’n talentvolle verhoogakteur wat die afgelope tyd te sien was in groot produksies soos Balbesit, Die Seemeeu en Katvoet. Geon was, soos Albert en De Klerk, in die bekroonde toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap wat landwyd opgevoer is en onder meer die Fiësta-toekenning in 2018 vir die beste ensemble gewen het. Geon is ook ’n goëlaar wat selfs in Londen sy truuks opgevoer het.

Albert Pretorius


As die middelbroer, Ronnie, is Albert Pretorius in sy element. Stewige rolle soos hierdie is egter nie nuut vir Albert nie. Op TV was hy te sien in skitter-reekse soos Die Spreeus, Fynskrif, Buurtwag, Dwaalster en Waterfront. Onder die rolprente waarin hy gespeel het is Griekwastad, Die Seemeeu en Johnny is nie dood nie en verhoogstukke sluit in Katvoet, Tien duisend ton, Bloed en Bodem en Wild. Hy het al verskeie toekennings gewen waaronder die Fiësta as beste akteur vir Die Seemeeu en Playland en die Silwerskerm-toekenning as beste akteur vir Johnny is nie dood nie.

De Klerk Oelofse


De Klerk is Andries, die jongste van die Adendorff-broers en net soos Geon en Albert, het hy al sy merk op TV, in rolprente en op die verhoog gemaak. Hy is op die oomblik te sien as die aanbieder van die gewilde Kyk wie praat, maar was ook te sien in Die Boekklub en Hotel en is ewe gemaklik met drama- en komedie-rolle. Op die verhoog was hy in bekroonde produksies soos Babbelagtig, Baloog & Brommel en Moeder Moed en die solo-stukke Strooijonker en Na-aap.

Dean Balie


Jan-Jan Buys is ’n kindertyd-vriend van die Adendorff-broers en woon saam met sy ma, Maggie, op Nêrens. Dean is ’n boorling van die Noord-Kaap en het ná skool drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer waarna hy ’n reuse-merk in die teaterwêreld gemaak het. In 2012 wen hy die Fleur du Cap-toekenning as beste akteur in ’n musiekblyspel vir sy rol as Kat Diamond in Kat and the Kings. Hy was ook te sien in die musiekblyspele Blood Brothers en Orpheus Africa en die bekroonde Woordfees-produksie Die poet, wie’s hy?. Sy eerste groot rol op TV was as Slappies in Ekstra medium.

Ilse Klink


Ilse is te sien as Maggie Buys, wat al jare in die huis op Nêrens werk en ’n tweede ma vir die Adendorff-broers is. Ilse het reeds diep spore in die vermaakwêreld getrap met rolle wat wissel van Isidingo en Arendsvlei tot Fynskrif en Skemerdans. Sy het vele talente en het ook as sangeres uitgeblink in musiekblyspele soos Chicago, Rent en Mamma Mia!. Sy het ook die flieks Stroomop (waarvoor sy ’n SAFTA-toekenning as beste vroulike byspeler gewen het), Dis ek, Anna en Ellen: Die storie van Ellen Pakkies op haar kerfstok.

Nêrens, Noord-Kaap saai vanaf Dinsdag 31 Augustus 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.