Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Dansende Duane se drome word waar – Fraksie

Nuus
25 Oktober 2022
Duane Williams is die sjarmante Jack wat nie net die vroue se knieë lam maak nie, maar ook sy kollegas en ouma so nou en dan diep laat sug.
Duane Williams Fraksie Article

Waar lê jou wortels en wat was jou drome toe jy ’n kind was?

Ek het in Hillview grootgeword, net agter Lavender Hill, en het saam met my ma, Gloria en jonger broer gewoon. Goeie herinneringe is besoeke aan ons familie in Houtbaai met Kerstyd en om wakker te word tussen my nefies en niggies en ander familie.

Wanneer het jy besluit om ’n akteur te word?

Van ’n baie jong ouderdom. Ek het nog altyd van flieks en TV-reekse gehou en het graag mense nagemaak. Selfs met dans – ek is ook ’n danser – het ek van kleintyd mense nagemaak. Ek het dit nooit as ’n loopbaan gesien nie, maar tog gedink dit is dalk ’n manier om my en my gesin uit ons omstandighede te kry. Ek het ander dinge aangepak en toe eers ’n professionele danser geword en so sewe jaar gelede het ek die kans gekry om as akteur te werk. Daar het ’n deur oopgegaan en ek het dit gesien as ’n teken van God. Ek kon dit laat gaan het of die mens geword het wat ek nog altyd wou wees. En ja, sewe jaar later is ek hier.

Wat was jou loopbaanhoogtepunte tot dusver?

As ek eerlik moet wees, is dit Fraksie. Net om saam met hierdie rolverdeling te werk, was ongelooflik. En om saam met die regisseur Nina Swart te werk was ’n droom wat waar geword het. Sy het regtig die beste in my uitgebring.

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van Jack gekry?

Ek was baie opgewonde. Veral toe ek gesien het die karakter is totaal die teenoorgestelde van wie en wat ek is.

Wat het jy die meeste van die rol geniet?

Dis iemand wat ek nié is. Om Jack te word wat so vol van homself is en so gewoond is aan geld vandat hy klein was, was vir my interessant. Dit was lekker om in sy skoene te loop en myself voor te stel hoe dit moet wees om altyd soveel rykdom te hê. Hy het ook selfvertroue en intelligensie wat lekker was om te speel. Hy kom met soveel dinge weg.

Wat is die groot rol wat jy nog wil speel?

Ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Ek wil alles moontlik doen. Ek wil net speel en perform en in verskillende karakters se skoene loop. Dalk ’n rol in ’n aksiefliek op Hollywood-skaal?

Waarmee jou jy jou besig tussen rolle?

Ek hou daarvan om soveel moontlik saam met my vrou, Cleo, te wees. Sy is ook in die vermaakwêreld en wanneer ons tyd het, hou ons daarvan om te gaan stap of op ’n spesiale afspraak te gaan. Ons is al twee dansers en hou daarvan om vir klasse te gaan en is ook baie lief vir reis. Ons gaan om die waarheid te sê in Januarie vir ’n maand Amerika toe. Hierdie gebeur natuurlik alles tussen oudisies want ek probeer so veel moontlik werk.

Fraksie het ’n groot, talentvolle rolverdeling. Het jy dit ook as ’n leerproses ervaar?

Ja, van die eerste oomblik. Ek het ’n spons geword en alles ingedrink – van die ander akteurs tot die werk wat die tegniese span doen. Dit is so ’n ongelooflike groep spelers en ek het opgelet hoe elkeen te werk gaan en hoe hulle die kleinste nuanses in hulle spel sal bring. Ek stap altyd op ’n stel met die wete dat ek daar is om te leer. Dit was so ’n voorreg om saam met almal te werk en hulle was baie vrygewig met hulle raad. Ek het beslis as mens en akteur gegroei. Dit was ’n ongelooflike proses.

Wat is jou gunsteling-reeks en -fliek van alle tye?

Dis ’n baie moeilike vraag want daar is soveel goeie reekse en flieks. Maar as ek vinnig moet dink aan een, is een van my gunstelinge Severance. Wanneer dit by vertolking in ’n fliek kom, is dit beslis Christian Bale in American Psycho.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Daar is ’n fliek in November en Desember, maar dan gaan ek rus en tyd saam met familie spandeer en rustig die jaar uitsien.

 

Bly elke Dinsdag ingeskel op kykNET, kanaal 144 vir 'n splinternuwe episode van Fraksie, maar onthou ook om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk, #Fraksie te gebruik.