Logo

Boer Soek ’n Vrou Eksklusief: Het jy geweet?

Nuus
23 Oktober 2017
Boer Soek ’n Vrou-vervaardiger Elmarie Botha gesels oor wat alles in ’n trefferreeks soos Boer Soek ’n Vrou ingaan.
BSV_Elmarie_Banner

Hier waar sy op ’n stomp in Loeriesfontein sit, is sy heel op haar gemak. Die lang ure tussen plaaspaaie is nie meer vir haar vreemd nie – dit het sinoniem geword met een van die suksesvolste Suid-Afrikaanse werklikheidsheidsreekse van alle tye en Elmarie was dáár toe alles begin het.

“Die Boer Soek ’n Vrou-formaat het oorspronklik in Engeland ontstaan. Dit word wêreldwyd gedoen in ’n hele paar lande. My grootbaas het destyd vir my gevra of ek sou belangstel om te sien hoe ons dit hier in Suid-Afrika kan aanpak. En ja, dit is tien jaar terug," vertel Elmarie.

Die kykers het gepraat en ons het geluister, want gedurende die tiende aflewering van die immergewilde reeks word boere van vorige seisoene besoek wat ’n pasmaat deur die reeks gevind het. "Daar is wel 'n boer en sy vrou wat op die reeks ontmoet het, wat nie graag verdere media wil doen nie. Dis Boer Ignus en Jean-Marie. Ek dink wat baie mense nie verstaan nie, is dat dit wel ’n publieke platform is waar die mense hulle metgeselle ontmoet, maar hulle wil nie noodwendig meer in die media wees nie. So ek dink dit verskil ook van ander realiteitsreekse waar jy ’n kompetisie of geld wen of wat jy iets groot daaruit kry. Hier is dit regtig om mense te ontmoet en dan moet ek hulle privaatheid respekteer as hulle nie verdere onderhoude wil doen of met die media wil gesels nie.”

KYK: Boer Soek ’n Vrou Eksklusief: Dis ’n ernstige besigheid

Wanneer dit kom by boere kies wat aan die reeks deelneem, rus die onus ook op Elmarie. Sy en die regisseur Stephanus Rabie gaan sien elkeen tussen 15 – 20 mense waar hulle na elkeen se plaas toe gaan. Daar voer hulle onderhoude met die boere en kyk hoe die plase lyk. “Ons is ’n baie, baie klein spannetjie. Dit is ek en iemand wat bestuur en ’n kamerapersoon, want 'n mens wil nie die eerste keer wat die mense jou ontmoet hulle oorweldig met kameras en klank en allerhande dinge nie.” Hulle kyk onder meer of die boer voor ’n kamera kan praat en dan berus die finale besluit by kykNET oor wie die tien boere vir die jaar sal wees.

"Ek sou sê grotendeels word die keuses gemaak op persoonlikhede."

LEES: Ontmoet die boere

Elmarie meen dat Boer Soek ’n Vrou van ander realiteitsreekse verskil omdat jy saam met elke deelnemer huis toe gaan. “Jou verhouding met daai mense is ongelooflik belangrik. Ons persoonlike lewens kan nie groter raak as dit wat met die boere aan die gang is nie.” 

KYK OOK: Boer Soek ’n Vrou Eksklusief: ‘Dis ’n benoude man gewees’

’n Vraag wat sy baie kry, is: hoekom werk daar meer paartjies sekere seisoene uit en ander seisoene is daar weer 'n droogte? “Daar is geen rede nie. As jy die regte persoon ontmoet dan gebeur dit. Jy moet twee mense hê wat reg is vir mekaar."

Skakel Donderdag om 20:00 in vir nog Boer Soek  ’n Vrou-episode. Volg ons op Facebook, Twitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.