web uni tv guide
Bolhuis 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Bolhuis

144Realiteitsprogram16

Bolhuis is terug!

Nuus03 Junie 2019
Jy het reggehoor, ja.
Bolhuis 2

Goeie nuus: Bolhuis is vanaf 31 Julie terug op kykNET. Spesialis ondersoeker, Mike Bolhuis, wend weereens sy allerbeste pogings aan om misdaad te beveg en boewe agter die tralies te laat beland.

In die tweede seisoen is Mike op soek na internasionale voorvlugtiges, fokus hy op moorde tot bedrog en kyk na die nuwe dwelms wat veral skoolkinders teiken. Okkultiese bedrywighede word onder die soeklig geplaas, en Mike probeer ’n dorp red en waarsku op sy unieke manier wie jy op verlief moet raak en wie nie.

Ons sien die sagter kant van Mike wanneer hy Kimberley besoek om die flaminke vry te laat wat hy onlangs gered het, en daar is selfs ’n troue op die horison. Soos met die vorige seisoen kan kykers ’n Mike verwag wat nie skroom om doekies om te draai nie!

Die eerste seisoen van Bolhuis, met die baasspeurder Mike Bolhuis as sentrale fokus, het kykers se verbeelding aangegryp en vasgenael gehou. In dié reeks het Mike na vorige sake gekyk en het hy en die res van sy span ’n kykie gegee in hoe sake deur hulle opgelos word.

Dit het behoorlik oor Bolhuis op sosiale media gegons tydens die uitsending van die eerste seisoen:

“Ek dink dit is een van die beste programme ooit. Die mens agter die speurder word sonder pretensie en op ’n eerlike manier uitgebeeld.”

“Uitstekende program. Mis dit vir niks,” het een kyker gesê.

’n Ander kyker het gesê: “Hou nogals van Bolhuis. Hy sê ’n ding soos dit is en draai nie poepies om nie!”

Nog ’n kyker het het die volgende te sê gehad: “Mike Bolhuis and producers and all, simply the best. Thank you. Love homegrown series and happenings. Keep going, kykNET.”

Die eerste seisoen was skaars klaar of kykers het begin vra: Nog, asseblief!

Soos een kyker geskryf het: “Ek hoop regtig daar gaan nog reekse wees. Daar moet blêrrie baie sake wees om te verfilm. Ek like Mike!”

Die kykers het gevra, en kykNET het geantwoord. Skakel vanaf Woensdag 31 Julie 20:00 in vir die tweede seisoen. Die eerste seisoen van Bolhuis sal vanaf Woensdag 31 Julie 21:00 op kykNET&kie uitgesaai word. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram. met die hutsmerk #Bolhuis.