Logo
kykNET_Bewonder_&_Bewaar_S2_Slim_BB
web uni tv guide

Bewonder & Bewaar Met Bonné De Bod

144NatuurPG13

"Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod" is terug met betowerende landskappe en natuur-avonture

Nuus
23 Februarie 2024
Bonné de Bod reis weer na afgeleë wildernisse om onder andere natuurbewaarders te ontmoet.
Bonne de Bod

Dis nie jou gewone 9-tot-5 nie – dis ’n roeping.

Die eerste seisoen van Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod het kykers en resensente gaande gehad. “Onmisbaar” (Rapport), “skouspelagtig” (Maroela Media), “inspirerend!” (Weg!) en “uitstaande reeks!” (News24) was van die kommentaar in die media.

Vanaf 24 Maart om 20:00 is dié reeks terug vir ’n tweede seisoen op kykNET (DStv-kanaal 144).

Bewonder & Bewaar is ’n natuurlewereeks waarin die geheimenisse en wonders van moeder aarde ontsluit word deur toegewyde navorsers, veeartse, bewaringswetenskaplikes en ander deskundiges. Die bekroonde televisie-aanbieder Bonné de Bod reis weer na afgeleë wildernisse om natuurbewaarders te ontmoet. Sy gee ook weer vooraanstaande wetenskaplikes die geleentheid om hul kennis en entoesiasme oor hulle onderskeie spesialisvelde te deel.

Diere in ongerepte gebiede is die primêre fokus, maar die navorsers se passie sal beslis ook kykers se hartsnare roer. Dis g’n gewone 9-to-5-werk vir hulle nie – dis ’n roeping. Die tweede seisoen sluit ook Engelse onderskrifte in.

Die bekroonde Brits-Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprentmaker Susan Scott is weer in die regisseurstoel. Die eerste dokumentêr wat Bonné en Susan saam gemaak het, STROOP – Journey into the Rhino Horn War, was ’n reuse-sukses wat by 40 filmfeeste vertoon is en 30 toekennings ingepalm het.

Die duo fokus op natuurbewaring en -waardering, en hulle het al op vyf kontinente inhoud vir hulle dokkies gaan haal. Hulle slaag gereeld daarin om toegang tot ongerepte wildernisgebiede te kry waar dit moeilik is om die natuur te verfilm, maar dis juis daarin waarin die eksotiese skoonheid van hul werk dikwels lê.

“Ek wil nie vergelykings maak nie, want al die mense wat ons ontmoet, die landskappe wat ons ervaar en die stories wat ons bevoorreg is om te vertel, maak hierdie reeks besonders en uniek,” sê Bonné.

“Maar die tweede seisoen sorg vir verskeie eerstes: ’n Amper naakte wetenskaplike wat soos Bobby van Jaarsveld lyk in die Namib-woestyn; die waarneming van wolwe in die Yellowstone Nasionale Park, die eerste nasionale park in die wêreld; en ’n baie naby ontmoeting met ’n grizzly-beer in die Grand Teton Nasionale Park. ’n Plaaslike hoogtepunt was om saam met SANParke se hoofvlieënier op ’n moeilike wildvang-ekspedisie te gaan terwyl hy ‘Oh, what a beautiful morning’ vir my sing.”

Bonné kan nie wag om kykers Sondagaande aan hierdie passievolle individue voor te stel nie. “Hulle inspireer en gee hoop in ’n tyd wanneer dit die nodigste is,” sê sy.

Susan Scott sê die tweede seisoen is dertien ware avontuurverhale uit die natuur. “Ek vind die konneksie tussen Bonné en almal met wie sy praat en hoe hulle hul passie met haar deel, altyd verstommend. Die afgelope paar jaar was moeilik, en om mense te ontmoet wat sulke waardevolle werk vir die planeet doen, is so inspirerend.”

Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod begin op 24 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.