Logo
Plaasjapie
web uni tv guide

Plaasjapie

144RealiteitPG13 L

Deelnemers vertel oor lewe na Plaasjapie

Nuus
06 Oktober 2022
Talle Plaasjapie-deelnemers onthul oor hul lewens na die reeks en gee raad aan stadsjapies wat miskien ook hierdie uitdaging wil aanpak.
Plaasjapie deelnemers

Aan die begin van Plaasjapie seisoen een, was daar 18 stadsjapies wat later toe een-vir-een uit die reeks gestem is. Van die deelnemers het gereflekteer op hul ervaring en ook meegedeel hoe lewensveranderend die ondervinding was.

Vertel ons bietjie oor die lewe na Plaasjapie.

Arthur: Die lewe is baie dieselfde, met 'n paar maande se opwinding wat jou lewe inkleur. Dit is wel moeilik vir 'n wyle om weer aan te pas in jou eie lewe, en jy vind dat jy kans sien om dinge te verander wat jy voorheen dalk nie voor kans gesien het nie. Realiteit TV hou 'n spieël op vir jou wat nie doekies omdraai nie, en dit bring vir sommige 'n tyd van introspeksie direk na produksie en dan verder tydens uitsendings. Dit wys vir jou waar jy beter kan doen met jouself en ander. Jy besef wel hoe baie mense kyk net omdat jy deelneem, en dis 'n ervaring wat vir jou eerstehands wys hoeveel mense jy het wat omgee vir jou!

Billy: Toe ek uit gestem was het dit my redelik lank gevat om oor te kom dat ek in die rug gesteek was. Ek kon nie glo Stefan het dit aan my gedoen na hy heeltyd beloftes gemaak het nie. Maar na elke nederlaag moet 'n mens opstaan en as 'n beter mens terugkom. Lewe na Plaasjapie is nog steeds opwindend. Dis lekker om nog steeds mense het wat na jou toe kom en support gee en hulle frustrasie deel dat ek uit is en my laat weet ek is hulle favorite in die show. Ek doen nog steeds unofficial Guinness Rekord attempts met bekendes net om Suid-Afrikaners daar buite te inspireer om ook Guinness rekords te probeer breek. Voel dis vir my belangrik om vir hulle te wys dat daar eintlik baie rekords is wat hulle kan doen op 'n daaglikse basis. Niemand weet daar 'n Guinness rekords vir die vinnigste jou duvet cover op sit, meeste dasse om jou nek hang, vinnigste 10 sny brood smeer, die langste staan en braai, net om 'n paar te noem.

Elton: Ek het net weer ingeval by my besigheid en probeer nog my besigheid verbeter en wil nog takke byvoeg.

Gerda: My lewe na Plaasjapie was soos 'n groot warrelwind. Dit was 'n ongelooflike ondervinding, en ek is dankbaar dat ek dit met albei hande aangegryp het. Na Plaasjapie het ek op die 4de Julie 'n ouma geraak vir die eerste keer. Klein Jamie is sy Oumie se hart se punt. Ek het gedink na Plaasjapie is daar niks wat by daai ondervinding kom nie, maar sy geboorte het beslis. My oudste dogter is op 23 September getroud en ek het die wonderlike voorreg gehad om nie net haar trourok te maak nie, maar ook haar strooimeisies- en blommemeisie se rokkies! Ek dink strooimatrasse, bully beef en baked beans en lande omploeg is nie so senutergend nie. Ek was 1600 km van haar af en kon nie eens die rok pas tot 'n week voor die troue nie. Ek is nogal privaat en was skrikkerig om myself so bloot te stel, maar ek moet erken, die publiek was gaaf en vriendelik. Dit was lekker om te weet dat mense jou ondersteun en so baie belangstel (in jou).

Jurie: Ek het baie goeie vriende gemaak met meeste van die deelnemers. Ons kuier gereeld saam. My deelname aan Plaasjapie het my net weer herinner dat ons een lewe kry. Die besluit om die beste daarvan te maak lê 100% in jou eie hande. 

Laurika: Ek dink omdat ek so kort tydjie op Plaasjapie was lyk die lewe na Plaasjapie nog dieselfde as die lewe voor Plaasjapie :-) buiten my dorpsmense (wat ook die beste mense in Suid Afrika is) wat my baie ondersteun het, herken 'n paar mense my soms. Ek het deelgeneem aan Plaasjapie vir die ondervinding en ook vir die plaaslewe, ek is verskriklik lief vir diere en om in die grond te werk, so ek het nie regtig enige verwagting gehad van beroemdheid of dat my lewe drasties gaan verander nie, ek wou net deel neem en dit geniet.

Marius: Die lewe na Plaasjapie is 'n lied. Die program Plaasjapie, wat ek deurgemaak het op die plaas, die mense waarmee ek dit beleef en deurgemaak het, ook die produksie span het 'n groot inpak op my as mens en my uitkyk op die lewe gemaak. Ek kyk met nuwe oë na plaasboere en plaaswerkers, ek respekteer hulle en ek salueer hulle vir wat hulle is en wat hulle vir ons samelewing en bestaan beteken. Ek kon die concept van plaaslewe terugbring, dit align en implement met en in my persoonlike- so wel as werkslewe om sodoende die beste oplossings, effects and impacts vir challenges wat ek daagliks face te hanteer en of om oplossings daarvoor te vind. Die klomp verskillende agtergronde en cultures wat saamgevoeg was op die plaas vanaf dag een en maniere wat ons moes vind om saam te werk vir die vooruitgang van ons plaas, Soetmelksvlei, het definitief my vermoeë om met verskillende mense, mense met verskillende agtergronde vergroot en dit was definitief tot my voordeel want ek kan vandag as Bevelvoerder van my Eenheid die impak en effek daarvan aanvoel en beleef, als te danke aan Plaasjapie en my deelname aan die program.

Roche: My lewe na plaasjapie het baie verander. Ek was genader deur 'n acting agency wat een van my motivational videos op TikTok gesien het. Ek het oudisies gedoen en het twee rolle losgeslaan. My droom was nog altyd om 'n akteur te word en dit het nou waar geword. Daar is baie werk wat voorlê want dit was glad nie maklik gewees nie, maar het so baie geleer. So ek sien uit om te groei. Ek het nou weer 'n nuwe meisie wat al die pad van London afgetrek het en ons bly nou saam. My besigheid, RK400 is goed op dreef en die nuwe website maak dit makliker vir mense om te navigate. My YouTube channel is ook besig om te groei en meer mense te help. Ek is ook tans besig om te leer surf, so is in die water so veel as wat ek kan. Die Here is baie goed vir my en sonder Hom sou ek niks kon bereik wat ek nou al het nie.

Suzette H: My lewe het nie veel verander nie. Ek is maar net weer die stadsjapie wat ek maar altyd was. (lol)

Suzette I: Ek is oor die algemeen 'n baie privaat persoon, so my lewe na Plaasjapie is nog baie dieselfde. Ek het wel 'n ander, positiewe perspektief oor baie goed in my lewe gekry. Ek het meer waardering vir geleenthede wat oor my pad kom, en ek het geleer om op te staan vir myself wanneer dit nodig is.

Watter les(se) het jy uit Plaasjapie geleer wat jy nou saam jou sal vat vorentoe?

Arthur: As dinge regtig rof raak, sal jy okay wees - jy is tot BAIE meer in staat as wat jy besef.

Billy: Moenie mense so vinnig vertrou nie. Dink dit is my grootste downfall. Ek vertrou te vinnig. Maar ek het ook geleer dat 'n mens vriende op die vreemste plekke kan maak. Die plaaslewe is baie lekkerder as wat ek gedink het. Deur my ervaring op die plaas het ek nuutgevonde respek vir alle boere, voormanne en plaaswerkers. Dit is baie harder werk as wat 'n mens dink.

Elton: Die les wat ek geleer het in Plaasjapie is spel anders as wat jy sou lewe want dit is tog 'n game.

Gerda: Ek het besef dat krag, geloof en glo in jouself binne jou is. Al die ander dinge is omstandighede om jou. Al het ek nie gewen nie, het ek myself weer gevind. Ek is trots op wat ek vermag het en sal dit altyd onthou as een van die beste ondervindings van my lewe.

Jurie: 'n Gemaksone is 'n pragtige plek, maar niks groei daar nie. Ek het geleer dat ek myself net so bietjie verder moet druk as die vorige keer.

Laurika: Dat mense nie altyd die regte jy sien nie, en dat om jou sout werd te wees het niks te doen met wat ander van jou dink nie.

Marius: Die grootste les wat ek uit Plaasjapie geleer het en altyd my sal by bly is RESPEK vir jou medemens, wie en wat hy/sy is, hoe hy/sy voel; dit is een van my grootste eienskappe wat ek geerf het van my ontslape moeder. Tweedens is DISSIPLINE, I see it as the most important factors or pillars I based my life on, as mens en as soldaat.

Roche: Definitief om jouself te wees in in jouself te glo. Om te lead by example. Uiterlike voorkoms is regtig niks teenoor wie en wat jy binne in jou hart is nie. Die Here werk met jou hart en siel, die uiterlike gebruik Hy om met jou af te show.

Suzette H: Ek het eerlikwaar ingeskryf vir die ondervinding, was nie oor die geld nie. Ek het eers na die aansoek met 'n onderhoud gehoor die prys is 'n miljoen-rand. Ek het die aand met Bean se storie toe ek self geloop het diep in my hart gekyk en besluit dat daar soveel meer mense dit (die geld) nodig het as ek. So ek het geleer om tevrede te wees met wat jy het.

Suzette I: Ek moet altyd na my intuïsie luister, en ek moet my empathic nature embrace!

Wat is jou advies vir mense wat in Plaasjapie 2 wil deelneem?

Arthur: Deel gerus daai dinge wat vir jou moeilik was in die lewe - dit maak jou uniek en gee 'n storie wat vertel kan word oor jou. Wees trots dat jy dinge in jou lewe al deurgemaak en oorwin het, dit gee jou karakter en maak jou interessant. Fokus meer op die sosiale game as die plaaswerk, en probeer die span 'n eenheid te hou so lank as wat julle kan. Moenie dat 'n versplintering van lojaliteit julle verswak nie. Berei voor deur seker te maak jy is so fiks as moontlik is - die werk en uitdagings verg baie van jou liggaam. Maak jouself iemand wat nodig is, maar probeer om nie uit te staan as kompetisie nie. Sorteer enige konflik uit so gou as moontlik, dit is iets wat jou lank kan volg in die spel. En laastens, maak dit lig. Geniet elke liewe sekonde, dit vlieg verby, net een kan wen - so maak dit jou missie om die meeste uit die ervaring te put wat jy kan.

Billy: Vir enige iemand wat in die tweede seisoen van plaasjapie wil deelneem is my eerste advies maak seker jy luister as die boer instruksies gee. Bou soveel kennis op as wat jy kan. Dit gaan jou later in die spel help. Vertrou jou span, maar ook tot net op 'n punt. Dit is ongelukkig bewys dat spanlede in jou gesig sal lieg vir R1mil. En soos ek agtergekom het, dit help vir seker om fiks te wees. En net vir die record, daar is so baie verskillende goed wat ek gemaak het op die plaas met die bake beans en bullybeef. Kry solank 'n paar kreatiewe idees.

Elton: My advies vir die deelnemers is moenie terugstaan nie, skryf in - dit gaan awesome wees. Werk hard en geniet elke oomblik daarvan want dis nie net 'n game nie, dit is 'n amazing lewenservaring.

Gerda: Sjoe, dis moeilik om sulke raad te gee, want die volgende reeks gaan ander mense wees met ander karakter eienskappe. Ek sou sê, wees net jouself, wees regverdig, elkeen het 'n ander storie, wees oop daarvoor. Maak maats, geniet die bully beef en baked beans, geniet die strooimatrasse, jy gaan dalk nooit weer die geleentheid kry om so tromp-op met jouself gekonfronteer te word nie.

Jurie: Jy moet oral oë en ore hê. Geen mens kan 100% vertrou word nie, maar onthou dat jy na afloop van die opname van die program moet terugkom na 'n "regte wêreld" toe. Speel met integriteit.

Laurika: Ek het glad nie gedink Plaasjapie gaan die "Survivor" konsep hê nie, so ek het glad nie gedink aan strategie, wie ek aan my kant moet kry of enigiets van die aard nie. Ek het werklik gedink dit gaan slegs oor plaaswerk en wie sy sout werd is op 'n plaas. My advies aan Plaasjapie 2 deelnemers is: kry vinnig mense wat jy kan vertrou, smee bande en probeer om die game te speel, en geniet net elke liewe oomblik, want dit kan vinnig verby wees.

Marius: My advies is, berei vir jou geestelik en fisies voor vir deelname aan die program - onthou, 'n gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees, die geheim om suksesvol te wees op die program is om 'n balance te strike met alles wat jy het en alles wat jy gee en doen op die plaas. Wees bereid om hard te werk op jou plaas, lang ure te werk en wees bereid om te bloei vir jou plaas. Geniet elke oomblik en geleendheid wat jy kry en spandeer op die plaas, die mense met wie jy dit deurmaak, respect, discipline and co-operation is van die key factors in die lewe wat jou tot ver in die spel sal laat vorder. Die program is 'n marathon not a 100m sprinting race, berei goed daarvoor.

Roche: WEES JOUSELF. Trust me, wen of verloor, mense sien jou raak en hulle onthou jou vir hoe jy op die show was. So wys hulle wie jy regtig is. Gee jou beste en moet nooit lyf wegsteek nie. Dit kan jou dalk aan die einde kos. Geniet elke oomblik, want die dae op die plaas voel lank, maar as jy klaar is, voel dit soos 'n oogwink.

Suzette H: Dit is baie belangrik om die persoon te bly wie jy rerig is. As jy 'n ander persoonlikheid ontwikkel sal jou mede deelnemers jou (fake) optel. My raad aan die vroulike geslag deelnemers sal wees om asseblief bymekaar te staan. Ons vroulike geslag is sterk en kan alles hanteer maar dis moeilik om as vroulike deelnemer alleen teen mans mee te ding. Hulle sal jou saamsleep net om tot in die finale te kom, en dan al die sterker deelnemers uitstem. So julle dames klou aanmekaar en wees 'n span. En vorm alliansies (iets wat ek nie gedoen het nie) en konkel lekker. LOL

Suzette I: Doen dit! Wees oop en wees jou opregte self, en wees gereed om te groei as 'n mens! Daar is 'n baie delikate balans tussen die fisiese, "mental" en sosiale spel. Die sosiale spel speel 'n groter rol as wat mens besef, en jy gaan jouself moet gereed maak om soms teen jou woord te gaan om dit tot die einde te maak. 

Wat is jou seënwense vir die wenner van Plaasjapie 1?

Arthur: Dat beide die ervaring en prysgeld 'n daadwerklike positiewe verskil sal maak in hulle lewe, en dat dit vir hulle deure sal oopmaak wat voorheen geslote sou wees. En dat hulle besef hulle het 'n impak op die wat opkyk na hulle, en dat hulle sal aanhou om te boer met inspirasie en liefde.

Billy: Ek wil graag vir die wenner van Plaasjapie 1 sê dat ek bitter trots is op hom. Hy is 'n wonderlike mens en verdien dit deur en deur. Hy was vir seker 'n "underdog" in die spel gewees en het sy alliansies baie sterk gehou het. Hy het die game great gespeel. Dit wys die game gaan nie net oor sterk wees nie.

Elton: My seënwense is om net so 'n amazing mens te bly want jou lewe verander maar nie jy as mens nie.

Gerda: Ek wens die wenner net voorspoed en geluk toe. Hy het 'n goeie game gespeel en ek het nog altyd 'n sagte plekkie gehad vir iemand wat nie 'n maklike lewe gehad het nie en steeds bo uit gekom het. Ek is trots op hom en mag sy oorwinning hom help om die verlede te vergeet en sy toekoms met sy hele hart aan te durf.

Jurie: Om 'n kompetisie soos hierdie te wen is ongelooflik moeilik. Daar is veranderlikes waarvoor mens nie kan voorberei nie en spontaan moet benader. Dit forseer jou om persoonlike dinge in die gesig te staar wat mens onder normale omstandighede moontlik al weggebêre het. My seënwense vir die wenner is dat hy altyd sal onthou dat hy tot alles in staat is.

Laurika: Ek hoop dat hy regtig sy drome kan bewaarheid met die geld wat hy gewen het, dat hy net sukses na sukses verder sal behaal in die lewe, ek het elke episode gekyk en ek weet dat dit nie altyd maklik was nie, maar dat dit verseker die moeite werd was. Mens kan net groei as mens na so iets.

Marius: My seënwense aan die wenner van Plaasjapie is dat hy elke sent wat hy gewen het moet geniet want hy het hard gewerk vir dit en hy verdien dit. 

Roche: Ek wens natuurlik die wenner alles toe. Dit was nie 'n maklike game om te speel nie, so om as wenner weg te stap, verdien jy dit definitief. Ek hoop hy die wenner gebruik die platform wat hy kry om mense te help en inspire om altyd vorentoe te beweeg en positief te bly.

Suzette H: Almal van ons deelnemers het 'n rede gehad waarvoor ons die geld sou gebruik. Dit was rêrig hartroerend om te sommige se verhale te hoor van sukkel, stress, sommiges wat als verloor het. My wens is dat die wenner die geld sal aanwend waarvoor hy dit nodig het. En om altyd die person te bly wie hy/sy is. Geld kan mens so gou verander in iemand anders. Be true to yourself and to others.

Suzette I: Plaasjapie was 'n ongelooflike uitdagende spel, en ek glo die wenner het die perfekte balans gekry met die spel. Ek gun die wenner hierdie geleentheid sodat hy 'n beter toekoms vir homself kan bou.

*Plaasjapie is beskikbaar op DStv Catch Up. Volg die geselsies aanlyn op Facebook, Twitter of Instagram, en gebruik die hutsmerk #Plaasjapie.