Logo

Die GROOT Ontbyt groet ‘n GROTE

Nuus
21 Desember 2021
Johrné van Huyssteen, wat die afgelope ses jaar die anker van kykNET kanaal 144 se ‘Die GROOT Ontbyt’ was, maak einde Februarie 2022 klaar as permanente aanbieder. 
Die GROOT Ontbyt – Billboard

Johrné het besluit om sy mikrofoon vir eers op te hang, en die stadslewe vir die platteland te verruil. Hy het in 2021 ‘n aanbod ontvang om die rol as mede-eienaar van ‘n eiendomsagentskap geleë in Clarence, Oos-Vrystaat, in te neem. 

Johrné speel ‘n groot rol in die vermaaklikheidsbedryf. Hy het in 2001 sy meestersgraad in praktiese teologie by Noordwes Universiteit verwerf, en vandaar was hy bekend as lid van ddisselblom – ‘n afrikaanse musiekgroep bekend vir ‘Nikotien en Kafeïen’ en ‘Kaktus in my vistenk’.

In 2011 sluit hy by OFM aan as omroeper, en in 2015 by GROOTfm 90.5 wat saam met kykNET ‘n hibried-konsep begin het vir ‘n regstreekse radio- en televisie-uitsending, elke weeksoggend tussen 06:00 en 09:00, genaamd ‘Die GROOT Ontbyt’. In 2021 het die bestuur besluit om die twee programme – wat tergelyketyd op radio en televisie uitgesaai is – weer te skei; Die GROOT Ontbyt op kykNET kanaal 144 en Die GROOT Brekfis op GROOTfm 90.5. Johrné was deurlopend die anker van die program, en het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Dit is sy veelsydigheid, objektiwiteit en intellek – nie eers te praat van sy humorsin nie – wat Johrné ‘n uitsonderlike omroeper en aanbieder maak. Sy kennis oor Jan Alleman, en boonop Jan se doen en late, hedendaagse nuus en tendense, maak dat hy enige gesprek en onderhoud, met enige ateljee-gas kan voer. Johrné het ‘n X-faktor wat hom geliefd maak – deur sy kollegas en deur honderde-duisende kykers wat elke oggend inskakel tussen 06:00 en 08:00 op kykNET kanaal 144. 

1640070646 56 johrne oorfone

Mede-aanbieder, Elsa Esterhuizen, het die volgende te sê gehad: “Ek wens ek het geweet hoeveel keer Johrné my al laat lag het – iets wat my telkemale deur verskeie uitsendings gedra het. Hy het my terselfdertyd behoorlik op my tone (en knieë) gehou met sy onvoorspelbare kwinkslae en sêgoed, omdat ‘n mens doodeenvoudig net nooit weet wat om te verwag nie. Ek wonder ook steeds waar hy al sy kennis bêre… Wat sy nuwe avontuur betref beleef ‘n mens uit die aard van die saak maar gemengde emosies. Ek wens hom, sy liewe vrou Alet en hulle dierbare hondekinders Mnandi en Stoffel alle voorspoed en sukses toe met hierdie opwindende nuwe hoofstuk en gaan my bes probeer om nie jaloers te wees op die feit dat sy wekker nou soggens HEELWAT later gaan raas as myne nie - om nie eers van die beeldskone uitsig te praat nie!”

Izaan Steenkamp, Inhoudsbestuurder van Die GROOT Ontbyt, sê; “Dis moeilik om Johrné in ‘n paragraaf vas te vang. Om ‘n reuse persoonlikheid, met ‘n nog groter sak stories, kennis en wysheid te moet groet, is ‘n uitdaging. Dit is ook swaar om ‘n goeie vriend as voltydse aanbieder te laat gaan. Ek weet egter dat daar nog baie nuwe en mooi verhale van gelukkige mense geskryf sal word. Een van die grootste waarhede wat ek by hom geleer het, is om elke mens ‘n gelyke kans te gee, en om moeite te doen met elke persoon wat oor jou pad kom. Om die persoon eers te leer ken. Johrné is ‘n ongelooflike mens met ‘n groot hart, en ek word gedwing om aan al die snaakse tye te dink: die radio-oorfone bo-op sy kop, die snaakse dansies in die ateljee, unieke sê-goed, belaglike idees, en grappies tydens elke uitsending. Bo alles is hy die mees lojale persoon, wat altyd die beste intensies vir Die GROOT Ontbyt gehad het. Ons wens vir hom die GROOTste sterkte toe met die nuwe seisoen, en het geen twyfel dat hy ‘n massiewe sukses van elke projek sal maak. Ons gaan jou mis, Reus van Huyssteen.”

Hoogtepunte van sy afgelope, GROOT-loopbaan sluit in sy onderhoude met Elon Musk se Ma, Maye, Bosasa-fluitjieblaser, Angelo Agrissi, Internasionaal bekroonde skrywer, Jeffrey Archer, oud-Protea Krieketspeler, Gary Kirsten, en alternatiewe musiekgroep, Wonderboom, maar eintlik was elke onderhoud ‘n hoogtepunt.

“My net meer as ses jaar by GROOTfm 90.5 en Die GROOT Ontbyt was seker van die lekkerste tye en werk in die afgelope 21 jaar van my loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf. Om elke oggend, al is dit so vroeg, op te staan en nie een keer op te sien na jou werk is ‘n geweldige voorreg. Die span, voor en agter die skerms, moet die meeste erkenning kry met wat ons op ‘n tegniese vlak kon regkry. Elke kyker en luisteraar was ook fantasties, al het ons soms verskil, vies geword en gelag vir mekaar. Mens moet nooit vergeet dat die medium en die mense voor hulle skerms en radio’s die belangrikste is nie. Sonder hulle is jy werkloos.” sê Johrné. Hy het ook geweldig baie agting vir Bloudruk Groep CEO, Hardus Zevenster, en voormalige kykNET-kanaalhoof, Karen Meiring, dat hulle hom jare terug vertrou het met die unieke en wêreld-eerste in televisie en radio.

1640070582 56 johrne ateljee

Alhoewel Johrné nie meer permanent langs die geelbank te sien gaan wees nie, gaan hy nog deeltyds betrokke wees waar hy via ‘n aanlynplatform sekere onderhoude gaan fasiliteer. Hy speel ‘n baie betekenisvolle rol in die groei en sukses van dié ontbytprogram, en gaan beslis gemis word. Hy het die ateljee in ‘n huis en tuiste in omskep, en sonder sy vooraf wete, is dit waarheen sy loopbaanpad hom nou heen lei – om aan ander die geleentheid van ‘n huis en tuiste te bied. Die nuwe mede-aanbieder van Die GROOT Ontbyt sal aan die begin van 2022 bekendgemaak word. 

Die GROOT-span se beste, grootste wense en Seën vergesel hom, terwyl hulle ‘n leemte omhels wat vir altyd Johrné s’n sal wees.