Wat begin as subtiele veranderinge, ontwikkel vinnig tot ’n totale verskuiwing in sy identiteit, gedrag en wêreldbeskouing – alles aangevuur deur sy betrokkenheid by ’n aanlyn gemeenskap, die Willem Wolf-troep, wat streng, polariserende idees oor manlikheid en mag bevorder.
Volgens Ayden is Junior se fisiese en emosionele transformasie fyn beplan. “Dit behels ’n kombinasie van nuwe kenmerke soos hy wat daarop begin fokus om baie meer netjies, noukeurig en doelgerig te wees,” verduidelik hy. “Sy postuur is regop, amper asof hy dink hy is bo vroue verhewe, en selfs sy tempo – hoe hy praat en beweeg – is doelbewus stadiger.”
Hierdie veranderinge spruit uit Junior se nuwe oortuiging dat hy sy eie baas is, vry om te doen wat hy wil, wanneer hy wil – ’n siening wat direk gekoppel is aan sy herdefiniëring van manlikheid en sy uitkyk op vroue.
Die storielyn raak aan temas wat wêreldwyd gesprekke oor magsverhoudings en identiteit oorheers. “Aan die een kant is daar ’n teruggryp na konvensionele rolle waar die man as hoof van die huishouding gesien word; aan die ander kant, ’n groeiende strewe na gelyke magsverhoudings tussen mans en vroue,” sê Ayden. Junior se sielkundige kopskuif is egter diep persoonlik gemotiveer.
Sy bitterheid teenoor vroulike gesagsfigure spruit uit ’n traumatiese verlede: die dag toe sy ma, Hazel, sy pa, Ronnie, geskiet het. Junior glo sy ma – vir hom die toonbeeld van vroulikheid – het onbevoeg en onverskillig opgetree. “Dit was ’n vrou wat sy manlike rolmodel uit sy lewe verwyder het,” sê Ayden. “En daarvoor verwyt hy haar bitterlik.”
Namate sy oortuigings sterker word, begin Junior homself toenemend van sy gesin isoleer. Hy bou doelbewus ’n muur tussen hom en die mense naaste aan hom – hy gaan selfs so ver as om sy naam te verander. Die besluit is nie bloot simbolies nie. Dit is ook ’n poging om afstand van sy oupa JP te kry.
“Junior voel dat sy oupa, wat veronderstel is om die doelgerigte gesagsfiguur in die huis te wees, sy verantwoordelikheid versuim. Sy oupa kom vir hom onbekwaam voor as gevolg van besluite wat ontoereikend is.”
Junior sien dit as sy eie roeping om elke “verkeerde” besluit reg te stel – al kos dit hom sy identiteit en familieverhoudings.
Vir Ayden was die emosionele lading van hierdie storielyn intens. “Dis fassinerend hoe jou liggaam soms vergeet dis fiksie,” sê hy. “Die spanning sit fisies in jou. Junior dra swaar aan sy droefheid, en sy woede word ’n uitlaatklep – ongelukkig teenoor die verkeerde mense. Veral die tonele waarin Junior sy ma en oupa met kras taal toesnou, was uitdagend om te speel, aangesien dit wys hoe pyn, as dit onverwerk is, verdere skade aanrig.”
Ten spyte van die verwerping van sy familie, vind Junior ’n gevoel van behoort in sy aanlyn “broederskap”. Hy glo sy optrede is waardegedrewe, al is dit gegrond op omstrede waardes, en hy vereenselwig hom met jongmanne wat dieselfde dink en voel.
“Dit is ’n storielyn wat aandui hoe vatbaar kwesbare jongmanne is vir die verkeerde invloede. Hulle word deel van groepe wat vir hulle gesond voel, maar die effek daarvan lei tot onheilspellende gevolge.”
Ayden hoop die storielyn sal meer wees as bloot spannende kykstof. “Ons moet vir jongmense ’n veilige hawe by die huis skep – ’n ruimte waar hulle kan praat oor hul worstelinge sonder vrees of skuldgevoelens,” sê hy. “Om te luister en te probeer verstaan is ’n klein maar noodsaaklike tree vorentoe.”
Wat Junior se toekoms betref, laat Ayden dit doelbewus oop. Wat wel seker is, is dat Junior besig is om radikaal te verander en dat hierdie storielyn kykers uitdaag om nie net waar te neem nie, maar om krities te dink en gesprekke te voer oor identiteit, manlikheid en gevaarlike beïnvloeding aanlyn in ’n digitale era.
Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.




