Logo

Boer Soek ’n Vrou: Briewe vir die boere

Nuus
09 Oktober 2015
In vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou het aanbieder Nadia die boere se briewe by hulle afgelewer.
kn_boer8_ep2_hl_8_helen_web
In vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou het aanbieder Nadia die boere se briewe by hulle afgelewer. Die possakke het behoorlik gebult met briewe, foto’s, liefdesverklarings en geskenkies vir elke boer.

Christiaan het genoeg briewe ontvang om saam te gaan Kaap toe. Sy suster en vriend moes kom hand bysit om hom te help soek deur die briewe.

Ongelukkig het Gawie nie genoeg briewe ontvang om saam te gaan Kaap toe nie, maar is sy trouvrou se brief moontlik tussen al die ander? “Ek het baie gebid oor die saak en ek het gevra vir my vrou.”

Alhoewel Louwrens nie genoeg briewe ontvang nie, het hy tóg baie liefde om te gee. “Ek het myself belowe om deur elke brief te gaan en ek gaan regtig myself tyd gee om meisies te ontmoet en die regte een só daardeur te kry,” het hy gesê.

Daarna het Nadia die pad aangedurf Ficksburg toe om PJ se briewe by hom af te lewer. Sal PJ dalk ’n gelukkige dame se ridder op ’n swart perd wees? Hy is een van die top-5 boere wat genoeg briewe ontvang het om saam Kaap toe te gaan.

Diana se grootste vrees was dat sy niemand sal ontmoet nie. Ongelukkig het sy nie genoeg briewe ontvang om saam Kaap toe te gaan nie, maar het meer as genoeg kêrels wat by haar wil vlerksleep.

Derius is nie ’n boer wat glo in liefde met eerste oogopslag nie. Dalk kan een van die briewe sy voete onder hom uitslaan. Hy het genoeg briewe ontvang om saam te gaan Kaap toe.

Vir iemand wat al voorheen seergekry het, was hierdie ’n groot waagkans. ’n Paar dames wil baie graag Niel beter leer ken, en dus gaan hy saam Kaap toe.

Helen het nie genoeg briewe ontvang om saam te gaan Kaap toe nie. Helen het nog nooit vir ’n man gesê sy is lief vir hom nie, maar dalk is hierdie net die begin van iets wonderliks.

Ongelukkig het Michael nie genoeg briewe ontvang om saam te gaan Kaap toe nie, maar sy pot se deksel mag dalk net iewers in die possak weggesteek wees.

Dit is die eerste keer in Boer Soek ’n Vrou se geskiedenis wat ’n jonger boer die meeste briewe kry. Vanjaar is Ignus die boer wat die meeste briewe van al die ander boere ontvang het, en daarom gaan hy saam Kaap toe.

Volgende week ontmoet die top-5 boere dames vir blitsafsprake, en ons boere kies vyf dames elk wat hulle graag beter wil leer ken.

Die boere wat die minste briewe ontvang het tyd tot en met die reunie om enige van die mense wat vir hulle geskryf het te ontmoet en beter te leer ken. Die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het, het slegs een dag om tien briewe te kies van die mense wat hulle wil ontmoet.

Kyk Boer Soek ‘n Vrou, elke Donderdag om 20:30.