Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

13 vinnige vrae met Pietie Beyers – Getroud met rugby

Nuus
14 Oktober 2021
Pietie Beyers vertolk die rol van Nico Kleinhans in Getroud met rugby.
Article Image

Jy vertolk die rol van Nico Kleinhans, ’n boer van Heidelberg wat sy verlore liefde, Lulu (Ansu Visser) in Johannesburg kom opsoek. Vertel ons meer van Nico. Is hy ’n gawe ou? Gaan kykers van hom hou?

Gaaf? Ja. Gaan kykers van hom hou? Ek hoop so! Foutloos? Beslis nie!! 

Verskil jy en Nico baie, of is daar ooreenkomste tussen julle? 

Ek dink Nico is soortgelyk aan die persoon in wie ek ontwikkel het. Ek is van nature nogal ’n “people pleaser” en ek dink Nico skroom minder vir wat vir hom reg voel. Ek en Nico deel maar ’n geneigdheid tot jaloesie - iets wat ek al vir 33 jaar probeer afleer. Ek glo mens word beter!

Hoe voel Nico oor Anja (Lulu se baba) en Simon (David Louw) se rolle in haar lewe? 

Dit sal wel bekend word, maar vir nou kan ek sê: ’n mens moet soms maar bedreiging met diplomasie probeer bestuur. 

Gee vir ons ’n voorsmakie – lê daar ’n toekoms vir Nico en Lulu voor? 

Ek hoop so! 

Hoe was dit om op die stel van Getroud met Rugby te werk? 

Heerlik. Dis een van die warmste, mees verwelkomende stelle waarop ek al gewerk het. Ego's is min en gees volop. Ek het baie op vorige werkservaringe geleer en dis lekker om ervaring te kan toepas. 

Het daar iets snaaks/onvergeetlik op stel gebeur wat jy altyd sal onthou? 

Ek en Ansu moes eendag met twee lewende babas op stel werk. Ek is nie natuurlik aangelê om met kinders jonger as tien (of babas) te connect nie. Ek het nog baie om van kleintjies te leer. Die babas het lekker geskree - ek dink hulle kon my lomp-ongemak aanvoel! 

Hoe is dit om teenoor Ansu te speel? 

Great. Sy's baie talentvol en sy vertrou haarself. Ek leer by haar vertroue oor hoe om in die oomblik te wees aangesien ek tonele (dinge en die lewe inkluis!) nogal kan oordink.

Wie is jou gunstelingkarakter in Getroud met Rugby en hoekom?

Daar's baie, maar ek geniet op hierdie stadium vir Nesie vreeslik baie. Ons het tonele saam en sy laat ’n mens vreeslik lekker lag. 

Getroud met Rugby is nie jou eerste sepie nie. Wat verkies jy – sepies, reekse of films? 

Ek verkies die projek waarmee ek tans besig is. Dit klink soos ’n cliché, maar ek probeer om elke geleentheid vir wat dit is, te geniet.

Vertel ons meer van jou potgooi So Loop Hy Maar. Hoe het dit ontstaan en wat behels dit?

So Loop Hy Maar trek nou by 78 episodes wat ’n mens op enige potgooi-platform kan vind. My Instagram se biografie het ’n skakel na die 'menu'. Ek en my prokureursvriend, Niel Kidd, gesels met mense wat buitengewone dinge doen. Dis ’n huis vir weerloosheid en waarheid. Ons gesels diep, vlak, en altyd respekvol en opbouend. 

Freddie Prinze het selfs ’n “shoutout” oor die potgooi gedoen. Hoe het dit gebeur?

Haha, ja! Dit was Niel se blink idee dat ons hom via ’n platform kontak. Toe hy na ons toe terugkom en dis werklik hý, kon ons dit byna nie glo nie! 

Jy en Anneke Weideman het vroeër vanjaar verloof geraak. Het julle al ’n troudatum?

Nog geen datum bevestig nie, maar ons kyk tans na venues! 

Wat lê nog vir Pietie voor?

Hopelik vrede, betekenisvolle verhoudings & ervaringe, werk, vooruitgang en ’n lewe saam met die persoon wat my liefhet en help groei. 

 

Skakel weeksaande om 18:00 in vir Getroud met rugby vir die drama wat van die sportgronde af plaasvind...