Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 Hoogtepunte in episode 4 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
21 September 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nêrens, Noord-Kaap – Episode 4

Wat het gebeur?
In die derde episode het Katja se grafsteen bevestig dat sy in 1998 oorlede is. Haar begrafnis aan die begin van die vierde episode is uiteraard hartseer vir Lourens, die seuns en Maggie, maar laat ook ’n paar vrae. Hoekom is die lens van die kamera wat klein Andries vashou gekraak? En hoekom is Ronnie se arm in ’n gips en het hy skrape op sy gesig? Het hierdie twee dinge iets met Katja se dood te doen?

Die begrafnistonele is by die indrukwekkende NG Kerk in Nieuwoudtville verfilm. Die kerk is van Tafelberg-steenklip gebou en die traliewerk by die galerye is van gietyster wat uit Skotland ingevoer is vervaardig. Bataafse-teëls is vir die portaal gebruik. Die hoeksteen is op 2 Februarie 1906 gelê en die kerk is op 21 April 1907 ingewy.

Broederskap
Die verhouding wat die broers met mekaar het, kom meer as een keer ter sprake. Daar is Jan-Jan (Dean Balie) wat vir Frans (Geon Nel) vra of hy nie sy broers mis nie en Frans nie die vraag antwoord oor wanneer laas hy met Andries gepraat het nie. Later sê Suzette (Daneel van der Walt ) sonder omhaal vir Ronnie (Albert Pretorius): “Bel jou donnerse boeties, Ronnie”. Daar is effense lig in die tonnel wanneer Frans vir Ronnie sê hy sal in die Kaap by hom kom kuier.

Fleur se vraag
Wanneer Fleur (Melissa Willering) vir Andries (De Klerk Oelofse) vra wanneer hy laas by die huis was, het Andries haar glad nie geantwoord nie. Is sy die een wat hom dalk weer sy voete in die Noord-Kaap sal laat sit?

Maggie/Magriet
“Wel daai niks is vol woorde,” sê Maggie (Ilse Klink) vir Jan-Jan toe hy haar aankyk terwyl sy, met haar voorskoot en kopdoek, stof uit ’n mat slaan. Later, met hulle gesprek om die kombuistafel, verstaan jy beter wat Katja vir Maggie beteken het en watter invloed sy op haar lewe gehad het. “Sy het iets saam met haar van oorsee gebring en dit die hele plaas vol geplant,” sê Maggie van Katja. Maar jy besef ook watter pligsbesef Maggie teenoor Katja het; haar belofte dat sy na Lourens en die seuns sal kyk. Sy maak haar hart verder oop wanneer sy sê: “En elke nag as ek klaar gewerk het, op die einde van die dag, as ek hierdie voorskoot langs hare ophang, is ek Magriet - ouma en ma.”

Katja en die seuns
Elkeen van die seuns het ’n eiesoortige verhouding met Katja gehad. In Frans, haar maan-kind, het sy die nuuskierigheid gesien oor die wetenskap. Ronnie, die middelkind, was haar ridder wat sy geleer het om met naald en gare te werk. Klein Andries was haar reisiger wat sy aangemoedig het om die wêreld te gaan verken. Wat dra Andries so in die blikke rond?

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.