Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 Hoogtepunte in episode 10 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
03 November 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nerens Noord Kaap – Episode 10

10 Januarie

Vir elkeen van die Adendorff-mans – van ou Lourens (Frank Opperman) tot die seuns – is 10 Januarie ’n dag wat ingeprent is in hulle geheue; die dag van Katja (Tinarie van Wyk Loots) se dood. Elkeen hanteer dit anders. Lourens sit blomme op die ruit van die wrak van die bakkie, Frans (Geon Nel) verdrink sy sorge, Ronnie (Albert Pretorius) dra duidelik ’n skuldlas en Andries (De Klerk Oelofse) stuur soos ouds vir sy ma ’n boodskap wat hy verbrand en vir die wind blaas.

Ronnie en die reën

In episode 9 het Ronnie ’n angsaanval gekry toe daar ’n reënbui uitgesak het tydens sy en Tappies (Ludwig Binge) se voorlegging by die ouetehuis. In episode 10 wys dit hoe hy as jong seun (jong Ronnie word gespeel deur Lehan Swanepoel) ’n amperse voorgevoel gehad het toe die stormwolke begin saampak het. Ronnie maak later oop teenoor Suzette (Daneel van der Walt) en hoewel hy nie presies vertel wat gebeur het nie, probeer sy hom troos deur te sê sy ma se dood is nie sy skuld is nie.

Oupa en kleinseun

Ou Lourens maak vir klein Lourens (Arnold Swart) wakker en neem hom na sy ouma se graf toe. “Ek sukkel bietjie om met jou te praat want jy laat my so baie aan haar dink,” erken ou Lourens teenoor sy kleinseun. Hy gee vir hom die kamerasak wat hy vir Katja gemaak het en klein Lourens gebruik dit om die kleimannetjies wat hy maak in te dra. Later gaan sit hy drie – een elk vir Frans, Ronnie en Andries – op sy ouma se graf. Tydens ’n gesprek met sy ma, Shannon (Natalie Robbie), en later met sy pa, sê hy hy wil nog op die plaas bly.

Katja wou altyd help

Ons het meer oor Katja te wete gekom. “Jou ouma het omgegee oor alles en almal,” sê ou Lourens vir klein Lourens. Die aand van die groot storm het sy gery om komberse, kos en flitse vir die werkers op die plaas te neem, maar daar was ’n ongeluk. Waarvoor het sy geskrik wat haar beheer oor die bakkie laat verloor het?

Lorrie en Frans

Frans (Geon Nel) het vir Lorrie (Shana Mans) gesê hy sal saam met haar gaan wanneer sy haar ma, Breggie (Joanie Combrink), by die tehuis in Vrendedal gaan aflaai. Maar hy is nog besope van die vorige aand se gedrink en lê amper die hele tyd agter in haar bakkie en slaap. “Vandag gaan altyd ’n gat in sy almanak wees, want dis soos hy dit wil hê,” sê Maggie (Ilse Klink) later vir Lorrie.

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.