Logo

‘Abraham’ vertel kunstenaar van Kannaland se storie

Nuus
11 September 2015
‘Abraham’, die jongste rolprent deur die legendariese filmmaker Jans Rautenbach, vertel die verhaal van Abraham – ’n kunstenaar en dromer van Kannaland in die vroëe 1980’s.
DSC_0036
“Sy droom is veel groter as die wêreld om hom.”

Abraham, die jongste rolprent deur die legendariese filmmaker Jans Rautenbach, vertel die verhaal van Abraham (vertolk deur DJ Mouton) – ’n kunstenaar en dromer van Kannaland in die vroëe 1980’s. Abraham is ’n toegewyde familieman wat sukkel om finansieel vir sy jong vrou, Katie (gespeel deur Chantell Phillipus), en hul vierjarige dogtertjie te voorsien.

34 dsc 0036


Abraham se kreatiewe deursettingsvermoë lei hom na sy weldoeners, Jong Jans (Hannes Muller) en sy vrou, Almeri (Franci Swanepoel). Abraham en Katie trek na ’n nuwe huis waar Abraham begin werk vir Jong Jans. Katie se worsteling met alkoholisme en haar geestesgesondheid bedreig egter die gesin se geluk. Abraham ondersteun sy vrou ten volle, maar sy ambisie maak hom onrustig. Abraham droom daarvan om bo sy omstandighede uit te styg en sy merk deur sy kuns te maak. Die ellendige werklikheid van sy situasie hou hom egter terug. Abraham is ’n tragiese dog inspirerende storie deurtrek met die musiek van Kannaland; ’n intieme, emosionele kyk-ervaring, geskryf, vertel en onder die regie van Jans Rautenbach.

34 dsc 4348


Rautenbach skryf:

“Die legende van Abraham word al vyf en dertig jaar lank oor en oor in Kannaland vertel… veral saans wanneer die laaste kole in die lag-en-huil-huisies teen die Swartberg se hange gloei, en die kinders teen ma en pa inkruip om nog ’n oupa-se-storie te luister.

“En gewoonlik in vertel, raak die wie en waar en hoekom van ’n verhaal met die jare half die spoor byster, maar nie hierdie storie nie, want sien daar hoog in die berg by Vlakteplaas waar mens die kliphuis se lig ver kan sien skyn, daar bly die oumense nog al die tyd by wie Abraham gedien het, en oom Jans sal kan sweer by elke woord wat ek sê, want hy vat nou self die einste Abraham bioskoop toe…

“Praat is maklik, maar hoe pen ek ’n opsomming in honderd woorde oor ’n legende wat my gedwing het om na dertig jaar se stilbly weer ’n fliek te maak? ’n Jong man wat my lewe ingedans het… en weer uitgedans het?

“Hoe skryf mens van ’n seninglyf wat baldadig op die spoorlyn huppel? Of ’n droom wat ’n vlam in ’n siel laat brand, wat niemand kan blus nie? Van twee hande wat deur die nag geroeste draad buig en droë sement tot klei bry om ’n hoenderhaan te maak… wat vandag nog in die berg kraai?

“Hoe getuig jy van ’n gesin in ’n eergisterhuisie onder die hemelsterre, wat roosterkoek eet en bitterkoffie drink asof hulle in ’n koningspaleis woon? Van ’n jong vrou se ewige soepele dans met ’n ridder op ’n helderbont luiperd, wat haar lewe met ongekende liefdesgaring deurvleg? Van ’n dogtertjie aan die nagmaalstafel wat haar vader se verfbevlekte Christusvingers troetel? Of haar eenbeen-, eenoog-flenterpop krampagtig klou as sy hom smekend agterna roep wanneer hy die vertes inloop?

“Hoe kan jy ’n kunstenaar se sukses meet? Deur sy oë die stofpad voor hom sien? Met sy neus karoobossie ruik na die eerste reën? Met sy stem die vreugde van skepping uitjubel wanneer sy leeubeeld op die koffietafel in meneer se sitkamer pronk? Sy hart hoor klop na hy deur die nag wag om sy olifant met die slimslurp te offer: “…ek het dit net vir jou gemaak, net vir jou.”?

“Hoe erken jy ’n talent wat die wolke invlieg? Die emosies van ’n jong vrou wie se dag, nag word? Wat haar liefde deur die vuur van hel sal laat loop…?

“Al wat ek kan, is fliekmaak. En so het ek en Gustav, Koos en Wendy trots en geesdriftig Abraham se jaar op Oulap omhul in ’n Josefskleed van kleur en klank, wye landskap, intieme vriendskap, polsend baljaar, en altyd sing… met Riku se meesleurende, varsblink musiek en liriek in geliefd Afrikaans.

“Ons het die beste van beste spelers gevind om met egte passie te vertolk… die familie in die kliphuis bo, die gesin in die hartbeeshuis onder, die ideale, vriendskappe, die lekker, die lag, die driftige skeppingskrag… die krismisvolstruis, weghol-springbok, skrophoenders, uitborshaan, vredesduif en altyd die arend wat hemelhoog wag…

“Ons het ons alles gegee dat Abraham voortleef… vir altyd.”

Abraham word op 16 Oktober in teaters uitgereik.

Met o.a. DJ Mouton, Hans Muller (jong Jans), Franci Swanepoel, Jan Rautenbach (ou Jans), Chantell Phillipus, Ashlene Hans, Jackie van den Heever en Jill Levenberg.

34 dsc 2232

34 dsc 0595

34 dsc 0410

34 dsc 0230

34 dsc 0088

34 dsc 0049



34 abraham poster 2