Logo

Boer Soek ’n Vrou: Vyf word drie

Nuus
11 November 2016
In hierdie week se episode van Boer Soek ’n Vrou kon die boere drie dames plaas toe nooi, maar vir een boer het dinge ietwat anders uitgedraai.
BSV 9 Ep4 Hennie 01

Dié week kry ons boere die geleentheid om al vyf vroue wat hulle verlede week ná die blitsafsprake gekies het op ’n uitstappie te neem. Dis nie net pret en plesier nie; ’n moeilike keuse lê voor omdat elkeen slegs drie vroue saam plaas toe kan nooi.

Hennie is voor in die ry en gaan saam met Elizbé, Chantelle, Chevé, Maronel en Marléne na springmat-hemel, oftewel die Rush-“bonspark”.

Chevé dink die avontuurlustige Hennie wat sy in sy video raakgesien het kom veral vandag na vore.

Hennie, wat ’n paar keer ’n stukkie trampolien gekoop het, sê: “Die meisies maak ’n man se knieë lam. Dit was eintlik tegniek ook – om te kyk wie gee om!”

Elizbé voel nie werklik die kompetisie nie: “Ek sal eerder met vriende wegstap as met vyande.”

Tydens middagete gesels die klomp oor langafstand-verhoudings. Hennie se broers was al drie in langafstand-verhoudings, so dié boer “kan sien dit werk.”

Marléne stem saam, omdat sy dink ’n langafstand-verhouding kan werk wanneer ’n mens aanpasbaar is.

Noudat hulle meer tyd saam gehad het hoop Chevé dat die boer haar “mooi hart” sal raaksien.

“Ek sit met ’n probleem,” sê Hennie vir Minki. “Almal is baie oulik.”

Hy sê hy het ’n “lekker sarkastiese kant”, en wou dit vandag uittoets. “Dis vir my belangrik dat ons kan saamlag.”

Dan word dit tyd vir Hennie om sy keuses bekend te maak en hy vra vir Elizbé, Chantelle en Marléne om saam plaas toe te gaan.

Maronel kan sien dit is vir Hennie moeilik om twee vroue huis toe te stuur. “Dis natuurlik om emosioneel hieroor te wees. Ek dink hy het dit goed hanteer.”

Chevé sê sy is hartseer, maar het geweet daar is ’n moontlikheid dat dit gaan gebeur. “Dit maak dit rêrig baie beter om te weet hy het stunning meisies saam met hom.”

34 bsv 9 ep4 hennie 01

34 bsv 9 ep4 hennie 02

34 bsv 9 ep4 hennie 03

34 bsv 9 ep4 hennie 04

34 bsv 9 ep4 hennie 05



Leon-Fritz toets vandag Madri, Tanya, San-Marié, Marna en Chanté se bestuursvernuf by Century Karting.

Al moet hy dit self sê, dink dié boer hy het uitstekend gekies. “Aangetrokkenheid is vir my belangrik,” sê Leon-Fritz. “Dis ’n absolute bonus dat die meisies nog mooi ook is, want daar is rêrig eienskappe wat uitstaan.”

San-Marié meen vandag is vir haar moeilik, omdat Leon-Fritz sy keuse gaan baseer op watter vroue uitstaan in die groep. “Ek gaan nie baklei vir aandag nie.”

Tanya dink weer jy sal ’n indruk maak deur net jouself te wees, “as jy vir die regte redes hier is.”

Tydens middagete wil Leon-Fritz by die vroue weet of hulle dieselfde dinge in hom raaksien as wat hulle het toe hulle sy video gekyk het.

San-Marié dink hy is ’n “diep ou”, en “dis vir my só positief!”

Madri sê: “Die opregtheid en die humorsin kom nogal deur.”

Marna meen die boer is nie nét vol grappe nie, maar ernstig ook. Sy sal graag self wil boer, omdat dit ook haar passie is. “Ek gaan jou nie toesluit in die kombuis nie!” spot Leon-Fritz.

Volgens Chanté verstaan sy wat ’n boer nodig het in terme van ondersteuning, maar moet Leon-Fritz besluit of sy by hom gaan pas.

Tanya dink Leon-Fritz weet presies wat hy op die ou einde wil hê. “Daar is vrede in die hart.”

Die boer sê later vir Minki hy gaan sy keuse baseer op “waarvoor sy staan; wie sy is; wat vir haar belangrik is… eienskappe wat ek sien in haar.”

Het hy al van hierdie eienskappe in die vyf vroue gesien? wil Minki weet. “Ek dink, uh, volg maar die program!” lag Leon-Fritz. “Dit werk nie so nie!” sê Minki.

Hy dink elkeen van die vyf het eienskappe wat vir hom belangrik is. “Anders sou hulle vyf nie hier gewees het nie.”

Hy kan egter net drie kies, en besluit om vir Tanya, Marna en Chanté beter te leer ken.

“Ek kom van die stad af; ek ken nie die plaas nie, so ek is glad nie verbaas nie,” sê Madri.

San-Marié sê die vroue is bevoorreg “om iemand te hê wat oop kommunikasielyne hou met hulle.”

34 bsv 9 ep4 leon 01

34 bsv 9 ep4 leon 02

34 bsv 9 ep4 leon 03

34 bsv 9 ep4 leon 04

34 bsv 9 ep4 leon 05



Rob gaan saam met Estelle, Helga, Maureen, Carin en Elizna na Whow Studios sodat dié adrenalien-junkie iets kreatiefs kan doen. Hy weet nie of hy op sy kunswerk of gesprekke met die vroue moes fokus nie, lag die boer.

“Daar is min talent vir potmaak in hierdie groep!”

Die vroue dink egter nie hy is afsydig nie. “Hy luister en hy kyk,” sê Elizna, en voeg by dat Rob met almal oogkontak maak. “Dit trek my aan na ’n man toe.”

Hoekom is hulle dan vandag in ’n “kunsplek”, soos Rob dit noem? “Het enigiemand iets van kuns in hul briewe gesê?” vra Elizna. “Ek het daai uitgegooi,” spot Rob.

Maureen hou van Rob se intensiteit en waardeer die feit dat die boer nie sy woorde mors nie.

Helga het Rob se mooi arms en hande opgelet. Sy sukkel egter vandag om die boer se aandag te trek, sê sy. “Uit ons vyf is ek die stiller ene.”

Estelle sê sy is “baie uitgesproke”, wat haar dalk meer laat uitstaan. “Ek kan nogal ’n stywe situasie vir jou vinnig omdraai.

“I don’t do this whole prim and proper,” sê sy tydens middagete. “Jy kan maar onbeskof wees!” spot Rob.

Maureen sê sy dink sy het dalk ’n onregverdige voordeel, omdat sy op skool al van Rob geweet het. “Maar Rob is ’n regverdige ou,” sê sy.

Later sê Rob vir Minki: “As hulle hulself is, sal ek hulle raaksien vir wie hulle is. Hulle hoef niks spesiaal te doen nie.”

Haar persoonlikheid en ’n “energie wat met my klop” is iets wat dié boer aangetrokke tot iemand laat voel.

Dan word dit tyd om te kies, en Estelle, Elizna en Maureen gaan by Rob op sy plaas aansluit.

Helga dink “Rob was sensitief gewees met die uitstemmery.”

Carin voel nie hartseer nie. “Ek is net nie sy pot se deksel nie.”

34 bsv 9 ep4 rob 01

34 bsv 9 ep4 rob 02

34 bsv 9 ep4 rob 03

34 bsv 9 ep4 rob 04

34 bsv 9 ep4 rob 05



Arno en Mareli, Janine, Carien, Jenny en Jacobu is gereed vir ’n adrenalien-gevulde dag by SA Forest Adventures.

Carien sê sy is gemaklik rondom die ander vroue, en dis nie meer vreemd om rondom Arno te wees nie. Jenny sê: “Ek hou van wat ek sien.”

Is daar dalk iemand wat reeds verlief is? Volgens Janine is daar iemand wat “baie aangetrokke” is tot die boer. Sy dink egter nie daar is kompetisie onder die vroue nie.

“Daar is rêrig ’n lekker vibe tussen hulle almal,” dink Arno.

Tydens middagete gesels die boer en vroue oor allerhande dinge. “Dit was belangrike vrae gewees, maar nie iets wat ’n mens ongemaklik laat voel nie,” sê Mareli.

Hoe voel die boer oor kinders? wonder Carien. “Ek love kinders,” sê Arno.

Jacobu dink nie sy het soveel “oopgemaak” teenoor die boer soos van die ander vroue om die tafel nie.

Carien meen die vroue is nogal uiteenlopend. “Dis vir my moeilik om sy smaak te peil,” sê sy, en voeg by dat sy hoop Arno kry die een wat by hom pas.

Later sê Arno vir Minki het het “baie meer” duidelikheid na die groepuitstappie. Hy dink daar “is potensiaal vir iets om te ontwikkel.”

Arno vra vir Mareli, Jenny en Jacobu om saam met hom plaas toe te gaan.

“Ek voel baie rustig,” sê Janine, wat haarself voorberei het om moontlik uitgestem te word. “Ek het nie my hart heeltemal daarop gesit nie.”

Carien sê sy “is natuurlik ’n bietjie teleurgesteld, maar ek dink rêrig hy het die beste keuses vir hom gemaak, en dit is waaroor dit gaan.”

34 bsv 9 ep4 arno 01

34 bsv 9 ep4 arno 02

34 bsv 9 ep4 arno 03

34 bsv 9 ep4 arno 04

34 bsv 9 ep4 arno 05



Johannes en Valrie, Marga, Danielle, Selma en Marlu klim en klouter vandag by Hangtime Climbing Gym.

“Elkeen kom met hul eie persoonlikheid,” sê Marga. “Ek dink nie mens kan dit ’n kompetisie noem nie.”

Om die etenstafel gesels Johannes en sy dames oor ’n moontlike lewe op die plaas. Selma sê hoewel die boer dit subtiel doen, hy almal betrokke kry.

Marlu sê sy sal graag ’n perdeskool wil begin. “Het jy al perd geëet? Sorry,” sê Johannes. “Nee!” sê Marlu. “Het jy al?” wil sy weet. “Ek was oorsee; dis wat hulle doen daar,” sê die boer.

Later sê sy: “Ek het nie ’n probleem daarmee dat hy dit geëet het nie. Dis net nie vir my nie.”

Johannes sê later vir Minki hy is gek oor Selma se ambisie, Valrie se waardes, Danielle se intelligensie, Marlu se hart en intensies en Marga se energie en spontaniteit.

Die boer word egter onkant gevang wanneer hy sy keuses bekend maak. Hy kies vir Marlu, Marga en Danielle, maar Marlu sê sy wil ongelukkig nie saamgaan plaas toe nie.

Marlu meen sy sal dadelik weet wanneer iets werk of nie werk nie.

Lees meer hier.

Selma sê sy was bietjie teleurgesteld in Johannes se rede (dat hy haar nie beter wil leer ken nie), maar sy respekteer sy besluit.

34 bsv 9 ep4 johannes 01

34 bsv 9 ep4 johannes 02

34 bsv 9 ep4 johannes 03

34 bsv 9 ep4 johannes 04

34 bsv 9 ep4 johannes 05



Minki gesels oor die dames wat die boere gekies het:



Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.


Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.