Headspace
14 Desember om 20:00
’n Opwindende Suid-Afrikaanse animasieprent oor ruimtewesens wat vir die eerste keer in Afrikaans oorgeklank is. ’n Groep ruimtewesens is vasgevang in die brein van ’n tienerseun. Hulle span sy hulp in om die aarde te red van Zolthard, ’n interplanetêre skurk wat die skoolhoof se brein gyselaar hou.
Alleen vir Kersfees
17 Desember om 20:00
’n Werkverslaafde vrou wat haar Kersgees verloor het, word vasgekeer saam met ’n man wat heel Kersfeesbedot is. Sy moet haar verlede konfronteer om weer die magic van Kersfees – en die lewe – te vind. Met Amalia Uys en David Viviers.
Kersfees by Molly en Wors
21 Desember om 20:00
Molly en Wors sukkel met hulle leë nes, maar kort voor Kersfees kom kuier Blapsie met haar man en kind. Vaatjie, wat die vorige jaar geskei is, besluit om ook by sy ouers te kom afpak. Skielik is die Visagie-huis vol mense, en die voorbereiding vir Kersfees word ’n riller. Om alles erger te maak word Molly en Blapsie die dag voor Kersfees vir winkeldiefstal in hegtenis geneem. Met Lizz Meiring, Willie Esterhuizen, Karen Retief, Carien Botha, Gerhard Odendaal en Hannelie Warren.
Skaapboud of potjie
24 Desember om 20:00
Dis die Swanepoel-gesin se laaste Kersfees in Suid-Afrika voor hulle na Kanada emigreer. Elma, die oudste dogter, het hoë verwagtinge vir die familievakansie. Hendré, haar jonger broer, sien uit om sy nuwe meisie aan almal voor te stel. Groot is die kinders se skok toe hulle egter uitvind hulle ouers is van bed en tafel geskei. Met Erica Wessels, David Louw, Hélène Truter, Albert Maritz en Viljé Maritz.
Miskien, ja
31 Desember om 20:00
Wian beplan ’n geheime Oujaarsaand-verlowing vir Anja by die plek waar hulle ontmoet het, maar dinge loop lelik skeef. Kan hulle die aand én hul liefde red? Met Izel Bezuidenhout en Dwayne Vorster.
Sprokie in die platteland
7 Januarie om 20:00
Lienke se ma wou altyd gehad het sy moet terugkom platteland toe, en ná ’n verhouding wat nêrens gaan nie en ’n kruispad in haar loopbaan, stem sy in om tydelik kuns te kom gee by dieselfde laerskool waar sy self op die skoolbanke was. Sy kry egter ’n onaangename verrassing toe sy uitvind dat Ruan, die bure se seun wat haar hart op hoërskool gebreek het, nou een van haar nuwe kollegas is. Met Marguerite van Eeden, Sean-Marco Vorster, Marciel Hopkins en Zak Hendriks.
- Stroom jou gunsteling feestyd-inhoud op kykNET, DStv kanaal 144.





