Logo
Wanderlus – Slim
web uni tv guide

Wanderlus

144ReisprogramPG

Dié paartjie sal jou Wanderlus gee in hulle moetkyk-program!

Nuus
20 September 2021
Wanderlus word deur Blixem Productions vervaardig en begin op 2 Oktober 2021 om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Wanderlus

Ontmoet vir Hennie Bosman en Nicole Hellinger van Franschhoek, ’n paartjie wie se daaglikse lewe bestaan uit die see, kosmaak, spesiale tyd met hul twee hondekinders en lekker musiek!

In kykNET se nuwe reisprogram Wanderlus, kry kykers die geleentheid om op ’n ekslusiewe reis met dié avontuurlustige paartjie te gaan. 

Elke episode is soos ’n sosatie gepak met goeie wyn, Afrikaanse musiek, langpad avonture en ’n ekspidisie wat lei tot ’n kosmaakkompetisie! Soms wen Hennie en soms wen Nicole, maar die liefde wen altyd.

Wie is Hennie en Nicole?
Hennie is gebore met die see in sy are en visvang op sy brein. Sy eerste woorde as kind was: “Vang vis, see toe!”. Op die ouderdom van drie het Hennie al geweet hoe om perlemoen te vang. Sy uitlopende kennis oor die see is iets wat sy familie en vriende nog daagliks verras!

Dan kry jy vir Nicole – die talentvolle ruiter wat in die Franschoek-vallei tussen die wingerde en perde grootgeword het. Op die ouderdom van 18 was sy gekies vir die Springbok ruiterspan en is later toe ook as die kaptein van die wêreldbekerspan aangewys.

Hennie het vir Nicole vir hul eerste romantiese afspraak na ’n dam geneem om vis te vang. Nicole was duidelik beïndruk, want nou – nege jaar later – staan dié paartije op trou!

In Wanderlus toer Hennie en Nicole die land plat opsoek na ongerepte bestemmings en maak hulle eenvoudige seekos-disse met bestanddele wat vir almal maklik verkrybaar is. Albei van hulle vang die seekos, maar Nicole, ook ’n gekwalifiseerde sjef, is die een wat met die Instagram-resepte opkom en Hennie probeer altyd die mees buitengewone, onmoontlike doen.

“Volhoubaarheid van die see is vir ons baie belangrik en ons probeer in hierdie seisoen soveel moontlik bewustheid skep onder kykers. Kykers kan uitsien na ’n avontuur-gedrewe program wat die hele familie kan geniet. Ons hou die disse eenvoudig maar elke dis het ’n unieke persoonlike aanslag op die manier wat ons dit gaarmaak,” vertel Hennie.

André Calitz, vervaardiger van die program sê dat Hennie en Nicole nie net die aanbieders is nie, maar hulle lééf werklik so.

“Hulle het dit vir ons so maklik gemaak om hul persoonlike wanderlus as ’n egpaar die middelpunt van ons program te maak. Hulle is letterlik elke naweek op ’n ander plek doenig met een of ander avontuur. In elke dorp in ons pragtige land is daar ’n gastehuis, restaurant, wynkelder of toeriste bestemming wat jou besigheid broodnodig het. Suid-Afrika is werklik die hele wêreld verpak in een land en dit is tyd om dit te verken!” sê André opgewonde.

Wanderlus word deur Blixem Productions vervaardig en begin op 2 Oktober 2021 om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.