Logo

7 dinge wat jy moet weet oor die splinternuwe Toks & Tjops

Nuus
10 Februarie 2023
Die nuwe seisoen van Toks & Tjops spog met 'n paar nuwe gesigte, 'n splinternuwe temalied en meer!
Toks & Tjops

Welkom in die losie want TNT maak gereed vir die Rugby Wêreldbekerjaar. Die 12de seisoen van kykNET se unieke sport- en kletsprogram Toks & Tjops (TNT) skop af Vrydag 10 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144).

Die opwinding vier ’n hoogty soos TNT vere reg skud vir die Rugby Wêreldbekerjaar met ’n nuwe en vars voorkoms wat aanhangers behoorlik sal verras. Sedert 2011 bring Toks & Tjops weekliks die jongste rugbygebeure met plaaslike musiek in die ateljee en kos.

Hier is 7 dinge wat jy moet weet oor die nuwe Toks & Tjops:

1. Daar is ’n paar nuwe gesigte. Vanjaar begin Toks & Tjops met nog aanbieders wat by die span aansluit. Hamilton Wessels, Rika Nieuwoudt en Radio Raps sluit aan by Janina Oberholzer en Breyton Paulse as die nuwe aanbiederspan op die program. Hulle sal weekliks op roterende basis aan stuur van sake wees.

Hamilton Wessels is g’n vreemdeling op die kassie. Hamilton was die aanbieder van die kykNET musiekprogram Kom Ons Jol, die Wêreldbeker program In Japan, Ja wat hy saam met Vanes- Mari Du Toit aangebied het en skolerugby program VirsekerBeker. Hamilton, ook bekend as Hammie, is ook ’n kranige sanger soos sy broer, sanger Robbie Wessels.

Rika Nieuwoudt is mal oor alle sport. Sy het begin as aktrise in kykNET se gewilde sepie Binnelanders maar het eintlik ’n Meestersgraad in Finansiële Bestuur! Sy was ook voorheen te siene as mede-aanbieder van VirsekerBeker. Sy doen gereeld stemwerk en het ’n groot liefde vir die verhoog. As sy nie enige sport kyk of speel nie, is sy ’n dosent in finansiële bestuur. Daarby verkies sy ’n potjie golf om te ontspan.

Radio Raps het g’n voorstelling nodig. Rikus de Beer is ’n bekende komediant, sanger en akteur. Hy het verdere gewildheid verwerf as Jonathan van Radio Raps. “Ek dink daar is vars nuwe persoonlikhede wat baie na die tafel toe gaan bring en ek dink die kyker sal saam ons groei soos ons bande ook vorm,” sê hy.

2. Welkom in die Losie. Die 12de seisoen skop af met ’n splinternuwe stel. Dit sluit in drie skerms en ’n kroeg wat as die “losie” bekend sal staan. Oud-rugbytruie van Jean de Villiers en Breyton Paulse sal ook die teen die mure hang met spasie vir ’n gehoor tydens die regstreekse uitsending.

3. Temalied. Die nuwe temalied vir die program is geskryf en opgevoer deur die Afrikaanse sanger, Robbie Wessels.

4. Paneel van kenners. Die nuwe formaat van die program sluit ook ’n paneel wat deur aanbieder Breyton Paulse gelei word. Dit sluit in voormalige Springbok-kaptein Jean De Villiers, voormalige Springbokspeler Dr. Jannie du Plessis asook voormalige rugbyspeler en kommentator, Jonathan Mokuena.

5. Vaaitjie hou die kole warm. Toks & Tjops se ‘braai master’ Tommy Dickson, alombekend as Vaaitjie, sal steeds weekliks van die beste plaaslike braai geregte voorberei.

6. Meer interaktief. Die weeklikse gehoor in die ateljee sal meer betrek word deur die aanbieders en paneellede tydens die regstreekse uitsending. Die program sal ook vir die eerste keer voorspellings van wedstryde insluit.

7. Dinamiese span. Die vervaardiger van Toks & Tjops Liebie Opperman noem dat daar ’n dinamiese span aanboord is om steeds vir kykers elke Vrydagaand te vermaak: “Ons trek ’n nuwe baadjie aan, maar die hart van die program bly steeds dieselfde,” sê hy.

Toks & Tjops se 12de seisoen begin Vrydag 10 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).