Logo

Barakat – بركات

Nuus
29 Julie 2020
Van die Arabies “barakah”, wat “seën” beteken.
0090255

In die Kaaps-Maleierkultuur is ’n barakat ’n papiersak gevul met koeke, vrugte en lekkergoed wat aan vriende en bure uitgedeel word.

Hoe beweeg ’n familie na die dood van ’n vader aan? Dit is die vraag wat die kern vorm van Suid-Afrika se eerste Moslem-rolprent in Afrikaans.

Die rolprent wat na verwagting in Mei 2021 vrygestel sal word, is deur Amy Jephta geregisseer en deur Ephraim Gordon vervaardig – albei medestigters van die produksiemaatskappy, PaperJet Films.

Die weduwee Aisha Davids, probeer om die vrede tussen haar vier seuns te bewaar, wat sukkel om die dood van hulle pa twee jaar gelede te verwerk. Zunaid, Zaid, Yaseen en Nur keer na die familiewoning terug om Eid-ul-Fitr (of Labarang soos wat dit in Kaapstad genoem word) te vier – ’n viering wat die einde van die maandlange  sonsopkoms-tot-sonsondergang-vas vir Ramadaan beteken. Die seuns het nog nie vrede met hulle pa se dood en die leemte wat hy agtergelaat het, gemaak nie. Hulle onverwerkte pyn kom die duidelikste tot uiting in die konstante familiekonflik, wat hulle ma baie hartseer maak omdat sy probeer om met haar lewe voort te gaan.

Barakat, ’n Arabiese woord wat “seën” beteken, is ’n storie oor die viering van die lewe, van kultuur en die belangrikheid van familie.

Die veteraanaktrise, Vinette Ebrahim, speel die rol van die matriarg, Aisha Davids, terwyl haar vier seuns deur Joey Rasdien, Mortimer Williams, Keeno-Lee Hector en Danny Ross gespeel word. Die rolverdeling sluit ook Quanita Adams, Bonnie Mbuli, Leslie Fong en June van Merch in.

Barakat is in Lansdowne en Athlone op die Kaapse Vlakte geskiet en die plaaslike gemeenskap sowel as die plaaslike moskee is ook in die prent te siene. Die etos van die storie het na die produksiespan, waarvan baie self Moslem is, deurgesyfer. Om die tradisie van Jumu’ah, ’n gebed wat Moslems elke Vrydag by byeenkomste opsê, te respekteer, het geen verfilming op Vrydae plaasgevind nie. Dit was vir die filmmakers belangrik om die Kaaps-Maleier-tradisies en -kultuur tydens die skiet van die rolprent te respekteer.

Die skrywer-vervaardigingspan, Amy Jephta en Ephraim Gordon, was ook vir die draaiboek verantwoordelik. Hulle het in 2017 by Suid-Afrika se kykNET-Silwerskermfees met hulle kortfilm, Soldaat, hul debuut gemaak, waarvoor hulle pryse vir die beste draaiboek en beste kortfilm ingepalm het.

Jephta, ’n gevierde teaterpraktisyn, -regisseur en -skrywer, het ook die draaiboek geskryf van Suid-Afrika se 2018 Golden Globes-voorlegging vir Buitelandese Rolprent, Ellen: The Story of Ellen Pakkies. Jephta is in 2019 aangewys as Standard Bank se Jong Kunstenaar van die Jaar vir Teater.  Die akteur en regisseur Gordon, het in Nosipho Dumisa se hoogaangeskrewe 2018-debuut, Number 37, gespeel – ’n prent wat geskiedenis gemaak het met sy première by SXSW.

Deur middel van PaperJet Films wil Jephta en Gordon graag stories vertel wat die narratiewe van die Kaapse Vlakte in Suid-Afrika verander en die fokus weg van die geweld, waarmee hierdie gemeenskappe dikwels geassosieer word, verskuif.

Vir beide filmmakers was dit belangrik om die Kaapse Moslem-gemeenskap in ’n positiewe lig uit te beeld. “Die Kaap is ’n smeltpot van kulture met ’n opwindende diversiteit van swart gemeenskappe en ons wou aan mense wys dat hulle ongeag hul geloof na die prent kan kyk en met trots kan sê: ‘dit is ons werklikheid’”, het Gordon opgemerk.

Kulturele kundiges, soos Abduragman Adams, Yazeed Kamaldien, Khalil Kathrada, Moeniel Jacobs, Jawaahier Petersen, Iman Isaacs en Ayesha Khatieb, wat uit ’n breë sektor van die plaaslike vermaaklikheidsbedryf afkomstig is, se hulp en advies is ingeroep om te verseker dat die draaiboek die kulturele en godsdienstige nuanses van die storie respekteer.

Hulle het dit vir Jephta en Gordon moontlik gemaak om die produksiefase van die rolprent met sensitiwiteit aan te pak – dit was een van die redes waarom Jephta haar eerste vollengterolprent se regie self behartig het terwyl Gordon vir die vervaardiging verantwoordelik was.

Hoewel die rolprent op die Davids-famile se drama fokus, lewer hierdie aangrypende, lewensegte verhaal heelwat lekkerlag-oomblikke op.

Gehore kan op verskeie mediaplatforms ingelig bly oor Barakat:

Facebook: Barakat The Movie

Instagram: @barakatmovie

Twitter: #BarakatMovie