Die Van Wyks van Een keer om die son is Dinsdag 20 Januarie terug op kykNET vir nog ’n omwenteling om die son. Hier is vyf redes om opgewonde te raak.
1. Dit was ’n reusetreffer in 2024, en die tweede seisoen beloof nog meer emosie en intrige, ’n skeut komedie en ’n drama eie aan ons land en sy mense. Die hoofrolspelers is almal terug in hulle rolle. Jacques Bessenger is dr. Ruan van Wyk, en die kinders word gespeel deur Liam Bosman (Markus), Alma van Heerden (Leandri) en Klara van Zyl (Sophia). Jana Kruger (Lani), wie se dood nog steeds nie deur Ruan en die kinders verwerk is nie, is weer te sien in terugflitse. Amé (Donnalee Roberts) is Ruan se jonger suster wie se huwelik in die eerste seisoen in die skeihof beland het. Albert Maritz is te sien as Sebastian, die afgetrede professor in insektekunde, en Joanie Combrink is Elma, die matriarg van die Van Wyks wat in seisoen 1 met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.
2. In die tweede seisoen het elkeen van die karakters hul eie uitdagings – nie net op die eerste dag van die jaar waar die seisoen afskop nie, maar ook in die res van die reeks van dertien episodes. Onder die uitdagings tel aanvaarding vind, tweede kanse aangryp, verslawing, lewensveranderende mediese probleme en elkeen se soeke na hulle plek in die familiekring.
3. ’n Nuwe karakter in seisoen 2 is Erika du Randt, ’n maatskaplike werker wie se loopbaan haar eerste en enigste liefde is. Die rol word deur Cindy Swanepoel vertolk. Reeds in die eerste episode van die nuwe seisoen kruis haar paaie met Ruan s’n. Is daar liefde in die lug?
4. Die wenspan agter Een keer om die son is Ivan Botha, Donnalee Roberts en die vervaardiger Danie Bester wat saam ook vir treffers soos Pad na jou hart, Vir altyd en Blindelings verantwoordelik was. Die reeks is deur Ivan, Donnalee, Liani Jansen van Rensburg, Maritsa van Eeden en Almero Welgemoed geskryf.
5. Die byspelers is ’n gedugte span. Karakters wat terugkeer, is Sebastian en Elma se goeie vriende Salie en Jan Wessels (Susanne Beyers en Pierre van Pletzen), Markus se dansmaat en meisie, Charlie (Simone Neethling), Leandri se kêrel, Xavier (Alex van Dyk), Lani se pa, Trevor de Kock (Deon Lotz), die verpleegsuster Karen (Isadora Verwey) en Sophia se maatjie Dougie (Johannes Jordaan). Charl Boshoff (Ivan Botha), Amé se kollega, speel ’n groter rol in die tweede seisoen. Die jong akteur Heinrich Wentzel, bekend vir sy rolle in Niggies en Die nuusmakers, speel Elijah Smith met wie Leandri se pad op ’n ongewone manier kruis. In die eerste episode van die tweede seisoen is Mandri Sutherland te sien as Niggie, ’n vrou op soek na liefde.
Die tweede seisoen van Een keer om die son begin op Dinsdag 20 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
