Logo

Willem Botha g’n swartskaap

Nuus
05 Desember 2017
Ons loer in by Willem Botha op sy ouerplaas buite Riversdal.

Sanger en aanbieder Willem Botha het geen bekendstelling nodig nie. In 2006 is hy as naaswenner van kykNET se Afrikaanse Idols bekroon. Vandag vermaak hy skare regoor die land.

Wat almal dalk nie weet nie, is dat Willem en Boer Soek ’n Vrou se Boer Adriaan dieselfde tuisdorp deel, en Willem óók ’n plaasseun is. “Ek het op ’n plaas grootgeword, 10 km buite die dorp,” vertel hy.

“In die beginjare het ons fynbos-plantegroei uitgevoer en toe met ’n melkboerdery begin en ook met Arabierperde geteël. Ek en my broer het albei kompeterend perdgery as sport – skou en langafstand-uithouritte. Ek was in Hoër Landbouskool Oakdale op skool, en het in 2005 gematrikuleer.”

Die Bravo!-span het onlangs by hom ingeloer:

Idols het Willem nie net harte verower nie, maar ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf begin wat behoorlik vlamgevat het. Hy sê dat hy slegs ’n week ná Idols Johannesburg toe getrek het. “Sederdien bly ek in Pretoria. Die enigste rede hoekom ek stad toe getrek het, is as gevolg van my werk en al die geleenthede wat die stad bied.

Willem ontvlug egter gereeld terug plaas toe. Daarom het ons besluit om hom te vergesel en dié blonde boereseun van nader te leer ken:

  1. Wat was jou rol op die plaas?
    Beide my ouers het ander werke gehad in die dorp. Ek en my broer het die hele perde-besigheid op ons eie bestuur – van die versorging tot oefening. Dit was ons verantwoordelikheid en het ons soveel dissipline geleer.
     
  2. Wat is jou beste herinneringe van die plaas tydens jou grootwordjare?
    Die een ding waarvoor ek altyd so dankbaar is, is die vryheid wat ons gehad het as kinders. Ons plaas is geleë in die kloof en tussen berge, en ons het dit gehad as ons speelplek. Ons kon met die perde rondjaag en het altyd ‘cow boys en crooks’ gespeel.
     
  3. Hoe gereeld gaan jy terug plaas toe, en hoekom is dit die ideale plek vir jou om heen te ontvlug?
    Elke keer wat ek in die Wes- of Oos-Kaap optree, probeer ek altyd tyd maak om plaas toe te gaan. Soms is dit letterlik vir twaalf ure. Dít selfs is genoeg vir my. Die feit dat ek nooit hoef bekommerd te wees om myself te wees nie en net te kan ontspan is so lekker. Ek het selfs nog my kas vol plaasklere daar, so ek pak nie eers klere in as ek soontoe gaan nie.
     
  4. Wat maak jou nostalgies as jy nie op die plaas is nie?
    Die stilte en uitsig. Die lekkerste gevoel is as mens op die stoep sit terwyl dit saggies reën en jy hoor die paddas in die rivier. Dit lyk en klink soos ’n prentjie uit ’n fliek.
Kyk hoe lekker ontspan Willem op die plaas:

Gallery
Boer Soek 'n Vrou Willem Botha01

Vanjaar was ’n groot jaar vir Willem. Nie net het hy ’n nuwe CD vrygestel nie, maar hy was ook die aanbieder van die program chatNOU! op kykNET NOU!, en het boonop die skoene van Kwêla-veldaanbieder, sowel as aanbieder van die gewilde musiekprogram Die Top 20, aangetrek.

LEES OOK: WILLEM BOTHA – DIE VREESLOSE DROMER

Natuurlik is Willem ’n groot aanhanger van Boer Soek ’n Vrou. “Dis altyd ’n goeie punt van gesprek by ’n partytjie,” vertel hy. 


“Ek dink nie die plaaslewe is vir almal nie, maar dis verseker iets wat jy gewoond aan kan raak,” sê hy.

Sy raad vir diegene wat die boere op hul plase besoek is om deel te word van die gemeenskap. “Jy moet oop wees om by die dorp en gemeenskap in te skakel, veral as jy in ’n klein dorpie bly. En raak betrokke by dinge op die plaas, asook die dorp, sodat jy nie heeldag net in die huis sit nie.”

Willem se nuwe album, Soen & Vergeet, is onlangs vrygestel en is die perfekte album vir die lang pad plaas toe. Kyk hier onder na sy nuutste musiekvideo vir die liedjie, “Swartskaap”:

Willem is Vrydae om 20:00 te sien in Die Top 20 op kykNET NOU!, DStv-kanaal 145, en Sondae om 20:00 in Kwêla op kykNET, DStv-kanaal 144.  

Dié week se episode van Boer Soek ’n Vrou leer die boere hul kuiergaste beter ken en stel hulle aan die plaaslewe bekend. Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.