Logo

ATKV Boeke-oase: ’n Fees op sy eie

Nuus
01 Oktober 2015
Die gratis diskoers- en boekprogram wat by die ATKV Boeke-oase op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees (6-10 Okt.) aangebied word, is van uitstaande gehalte.
Boeke Antjie
Die gratis diskoers- en boekprogram wat by die ATKV Boeke-oase op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees (6-10 Okt.) aangebied word, is van uitstaande gehalte.

Die boekprogram by die ATKV Boeke-oase, in Hoffmanstraat in Potchefstroom, bied ’n wye verskeidenheid gesprekke en voorlesings – die meerderheid oor boeke wat eers in die tweede helfte van die jaar uitgereik word. Dit wissel van prof. Willie Esterhuyse se Geagte Jahwe tot ’n gesprek met drie vroulike spanningsverhaalskrywers (Madelein Rust, Lien Roux-de Jager en Deborah Steinmair) wat almal vroue as hoofkarakters het wat die speurwerk doen. Op die lys is ook Rachelle Greeff (Die naaimasjien en ander stories), Juliana Coetzer (Bloedvreemd), Dana Snyman (In die blou kamp) en Amore Bekker (Hartstories).

Twee boeke wat opspraakwekkend gaan wees danksy die onthullende aard daarvan, is Carel van der Merwe se Donker stroom – Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog en Koos Stadler se Recce – Kleinspan-operasies agter vyandelike linies.

Onder die kosvaandel is gesprekke oor lekker kos en sondekos op die spyskaart. As jy wil hê jou mond moet water, kan jy nader staan vir Brekfis met Derrich en Adelie (’n boek met gunstelingresepte van Gardner en Ludik soos gehoor op Saterdae op RSG se Brekfis met Derrich). Diegene wat hul sondige verhouding met suiker en koolhidrate wil beëindig, moet kom luister na Karen Thomson, medeskrywer van Suikervry – 9 weke na vryheid van suiker- en koolhidraatverslawing.

34 boeke antjie


Deur die week word ’n skemeruurkuier aangebied (wat ’n gratis glas wyn insluit) met onderskeidelik Randall Wicomb (Dinsdag); Marlise Scheepers – ook bekend as Sjef Snoekie (Woensdag); Antjie Krog (Donderdag); en verskeie digters en die Buckfever Underground as deel van die gewilde Hardop (Vrydag).

Sedert André P. Brink se dood in Januarie is daar heelwat oor hom geskryf en hulde gebring. In André P. Brink – Op ’n ligter noot sal Gert van Niekerk en Franci Swanepoel voorlesings uit van sy werk doen, soos “Die dag van die pampoen” uit Parys-Parys: Retoer en ander prettighede uit onder meer Oom Kootjie Emmer.

Ruim ook tyd in om die boekwinkel te besoek, wat daagliks van 08:00 tot 19:00 oop gaan wees, of om ’n heerlike koffie en ligte maaltyd by die koffiewinkel in die binnehof te geniet.

Diskoers

Freek Robinson, aanbieder van die aktualiteitsprogram Robinson en ankeraanbieder van eNuus op kykNET, is die gespreksleier vir die Diskoers-reeks wat elke dag om 08:30 by die ATKV Boeke-oase begin.

Diskoers 1: “Gaan ’n blou golf die munisipale verkiesing tref?” is ’n indringende gesprek met die nuwe DA-leier, Mmusi Maimane.

Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu, en Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, is van die gaste by Diskoers 2: “Die vakbondwese in onstuimige vaarwater – is die vooruitsig vir die land redding of rampspoed?”

Diskoers 3: “Word moedertaal in skole vermoor of is net Afrikaans onder skoot?” se deelnemers sluit in dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), en dr. Michael le Cordeur, akademikus en direksielid van die Afrikaanse Taalraad.

Die reeks word die Vrydag afgesluit met Diskoers 4: “Jou monument en my museum. Het ons ’n gedeelde erfenis of is daar dele wat onherroeplik met apartheid besmet is?” waarin onder andere Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, en Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum, hul stemme sal dik maak.

DOSIS

Dan is daar ook ’n kunsuitstalling getiteld DOSIS, saamgestel deur Alex Hamilton. In hierdie uitstalling word daar daagliks ’n nuwe kulturele tema verken met ’n opwindende groep kunstenaars van regoor die land. Dus: #KunsVirAlmal.

Dag 1 (Dinsdag, 6 Oktober): Jou daaglikse brood 

Kunstenaars sluit onder meer in Paul Birchall, Michele Davidson, Juanette Smuts, Hennie Meyer en Lynda Kropman. Die betrokke kunstenaars ondersoek die rituele rondom ons daaglikse eetgewoontes, ons soettand-kultuur, teedrink en wat ons gunsteling-peuselhappies is.

34 kuns aardklop


Dag 2 (Woensdag, 7 Oktober): Jou daaglikse inspirasie  

Kunstenaars sluit in Christiaan Diedericks, Samuel Allerton, Mark Chapman, Joshua Miles, Jaco Sieberhagen, Corlie de Kock en ander. Hierdie uitstalling fokus op ons geestelike voeding. Daardie dinge, mense, diere, woorde en landskappe wat ons elke oggend uit die bed laat opstaan, ’n huppel in ons stap sit en ons harte warm laat klop.

Dag 3 (Donderdag, 8 Oktober): Jou daaglikse diva 

Kunstenaars sluit onder andere in Joubert Stander, Hannalie Taute, JP Meyer, Heike Davies, Corlie de Kock en Alex Hamilton. Verwag kuns wat handel oor die teater, die dramatiese divas van musiek en verskeie films. Die uitstalling vereer ook die sterk vroue in die Suid-Afrikaanse pop-kultuur, en vier die inspirerende invloed wat vroue het op ons samelewing.

Dag 4 (Vrydag, 9 Oktober): Jou daaglikse doodle

Kunstenaars sluit in Sarah Pratt, Juannette Smuts, Theo Paul Vorster, Andrew Sutherland, Michele Rolstone en JP Meyer. In hierdie uitstalling word illustrasie-, pen- en inkkuns betrek; met die fokus op lynwerk en tegnieke.

Dag 5 (Saterdag, 10 Oktober): Jou daaglikse boks

Kunstenaars sluit in Judy Woodbourne, Ella Cronjé, Hennie Meyer, Shany van den Berg, Cathy Brennon, Paul Berchall, Aidon Westcott, Terry Angelos en ander.

In hierdie verfrissende uitstalling word kuns aangebied in of op boksies, of as die boks self. Hierdie drie-dimensionele kunswerke bied ’n boeiende perspektief op kuns.

Klik hier vir die volledige program.