Logo
Diepe waters cast
web uni tv guide

Diepe Waters

144Drama13 VL

Diepe Waters: ’n Ongenooide gas, hartsbesluit, en pynvolle besef maak Karla se partytjie ’n fees van drama!

Nuus
08 Julie 2023
Lees meer!
Meghan Diepe Waters

Het iemand ’n lewensbootjie vir die Swarts-familie? Karla Swarts (Danielle Swanepoel) kon maar ’n pragtige 18de verjaardagspartytjie en lekker kuier met haar vriende verwag het, maar as jy familie soos sy het, moet jy altyd ’n swembad vol drama verwag in Diepe Waters.

Net toe Karla die beste geskenk kry van Arno (Jean Henry) en ’n pragtige toespraak van haar oupa Gys (Justin Strydom), stap Meghan (Lea Vivier) in die Swartshuis in en Jacques (Werner Coetser) sak amper in mekaar van skok.

Meghan het ’n paar weke gelede spoorloos verdwyn toe Jacques uitvind sy was van die begin af deel van Zelda se plan om sy pa te vernietig. Hy het dit vir ’n oomblik oorweeg om alles te los en saam met haar weg te hardloop, maar toe hy dié nuus hoor, het hy dadelik sy planne stopgesit. En boonop het hy ook vir sy pa vertel dat hy en Meghan heeltyd in ’n verhouding was. Nou daag sy op met groot nuus – sy is swanger en dis Jacques se kind! Of so sê sy, ons sal maar moet kyk wat die vaderskaptoets sê…

Gepraat van gemengde gevoelens en liefde – daardie geskenk wat Karla van Arno gekry het, was ’n soen waarvoor sy alankal gewag het. Sy het lank probeer om teen haar gevoelens vir Arno te veg, maar toe Arno opdaag by haar partytjie en vir haar sê hoe hy werklik oor haar voel, het alles verander. Sy het geweet dis wat sy wil hê en sy het die regte besluit gemaak toe sy met Tommie (Righard van Jaarsveld) opgebreek het.

Arno en Karla het saam ’n besluit geneem dat hul vir eers hul verhouding moet stilhou, want hulle weet Gys gaan alles in sy mag doen om dit stop te sit. Maar terwyl dié tweetjies dink hulle verhouding is nog net hulle geheim, sien Anja (Reandi Grey) vir hulle koer in die park. Hoe lank gaan Anja die waarheid vir Rossouw en Sanet wegsteek?

Asof Karla se nuwe verhouding nie genoeg stres veroorsaak vir Anja nie, sukkel sy steeds met haar emosies en gevoelens ná haar miskraam. Anja het baie skuldgevoelens rondom haar miskraam as gevolg van die aborsie wat sy moes kry 21 jaar gelede. Gys wat sy deel daarin gespeel het, het onverwags vir haar kom jammer sê, maar vir een of ander rede kan sy nie haarself vergewe nie.

En Meghan se swangerskapsnuus maak haar nou nie juis gelukkig nie. Inteendeel, dit vererger haar gevoelens, want hoe kan iemand só wreed ’n babatjie kry, maar sy kan nie? Boonop weet die familie nie eers of dit Jacques se babatjie is nie, maar dit traak Anja min. Sy wou so graag ’n babatjie met Rossouw hê en nou stap Meghan nonchalant in en verkondig dat sy swanger is.

Daar is ’n paar gebroke harte in Diepe Waters, maar nog soveel geheime wat uitgeduik moet word…

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op Catch Up.