Logo

David Kramer vertel sy storie

Nuus
19 Augustus 2015
David Kramer tree volgende maand by SuperSkouspel op. Ons het met hom oor sy loopbaan gesels.
SuperSkouspel_Ad

Foto deur Rene Maritz


Die multi-bekroonde dramaturg en regisseur David Kramer, bekend vir sy ikoniese werk met Volkswagen, asook sy bekende Afrikaanse en Engelse lirieke – eg aan die Kaapse vlaktes – tree volgende maand by SuperSkouspel op. Ons het met hom oor sy loopbaan gesels.

Kramer het ’n passie vir mense, die preservering van kulturele erfenis en die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse identiteit. “Vandag se gewilde musiek is môre se erfenis,” sê Kramer.

Hy het van kindsbeen af ’n liefde vir musiek: “Ek dink ek was 6 jaar oud toe my oupa konsertina in die sitkamer gespeel het. Hy was baie musikaal.

“My oupa het vir my ’n ukelele-kitaar gekoop en ek het daar, saam met hom in die sitkamer, begin musiek maak. Dit is waar dit alles begin het… daardie liefde om mense te vermaak, al kon ek nie noodwendig speel nie,” sê hy.

Kramer, wat soms beskryf word as ’n kulturele filosoof, sê hy ag homself as ’n storieverteller: “Ek dink baie oor geskiedenis en kulturele geskiedenis. Dis deel van my denkwyse.”

Kramer het vanjaar oupa geword, en spits homself deesdae toe op teaterwerk. “Ek geniet dit deesdae baie om musiekblyspele en dramas te skryf.”

Hy het vroeër die jaar aan Orpheus in Africa begin werk, ’n teaterstuk gebaseer op die verhaal van ’n Afro-Amerikaner, wat sy sanggroep Suid-Afrika toe gebring het in 1890. Volgens Kramer was dit die eerste Afro-Amerikaanse sanggroep wat na Suid-Afrika toe gekom het. “Dis gebaseer op ’n ware verhaal wat afspeel in Kaapstad.”

Hy het sowat tien jaar gelede op die verhaal van Orpheus McAdoo afgekom. “Ek is altyd op soek na ’n nuwe storie, en my navorsing inspireer my stories. Dit gee my die idees vir my karakters en my liedjies. Dit is waar die storie begin.”

Orpheus in Africa is weer op die planke by die Fugard-teater in September.

Vandag, meen Kramer, dat hy dieselfde persoon is wat hy 40 jaar gelede was. Hiéraan sou hy niks wou verander nie, en sê dat ’n mens altyd daarop gerig moet wees om jou eie stem te vind, en dus ook jou eie storie moet vertel.

Volgens Kramer het die regisseur Barney Simon aan hom ’n beter begrip gegee van wat hy doen: “Ek het gedink ek is net ’n gewone ou wat kan sing en kitaar speel.

“Die beste raad wat ek al in my lewe ontvang het, was van Barney in die vroeë 80’s. Hy het aan my gesê, ‘David, jy is nie ’n popsanger nie. Jy is ’n storie-verteller. Jy hoef nie net vir ander te sing nie. Jy kan vir ander ook skryf’. Ek vertel dus stories met my musiek,” sê Kramer.

Sy raad aan voornemende kunstenaars is om te verstaan wie jy werklik is en van waaraf jy kom. “Dit is belangrik dat jy jou eie styl ontwikkel…. jou eie stem hê,” sê hy. “Deesdae is dit baie moeilik om uit te staan bo die res. Baie kunstenaars klink dieselfde. Die een na-aap die ander, en alles klink naderhand dieselfde. Tog is daar stemme wat soms uitstaan, en dit is belangrik.

“Jy moet ’n oorspronklike styl en klank hê. As mense dit op die radio hoor, moet dit dadelik erkenbaar wees.

“Elke mens is uniek, en die ervaring wat jy het is absolúút uniek. Waar jy groot word, saam met wie jy groot word en jou kontrei beïnvloed jou natuur. ’n Mens moet dit altyd in ag neem,” sê hy. “Jou uniekheid kom uit jou ervaring, en jy kan dit dus gebruik om jouself, jou eie stem en jou eie styl te ontwikkel.”

Kramer, wat al in die bedryf is vir sowat 30 jaar, sê ’n groot hoogtepunt in sy loopbaan was in 1999, by die opvoering van Kat and Kings by die Vaudeville-teater in Londen se West End.

“Mandela het hierdie konsert bygewoon. Hy het vir ons gesê dat ons ons deel vir Suid-Afrika gebring het.”

David Kramer tree op by SuperSkouspel op 19 September 2015.