Logo
Projek Dina 2 – Slim
web uni tv guide

Projek Dina

144Drama16 VL

Die ander kant van Hannes – Projek Dina

Nuus
08 Maart 2022
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir #ProjekDina, nét op kykNET (DStv-kanaal 144).
Hannes van Wyk – Projek Dina 2

Ons ken hom as die gemoedelike aanbieder van programme soos Kwêla en Hannes aan huis  en as akteur in reekse en flieks soos Die Boekklub en Magda Louw, maar in die tweede episode van Projek Dina is dit ’n heel ander Hannes wat kop uitsteek …

Stefan Jansen, jou karakter in Projek Dina, is anders as die karakters wat ons jou al sien speel het. Wat was die grootste uitdaging?
Ek het al vreemde karakters gespeel en dit is altyd lekker om karakters te speel wat ver verwyder van my af is. Soos Griet skryf ’n sprokie wat ek saam met Susan Coetzer op die verhoog gedoen het en al my klere moes uittrek. Die aaklige Krynauw in Egoli wat mense gehaat het en wat ’n heerlike karakter was. In Magda Louw was ek die ou oom van 80 en dit was wonderlik.

Die grootste uitdaging van Stefan? Ek hou van iets met vleis aan en met hierdie was die lekkerste om saam met die regisseur Liezl Spies te werk. Ek het al voorheen saam met haar gewerk en dis regtig vir my lekker. Moet ook net sê dat ek met elke rol die teks so goed. Nie net die woorde nie, maar ek weet presies wat die teks in sy geheel sê. Dan vra ek nog baie vrae ook om in die karakter se kop te kom.

As jy moet kies: akteur of aanbieder?
Ek het drama studeer en is opgelei om akteur te wees. Dit is vir my fantasties. Al die jare wat ek vir SUKOVS en TRUK gespeel het, was ongelooflik. Die sepies, die reekse. In alles van dit, vertolk jy ’n rol, maar wanneer jy ’n aanbieder is, is jy jouself. Ek doen baie navorsing voor onderhoude. Ek lees, vind alles uit. Baie mense met wie ek onderhoude gevoer het, het al onderhoude gehad en ek probeer altyd vrae vra wat nog nie gevra is nie. Ek kan regtig nie kies tussen akteur en aanbieder wees nie. Dit is twee kante van ’n munt.

Wat is die rol wat jy nog graag wil speel?
Daar is so baie. Ek het jare gelede vir Ernst Eloff en Wilna Snyman in Gulls deur die dramaturg Robert Hewett gesien waar Ernst die rol speel van die man wat breinskade as kind opgedoen het. Ek sal baie graag daardie rol wil speel. Ook in Deon Opperman se Stille Nag. Maar weer - daar is so baie op die verhoog én TV wat ek sal wil speel.

Met wie sal jy nog ’n onderhoud wil voer?
Ek was gelukkig dat ek jare gelede oorsee onderhoude kon doen met mense soos Bill Clinton, Jon Bon Jovi, Kate Moss, Naomi Campbell en vele ander. Ek het ’n baie teer plekkie vir die ouer garde, ouer akteurs, maar met hulle het ek al amper gepraat. Daar is egter mense wat nie meer met ons is nie soos Wena Naudé en San de Lange wat ek baie graag beter sou wou leer ken.

Gaan ons jou binnekort weer op die verhoog sien?
Ek en Danie Niehaus wil graag saam ’n ding doen, maar ons soek ’n borg. Dit gaan alles oor die liefde wees. Ek sal graag saam met Marthinus Basson en van die jong regisseurs soos Nico Scheepers en Christiaan Olwagen op die verhoog wil werk. Wat TV betref – kykers sal maar moet wag en sien!

Loer hier na 'n hoogtepunt vanuit vanaand se epsiode:

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir #ProjekDina, nét op kykNET (DStv-kanaal 144).