web uni tv guide
web uni tv guide

Sê Jou Sê

145Geselsprogram18

Sê jou sê is terug: Die geselsprogram waar geen onderwerp taboe is nie

Nuus28 Januarie 2026
Die tonge gaan weer binnekort klap wanneer kykNET&kie (DStv-kanaal 145) se sesde seisoen van Sê jou sê op Sondag 2 Februarie afskop. Dié gewilde geselsprogram gaan nogmaals die kollig laat val op gewone mense se uitdagings, hartseer verhale en omstrede onderwerpe.
Sê jou sê

Dis weer die ervare aanbieder Aden Thomas wat kykers uitnooi om saam te luister, saam te dink en saam te praat oor kwessies wat Suid-Afrikaners werklik raak. In ’n wêreld waar sosiale media vinnig meedoënloos veroordeel, bly Sê jou sê een van die min platforms vir oop en eerlike gesprek met wedersydse respek. 

In die nuwe seisoen word daar nie geskroom om diep – en soms ook ongemaklike – temas aan te roer nie.



Seisoen 6 skop af met ’n alledaagse vraag: Is naming and shaming op sosiale media geregverdig of gevaarlik? Aden en sy gaste ondersoek die fyn lyn tussen mense verantwoordbaar hou en hulle in die openbaar verneder. 

Die nuwe seisoen gee, onder andere, ’n stem aan ouers van outistiese kinders wat voel hulle staan alleen en ontvang bitter min leiding en ondersteuning. 



Boelies in die werkplek, wat dikwels onsigbaar is, maar met hul gedrag verwoesting saai, word in een van die episodes ontbloot. Slagoffers vertel hoe dit hul selfbeeld en loopbane beïnvloed het.

’n Besonder aangrypende episode fokus op haweloosheid. Mense vertel hul eie lewensverhale – stories van verlies, oorlewing en menswaardigheid.

Die toenemende vrees rondom roof-en-gryp (smash and grab-voorvalle) en kapings kom ook onder die soeklig, en gaste deel hul traumatiese ervarings met kykers.



Daar is ook ’n episode oor geslagsgebaseerde geweld, met spesifieke fokus op seksuele aanranding. Ander moeilike onderwerpe, soos selfdood en depressie, word ook bespreek. 

Alledaagse dog hoogs emosionele kwessies, waaronder skoolfooie en beheerliggame tel, asook die groeiende probleem van aanlyn bedrog is nog gesprekke waarby kykers baat sal vind. Bedrogslagoffers se stories dien as waarskuwings én nuttige riglyne.



In elkeen van die episodes word daar nie net geluister nie, maar ook praktiese raad gedeel oor hoe om probleme raak te sien en ondersteuning te bied.

Vir Aden Thomas bly die kern van Sê jou sê onveranderd: “Soms hoef jy nie oplossings te hê nie – jy moet net luister. Wanneer mense voel hulle word gehoor, begin genesing.”

Sê jou sê begin Sondag 2 Februarie om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.