Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 Hoogtepunte in episode 9 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
26 Oktober 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nerens Noord Kaap – Episode 9

Die reën val neer en die vloed styg op


Wat is die rol wat water en/of reën in die Adendorffs se lewe speel? Frans (Geon Nel) het daarvan gedroom en dit lyk of Ronnie (Albert Pretorius) ’n angsaanval gekry het toe dit hard begin reën het. Het die wrak van die geel bakkie waarna Lourens (Arnold Swart) op die plaaswerf gekyk het iets daarmee te doen? Hoekom het die jonger Lourens (Gideon Lombard) net vir klein Frans (Thomi Swanepoel) en klein Andries (Johannes Jordaan) getroos en nie vir klein Ronnie (Lehan Swanepoel) nie?

*Die stuk musiek wat Katja (Tinarie van Wyk Loots) aan die begin speel en later ook deur klein Lourens op die klavier in die plaashuis gespeel word, is dieselfde stuk wat ou Lourens (Frank Opperman) gereeld op die platespeler luister. Die titel is “Le Cygne (Die Swaan)” en dit kom uit Camille Saint-Saëns se Karnaval van die Diere.

Die plaaskerk

Klein Lourens waag dit om na die kerk te gaan kyk waar Frans hom later kry. In ’n terugblik word dit bekend dat Katja die kerk gebou sodat Maggie en die ander werkers ’n kerk nader aan hulle het waarheen hulle kan gaan. Maar hoekom staan die kerk leeg?

“Jy gaan fine wees”


Suzette (Daneel van der Walt) gaan na die hospitaal en probeer Willem (Leo Geldenhuys) se ma, Zelma (Leanna Dreyer), oortuig om vir Lourens te bel om te sê die ongeluk was nie sy skuld nie. Sy oortuig wel vir Zelma om huis toe te gaan en sê sy sal by Willem sit. “Jy gaan wakker word en jy gaan fine wees,” sê sy vir Willem wat nog in ’n koma is. Intussen is klein Lourens hartseer vir verskeie redes: bekommernis oor Willem, die feit dat hy nie sy pa kan troos nie en dan stuur sy ma nog foto’s van hulle eilandvakansie om die sout verder in die wonde te vryf.

Grond


Andries (De Klerk Oelofse) word amper gevang met sy blikke grond, maar vertel ’n wit leuen dat dit die as is van sy familie. Daarna bel hy huistoe, maar praat net met Frans. Dit wil begin klink of Andries dalk op pad huis toe is, maar waar wil hy nog gaan voor hy die laaste rit aanpak? Grond kom ook ter sprake wanneer Chrissie (Bianca Flanders) vir Lourens (Frank Opperman) sê sy kan ’n kontrak opstel om die grond wat hy vir Jan-Jan gegee het wettig te maak. Lourens vererg homself egter en sê niemand weet meer wie die baas van die plaas is nie. 

Die liefde kom van ver af


Frans en Lorrie (Shana Mans) se gevoel vir mekaar kom nie van gister nie. Sy bring vir hom ’n pasteitjie – pepper steak soos hy daarvan hou – toe sy plaas toe kom, spot hom goediglik oor die geskenke wat hy vir haar aangedra het toe hulle jonger was en later onder die bome steek sy versigtig ’n hand uit om net aan hom te raak. Gaan die kaarte ooit reg vir dié twee val?

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.