Logo
Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Dankie, Lottoland

144RealiteitPG

Dankie, Lottoland maak drome waar

Nuus
12 Maart 2021
Dankie, Lottoland is ‘n nuwe program wat daarop gaan fokus om ‘n hand uit te reik na dié wat dit die nodigste het.
Lottoland bb

Die afgelope jaar het die mat onder mense se voete uitgeruk. Ons moes gewoond raak aan ‘n nuwe manier van lewe en vir menige was dit ‘n tyd van swaarkry en sente omdraai.

Dankie, Lottoland is ‘n nuwe program wat daarop gaan fokus om ‘n hand uit te reik na dié wat dit die nodigste het. In hierdie reeks van dertienepisodes gaan daar gefokus word op verskeie liefdadigheidsorganisasies en sal daar van warm water aangelê word tot kos en beddegoed verskaf word.

“Maryke Haywood van Lottoland wou ‘n verskil in mense se lewens maak,” sê een van die vervaardigers van die program, Johrné van Huyssteen. “Ek en my medevervaardiger, Francois Nolte, het toe saam met haar en haar span gesit om te kyk watter konsep vir TV kan werk. Die uiteinde was Dankie, Lottoland.”

In elk van die programme gebruik ons twee bekendes by ‘n liefdadigheidsorganisasie wat hulle na aan die hart lê. Hulle besoek die organisasie,vind uit wat broodnodig is en dan om in die behoefte te voorsien. In die eersteepisode van die reeks besoek Dewald Wasserfall en Simoné Pretorius Rock of Hope, ‘n plek van veiligheid vir baba’s en jong kinders in Pretoria, en hulle ‘n reuse verskil in dié organisasie se bestaan. Ander bekendes wat in die reeks ‘n verskil gaan maak, is o.a. Francois van Coke, Duane Vermeulen, Mimi Mahlasela en Therese Bam.

“Ons het met hierdie projek net weer besef wat die waarde van die woord dankbaarheid is, veral in hierdie tye,” sê Johrné.  “Daar is soveel oomblikke wat uitstaan. Dis ongelooflik om te sien wat mense se reaksie is wanneer daar vir lank nie lig op die horison was nie, maar nou word daar ‘n uitkoms gebied.”

Dankie, Lottoland is nie net ‘n droom wat vir Lottoland waar geword het nie, maar ook vir Johrné en Francois.

“Ons ken mekaar al 27 jaar,” sê Johrné. “Ons het saam studeer en toe later vir ses jaar saam Gons op kykNET en MK aangebied. Nou, ná bykans ‘n dekade, werk ons saam as vervaardigers en kan ons ‘n impak op mense se lewens hê. Wat ‘n voorreg.”

Dankie, Lottoland begin op Saterdag 3 April om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).