Logo

Boer Soek 'n Vrou: Elke pot soek ’n deksel

Nuus
02 Oktober 2015
Elke pot soek ’n deksel, elke haan soek ’n hen en elke boer soek ’n vrou. Die tyd het aangebreek vir die nuutste seisoen van Boer Soek 'n Vrou
BSV Ep01 Artikel
Elke pot soek ’n deksel, elke haan soek ’n hen en elke boer soek ’n vrou. Die tyd het aangebreek vir die nuutste seisoen van Boer Soek 'n Vrou en agt manne en twee dames is op soek na iemand om die lewe saam met hulle op die plaas te deel. Wie sal Suid-Afrika se volgende sprokiesverhaal vertel?

In vandeesweek se episode het aanbieder Nadia Beukes weereens die land deurkruis om dié tien boere in lewende lywe op hulle plase te ontmoet. Op die boere se plase het sy uitgevind waarmee hulle boer, wat hul belangstellings is en waarna hulle in ’n lewensmaat soek.

Eerste aan die beurt was ons jongste boer PJ, ’n dinamiese en moderne boer van Ficksburg wat boer met Boran-beeste en wild. “As ek my kop op iets sit dan volg ek dit.” Volgens hom is dit belangrik om nie vir elke persoon wat jy ontmoet jou liefde te gee nie, want “dan het jy niks meer om te gee wanneer die regte persoon op jou pad kom nie.”

Volgende het Nadia vertrek na Clocolan om boer Louwrens, ’n stoetboer, op sy plaas te ontmoet. “Dit is ’n voorreg om elke oggend te kan uitstap en die natuur te kan sien, en net tussen my beeste te wees”, het hy gesê. “Ek dink nie ’n mens kan regtig aan iemand beskryf hoe dit is om elke dag die resultate van dít waarvoor jy hard werk te sien nie.”

Louwrens is ’n boer wat floreer op liefde en sal onvoorwaardelik omgee vir die vrou wat hom aanvaar nes hy is. “Ek is geleer om ’n vrou met absolute respek te hanteer,” het hy gesê.

Diana, die eerste van ons twee vroulike boere, boer met tamaties en suikerriet in Pongola. “Dit is vir my belangrik om mense op te lig, want ek self is ’n baie gelukkige mens.” Verder het sy gesê: “Ek is baie gelukkig in myself. Ek het ’n lekker lewe. Elke mens het iemand nodig om daardie spesiale oomblikke mee te deel.”

Volgende aan die beurt was boer Ignus, ’n veeboer van Delareyville. “Ek is nie ’n kontak-persoon nie, maar ek sal daarvan hou om iemand die heeltyd by my te hê,” het hy gesê. "Ek wil nie alles alleen doen nie, maar ek wil ook nou nie hê sy moet aan my klou soos ’n apie aan sy mamma nie,” het hy verder gesê. “Ek soek ’n opregte dametjie.”

Nadia vertrek toe daarna na Niel se plaas in Bloemhof. Niel besit ’n saai- en veeboerdery en sy visier is beslis gerig op iemand wat op die plaas gaan aard. Hulle sê dat jou huis is waar jou hart is en Niel se hart is op die plaas. “As ’n ding nie vir my reg voel nie, sê ek nee en loop weg of doen iets anders,” het hy gesê. “Ek vertrou te maklik, maar ’n ou moet ’n kans vat anders sal jy nie weet as jy nie probeer nie.”

Derius, ’n boer van Orania wat met besproeiiing werk en ’n wildsplaas besit, was die volgende boer op Nadia se pad. Hy meen ’n mens moet realisties wees wanneer dit by liefde kom. “Enige verhouding moet uit ’n vriendskap ontwikkel,” het hy gesê. “Jy werk met mense se harte hier. Jy moenie net op jouself fokus nie.” Derius is beslis nie iemand wat wag dat die lewe met hom gebeur nie. “’n Mens moet kan saam bou en saam groei in ’n verhouding. Daar is nie so iets soos love at first sight nie,” het hy gesê.

Gawie, ’n skaapboer van Marydale, is ’n jong boer met ’n ou siel. Hy het vertel dat dit vir hom belangrik is om eerbaar te lewe. “Geloof, verhoudings en mense is belangrik vir my,” het hy gesê. ’n Spontane dame met ’n goeie sin van humor is waarna Gawie op soek is. “Ek is opsoek na iemand aanpasbaar,” het hy gesê. “Iemand wat saam met my deur die lewe kan beweeg; iemand wat saam met my kan leef.”

Helen, ons tweede vroulike boer, was volgende aan die beurt en is ’n boer wat nie net raakvat op die plaas nie, maar ook in die kombuis. Helen boer met merinoskape in Bloemfontein. “Ek het nog nie die regte een ontmoet nie,” het sy gesê. “Ek wag eerder vir die regte een voordat ek my hand gaan brand op onnodiges.”

Daarna het Nadia vertrek na Uniondale, waar sy vir Michael tussen sy jong volstruise en boerbokke gaan kuier het. Saam met sy boerdery bestuur Michael ook ’n gastehuis. Hy meen dat die gepaste dame goed sal aanpas in die gasvryheidsbedryf. Hy is op soek na ’n vrou met ’n goeie sin van humor. “Mens moet eerlik met mekaar wees,” het hy gesê. “As ek na die foto gaan kyk en daar is nie ’n aantrekking nie, gaan ek dit eenkant plaas.”

Laastens was Nadia ingewag deur boer Christiaan in sy kelder. Christiaan is ’n wynboer van Worcester en glo dis tyd vir ’n vrou in sy huis. “Ek dink as ’n mens jonk is en jy trou is ’n jy baie gedrewe om ’n sukses te maak van jou werk,” het hy gesê. “Ek dink dan skeep ’n mens die aandag en die emosionele gedeeltes van ’n huwelik af. As jy ouer is kan jy meer tyd maak vir daardie kant van die huwelik, wat belangrik is.”

In die volgende episode van Boer Soek ’n Vrou lewer Nadia dié tien boere se briewe af. Dan sien ons ook watter vyf boere se wel en weë ons oor die volgende 13 weke gaan volg.

Kyk Boer Soek 'n Vrou, elke Donderdag om 20:30.