Logo
Arendsvlei S6
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

‘Daar is ’n beter manier hoe hy die situasie kan hanteer’ – Arendsvlei

Nuus
19 Oktober 2023
Watter ooreenkomste deel Loukmaan Adams met sy karakter “Coenraad” in Arendsvlei? Ons vind uit!
Loukmaan Adams

Sy karakter maak vele kykers van Arendsvlei se bors warm: Sommige sê “Coenraad moet sy ry kry” en “hy het net alles kom deurmekaar maak.”

Loukmaan Adams, ‘n bekende Suid-Afrikaanse sanger en akteur, vertolk die rol van die sjarmante Coenraad (Bianca se eks) wat die afgelope paar weke kykers laat opsê want sy karakter maak moeilikheid tussen die paartjie, Bianca en Thys.

Sommige glo ook dat Coenraad “reeds ‘n houvas op haar” het.

Die vraag is: Gaan Coenraad vir Bianca kan oorreed om sy aanbod te aanvaar? Of gaan hy aanvaar dat hy sy sielsgenoot gaan verloor?

kykNET se digitale span het met Adams gesels oor liefdesbriewe, sy doen en late agter-die-skerms, en het uitgevind of hy so romanties is soos sy karakter, Coenraad.

Het jy al 'n liefdesbrief geskryf of dalk ene self ontvang?

Toe ek die eerste keer een gekry het was ek ongelooflik jonk, ek het nog een gekry toe ek in my twintigs was – dit was bietjie weird, want dit was van ’n werkgewer se dogter. Ek het glad nie geweet hoe om dit te hanteer nie, haha!

Wat is jou gunsteling love song?

As ek een moet kies, sal dit Atlantic Star se Always wees.

Wat is die mees romantiese ding wat jy al vir jou vrou gedoen het?

My vrou sal seker sê ek is glad nie romanties nie, alhoewel ek dink ek is. Ek moet daaraan werk, sjoe! 

Was jy al in Europa?

Ja, ek was in Parys, Duitsland en Italië. Ek sal love om weer te gaan!

Wat dink jy is die mees romantiese plek in die wêreld, en hoekom dink jy so? 

Iets soos Zanzibar of Bali. Enige plek wat water het en waar mens aktiwiteite kan doen soos op die strand stap en na spa’s kan gaan. Dit klink vir baie romanties!

Wat geniet jy omtrent jou rol van "Coenraad" in Arendsvlei en is daar iets omtrent hom wat jou kwaad maak?

Ek moet vir Coenraad props gee! Net om nooit op te hou hoop nie en om te sien of daar ’n tweede kans is, is braaf. Ek het respek vir hom. Maar as iemand in ’n verhouding is, dink ek daar is ’n beter manier hoe hy die situasie kan hanteer.

Vertel meer van jouself. Watter projekte het jy onlangs gedoen, waarby is jy betrokke?

Ek het ’n paar projekte aan die gang. Die groot een is Unity on the Square op die 16de Desember in Kaapstad. Ons vier hoe ver ons gekom het, hoe ons altyd saamstaan en ons hou partytjie! Na dit beplan ek weer om met my broer, Emo, te werk aan ’n produksie by die Baxter teater en dan doen ek ook ’n MSC Cruise!

Wat is jou stokperdjies of waarmee hou jy jouself besig buiten akteurswerk? 

Ek het nie veel stokperdjies nie, ek spandeer nou tyd met my drie dogtertjies en probeer al my vrye tyd met my familie spandeer. Hulle het baie energie so ek doen baie aktiwiteite met hulle soos om vir stappies te gaan, aktiwiteite doen by ’n speelpark en dan wanneer ons by die huis kom is hulle lekker moeg en wil net gaan slaap, haha!

Is daar 'n oomblik agter die skerms op die Arendsvlei-stel wat uitgestaan het vir jou?

Ek geniet dit baie omdat ek met vriende werk wat ek baie jare gelede laas gesien het.

Ek oefen baie hard om my lyne te ken en ek vra honderde vrae oor hoe hulle dit regkry. Dit gaan my verstand te bowe om te sien hoe hulle net opdaag, die script lees en sê; “Cool, let’s go!” Ek stres vir drie dae voor ’n toneel!

Ek moet ook net byvoeg: daar is niks ego’s op stel nie, almal is gesellig en plat om die aarde. As jy 05:30 instap is almal gelukkig en reg vir die dag en dit maak die verfilming baie makliker. Dis nie iets wat jy op baie produksies kry nie.

Arendsvlei is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) en is ook beskikbaar op DStv Stream.