Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Die Siener is die ware Jakob

Nuus
07 Maart 2019
Vind meer uit.
Siener 5

Die heldersiende, Gerald Burger wat reeds jare gelede die Lainsburg-vloede van 25 Januarie 1981 vooraf korrek voorspel het, is vanaf 24 April deel van kykNET se nuwe werklikheidsreeks, Die Siener. In dié program gaan hy mense met verskillende kwessies help – van mense wat afgesterf het en nie kan aanbeweeg nie, tot bonatuurlike verskynsels wat inwoners teister.

Gerald het al van jongs af besef hy het ’n gawe om die toekoms te voorspel en deesdae werk hy voltyds as ’n heldersiende. Hy word ook gereeld gevra om ontslae te raak van bonatuurlike verskynsels wat mense in hul huise traumatiseer.

In Die Siener doen Gerald ’n verskeidenheid van mense se lesings om hul verlede, toekoms en huidige situasie te analiseer. Hy help ook om van kwelgeeste in huise ontslae te raak en besoek bekende spookplekke soos Die Kasteel in die Kaap, Die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein en die Rudd House in Kimberley om vas te stel of dit werklik daar spook.

“Ek sal graag wil help waar ek kan met die talent wat ek ontvang het,” sê Gerald. “Daar is soveel hartseer daar buite – my hart gaan uit aan elkeen wie se paaie met myne kry. Ek wil troos en berusting bring. Ek wil ook diegene wat nie meer met ons is nie help om aan te beweeg.”

Rian van Heerden, vervaardiger van Die Siener, probeer al jare om Gerald se talent te verklaar. “Ek ken hom al jare en sukkel om te begryp hoe hy doen wat hy doen. Ek weet wel twee dinge: Gerald is die ware Jakob en daar is baie dinge op hierdie aarde wat ons nooit sal kan verklaar nie. Die Siener is ’n reeks waarvan die inhoud nog nooit vantevore op Suid-Afrikaanse TV gesien is nie – maak gereed vir ’n onvergeetlike reeks!”

Die Siener word Woensdae om 20:00 vanaf 24 April uitgesaai op kykNET DStv-kanaal 144. Vertel al jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #DieSiener.