Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: Alles lyk van ver af heel gesond

Nuus
06 Junie 2023
Hier is wat jy kan verwag van die splinternuwe seisoen!
Binnelanders nuwe seisoen

Die splinternuwe seisoen van Binnelanders, wat op Maandag, 5 Junie 2023 afskop om 19:30 op kykNET (kanaal 144) en om 23:30 herhaal word, beloof om kykers vasgenael voor die kassie te hou – en die hartklop aansienlik op te jaag.

’n Swangerskap, naelbyt-reddingspoging, hartseer diagnose, onverwagte erfporsie, poging tot moord, huwelik en ander diep sake van die hart is ’n voorsmakie van wat kykers in dié opwindende nuwe seisoen te wagte kan wees.

Radamel (Cito) en Diego Hernandez (Matthew Dylan Roberts), twee karakters waarmee jy liewer nie swaarde wil kruis nie, hou ’n groot bedreiging in vir Steve (Clint Brink), Danny (Bradley Olivier) en Andrea (Bianca Amato).

’n Jong ma wat pas geboorte geskenk het, Jazzy (Stephanie Ndlovu), beland op die rand van die dood in Ongevalle. Maar haar baba is skoonveld… Om hierdie misterie op te los is geen maklike taak nie, soos Annelize (Cindy Swanepoel) en Jeremy (Craig Urbani) gou besef.

Conrad (Hykie Berg) se gesondheid beleef ’n terugslag waarmee Nicolette (Kate Roothman) hom behulpsaam kan wees, terwyl Tertius (Reynardt Hugo) en Tracy (Melinda Viljoen) se verhouding van krag tot krag gaan. Dis nou tot ’n eks dinge lelik deurmekaar kom krap. Uiteindelik is dit ’n toetsuitslag wat lewens onherroeplik sal verander…

Kykers ontmoet Liam se pragtige ma Birdy (Natasha Sutherland) en Karen doen alles in haar vermoë om haar guns te wen. Maar dis makliker gesê as gedaan… Intussen vind Dawid (Deon Lotz) uit hy het ’n dogter waarvan hy nooit geweet het nie – en sy is reg onder sy neus in Binneland!

Die opening van Louis (Germandt Geldenhuys), Tertius en Rian (Erik Holm) se nuwe restaurant is ’n reuse sukses, maar tandekry-probleme is daar genoeg van. Elise (Lindie Stander) is vas oortuig daarvan dat sy weet hoe om meer klante te lok…

Annetjie (Lorraine Burger) se katte sorg vir kaskenades waarvan Uys (Gerald Steyn) goed sal getuig, terwyl Chiron en Delia (Odelle de Wet) hard vry na dr. Steve Abrahams. Net toe Delia en Dawid dink dinge het goed uitgewerk, toe bars die bom behoorlik.

’n Gewilde Springbok-rugbyspeler word in Binneland opgeneem kort voor die Wêreldbeker en Naomi (Je-ani Swiegelaar) is in haar noppies (en baie senuweeagtig!) om hom te verpleeg. Nóg ’n pasiënt, ene Braam (Albert Maritz), dryf die verpleegpersoneel teen die mure uit – iemand moet asseblief tot hom deurdring!

Ella (Marlee van der Merwe) kry ’n pos as Ongevalledokter, maar ’n wolk hang oor haar kop. Haar tweelingsussie Marissa dien gevangenisstraf uit vir ’n vreeslike misdaad. Onrus voer nou die botoon en Binneland Stereo laat nie op hom wag nie…

Bets (Antoinette Kellermann) daag op om dinge met haar “Connie” reg te maak, maar ’n ernstige ongeluk ruk die mat onder almal se voete uit. Dis nou as dit ’n ongeluk was… Hoeveel genade, indien enige, gaan At Koster (Hans Strydom) dié keer hê?

Die nuwe seisoen van Binnelanders begin Maandag, 5 Junie 2023 om 19:30 op kykNET, kanaal 144.